Mis eet slaap herhaal – Demi Lee Moore
Desember 28, 2018
Hittegolf – Franja du Plessis
Desember 28, 2018

Een van die heel gewildste genres van Afrikaanse musiek is sokkie-dansmusiek en ’n mens hoor dit soms ook by dansplekke wat nie altyd Afrikaanse musiek speel nie.

Een van Suid-Afrika se grootste platemaatskappye het die gewildheid daarvan besef en ’n reeks Grootste Afrikaanse sokkie-albums vrygestel. Die dertiende album in hierdie reeks is nou beskikbaar.

Die eerste snit op dié dubbele versameling is die titelsnit van Kurt Darren se mees onlangse album, “Laat die dansvloer brand”. Anders as Kurt is Theuns Jordaan nie noodwendig bekend vir hierdie tipe musiek nie, maar “Honger hart” is tog ’n liedjie waarop ’n mens sou kon dans. Juanita du Plessis het al ’n paar partytjieliedjies geskryf, maar “Tussen woorde”, een van haar grootste treffers, is deur Rudi Claase geskryf. “Roer jou voete” is een van Jak de Priester se grootste treffers, maar om een of ander rede is Touch of Class se weergawe ingesluit. Dit is nogtans baie goed. Elandré was een van die beste nuwe kunstenaars van 2018, en een van die snitte van sy debuutalbum, “Die tyd het ons geleer”, is ingesluit. “My lewe draai om jou”, gesing deur Bobby van Jaarsveld en Lika Berning, kom uit die rolprent Liefling, waarin hulle die hoofrolle gespeel het. Appel is die verhoognaam van die sanger en liedjieskrywer Christoph Kotze, en “Kom lê my neer” was een van sy eerste treffers.

Nadat Elizma Theron ’n tyd lank stil was, is sy terug met seker haar beste Afrikaanse album, Hierdie hart brand liefde. Hierdie album is vol potensiële treffers en “Jy voltooi” gaan een van die grootstes wees. Snotkop se musiek is hoofsaaklik op jonger luisteraars gemik, maar die woorde van “Woestersous” is eintlik baie gewaagd. Fatman, wie se regte naam Johan Brummer is, het jare gelede saam met Pieter Smith opgetree, maar sy deelname aan The Voice het hom onder die publiek se aandag gebring. “Boom baby” is die titelsnit van sy debuutalbum. Andriëtte was in 2007 die naaswenner van Idols en sy was tot dusver een van die suksesvolste voormalige deelnemers. “Vat my hoër” was die titelsnit van een van haar vorige albums. Karlien van Jaarsveld is een van daardie kunstenaars van wie jy baie hou of wat jy nie kan verdra nie. “Sing vir liefde” was nie net een van haar grootste treffers nie maar ook, veral as gevolg van die positiewe boodskap, een van haar bestes. Worsie Visser was een van Ricus Nel se musiekhelde en “Boesmanland” was die eerste treffer vanaf sy huldeblyk-CD wat hy verlede jaar vrygestel het. Refentse en Anton Goosen het saamgespan vir ’n keurspel van ’n paar van Anton se treffers en dis goed om te sien dat ’n opkomende kunstenaar saam met ’n legende werk. Steve Hofmeyr val ook in die legende-kategorie en een van sy vroeëre Afrikaanse treffers, “Ek weet jy weet”, is hier ingesluit. “Onthou jy om jonk” is die titelsnit van Juan Boucher se nuwe CD; ’n mens wonder net, soos hy op een van sy ander treffers sing, wat beteken dit? Brendan Peyper is een van die suksesvolste nuwe kunstenaars van die afgelope paar jaar, en “Twee is beter as een” is een van sy grootste treffers tot dusver. Riana Nel se musiek word nie noodwendig met die sokkie-dansvloer geassosieer nie, maar “Selfde bed” was tog ’n groot treffer. Die heel gepaste laaste snit op die eerste CD is “Laaste rondtes” van Die Heuwels Fantasties.

