Die grootste Afrikaanse sokkie 13
Desember 28, 2018
Liefdegenerasie – Refentse
Desember 28, 2018

Dit gebeur nie gereeld dat die kinders van ’n gewilde kunstenaar self sukses in die musiekbedryf behaal nie.

Een uitsondering is twee van Juanita du Plessis se kinders, Ruan (wat onder die naam Ruan Josh sing) en Franja. Nadat Franja se debuutalbum, My verhaal, omtrent twee jaar gelede vrygestel is, is sy terug met haar jongste album, Hittegolf.

Die eerste snit, “Musiek in my ore”, is haar eie komposisie, net soos elke ander snit op die album. Dit sê alreeds dat Franja ernstig is oor die musiekbedryf, want hoeveel vroulike kunstenaars kan sê dat hulle al ’n hele album opgeneem het met niks anders as oorspronklike komposisies daarop nie? “Somer” is ’n lekker snit wat ’n groot treffer behoort te word. Die volgende snit is die eerste enkelsnit, “Lag tot jy huil”. Die boodskap van dié liedjie is uiters positief en dis maklik om te verstaan hoekom dit so gewild is. Dit lyk asof sy haar ma se positiewe lewensingesteldheid geërf het; hierdie liedjie sal enigiemand wat moedeloos is, anders na die lewe laat kyk. In “Aanhou klop” sing sy van iemand wat vasberade is om tot iemand deur te dring. “Lippe lees” is nog ’n lekker snit wat ’n treffer behoort te word. In “Sakke sout” sing sy van die dinge wat die meeste in ’n verhouding of huwelik saakmaak. “Jy’s die lig” is ’n bewys dat Franja ook ’n rustige snit kan skryf en sing. Dit is seker die mooiste snit op die album en daarom behoort dit ’n treffer te word. Die titelsnit is nog ’n baie goeie snit wat radiolugtyd verdien. “Girls night” is ’n Afrikaanse snit ten spyte van die titel; veral haar jonger aanhangers sal hiervan hou! “Kom ons dans” is nog ’n lekker snit wat veral by jonger luisteraars byval sal vind. In “Toktokkie” sing sy van ’n man wat haar aan ’n lyntjie hou.  “Nie meer hier nie” is die laaste snit, en hierin sing sy van iemand na wie sy verlang, maar wat sy nie kan aanvaar nie meer deel van haar lewe is nie.

As enigiemand nog twyfel of daar ’n plek vir Franja in die musiekbedryf is, hoef hulle net na hierdie album te luister. Die feit dat sy elke snit op die album geskryf het, vertel sy eie storie, en dis goed om te sien dat sy wegbly van die “nonsens-lirieke” wat so kenmerkend van sommige van haar ma se treffers is. Franja is reeds besig om haar eie stempel op die musiekbedryf af te druk, en sy gaan nog baie gewild word!

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!