Die eerste snit op die tweede CD is “Nog net een keer”, die eerste enkelsnit van Manie Jackson se vorige CD. “Met jou klere aan” het met reg ’n baie groot treffer geword, en dit was die perfekte liedjie waarmee Leah haar loopbaan kon afskop. Dit is vrolik sonder om oppervlakkig te wees. Gerhard Steyn en Nadine het al meer as een keer saam gesing, maar terwyl “Rooi roos” ’n dialoog was, het hulle eindelik in die snit wat op hierdie album voorkom, “Ons2”, geharmonieer. Caroline-Grace is een van die kunstenaars wat aan The Voice deelgeneem het en sedertdien haar debuutalbum, Eindelose liefde, vrygestel het. Die titelsnit, wat ’n groot treffer geword het, is hier ingesluit.

4Werke is seker een van die suksesvolste Afrikaanse supergroepe tot nog toe; “Sê wat jy wil sê” was een van hul onlangse treffers. Een van 4Werke se lede, Liezel Pieters, het met Snotkop saamgespan vir “Nagskof-opskop”, en die feit dat hierdie snit nog nie ’n enkelsnit vanaf Liezel se album geword het nie, is ’n bewys dat dit ’n uitstekende album is. “Boobs, boude, bene” van Pieter Koen is een van twee snitte op hierdie versameling wat op géén CD hoort nie. Geen verdere kommentaar nie. Angel de Lange is een van die beste nuwe sangeresse op die Afrikaanse musiektoneel en haar bydrae tot hierdie versameling, “Poppedans”, is ’n hoogtepunt. “Hoogtevrees” was die titelsnit van Adam se vorige album; die verkeerde aksente op sekere lettergrepe is hinderlik. Monique Steyn se loopbaan het onlangs ’n nuwe rigting ingeslaan, en “Mosaïek” was die titelsnit van haar album wat verlede jaar vrygestel is.

Nog twee hoogtepunte is volgende. Ruan Josh en Franja du Plessis is twee van Juanita du Plessis se kinders en hul ma het die vrolike en positiewe snit, “Ek wil lewe”, geskryf. As daar een sangeres is wat regtig verdien om suksesvol te wees, nie net as gevolg van haar talent nie, maar ook haar persoonlikheid, is dit Cordelia. Sy het eindelik haar groot deurbraak gekry met haar nuwe album en “Lepel in die dak wegsteek” is een van ’n hele aantal snitte wat treffers gaan word. Rudi Claase is seker ons land se voorste liedjieskrywer, en hy en sy huidige sangmaat, Charné Hugo, het saamgespan vir “Slaan my asem weg”. Ampie du Preez het al verskeie musiekprojekte aangepak, onder meer saam met Sean Else en die krieketspeler AB de Villiers (ja, hy kan sing en kitaar speel), maar “Plain Jane” was seker sy grootste solotreffer tot dusver. Daar kon verskeie van die Campbells se treffers op hierdie album verskyn het, maar “Fanta en Cola” is die een wat hier voorkom.

Klipwerf-Orkes bestaan al byna vyftig jaar lank en is seker ons land se gewildste orkes. Hul bydrae tot dié versameling is hul weergawe van Ricardo Bornman se komposisie “Umfaan”. Hoekom Robbie Wessels se snit “Pieter van Zyl” ingesluit is, weet nugter. Daar is drie redes daarvoor: hy het Carike Keuzenkamp se treffer “Byeboerwa” vermink, hy vloek op hierdie snit en daarby vertel dit van iets wat in die eerste plek nooit moes gebeur het nie, naamlik ’n toeskouer wat ’n rugbyskeidsregter tydens ’n toetswedstryd platgeduik het. Dit het regtig gebeur. As daar een liedjie is wat onlosmaaklik met Jakkie Louw verbind word, is dit “Drie pikkewyne”. “Bazaruto” was die debuut-enkelsnit van die jong sanger Georic Lomas, wie se debuutalbum verlede jaar vrygestel is. Die laaste snit op die tweede CD is “Daai liedjie”, van nog ’n voormalige deelnemer aan The Voice, naamlik Vernon Barnard.

Hierdie tipe versameling bevat ’n groot verskeidenheid musiek wat iets vir almal bied. As jy van dansmusiek hou, kan jy hom gerus by jou versameling voeg.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!