The country collection – Steve Hofmeyr
Desember 27, 2018
Die grootste Afrikaanse sokkie 13
Desember 28, 2018

Daar was al verskeie werklikheidsprogramme op televisie waarin daar gesoek is na nuwe talent in die musiekbedryf.

Een van Suid-Afrika se grootste CD-maatskappye het vroeër vanjaar ’n werklikheidsprogram getiteld Die kontrak op VIA TV uitgesaai en nadat agt deelnemers gekies is om aan die televisie-ronde deel te neem, was daar op die ou einde een wenner wat onder meer ’n CD-kontrak van R 1 miljoen losgeslaan het.

Demi Lee Moore was nie ’n vreemdeling toe sy aan Die kontrak deelgeneem het en op die ou einde as wenner aangewys is nie. Sy het ’n paar jaar gelede baie goed gevaar as deelnemer aan Idols, maar hoewel sy net so wel kon gewen het, het die profiel van dié program tot so ’n mate verander dat dit nie gebeur het nie. Sy het ook sedertdien twee snitte opgeneem, en daarom het sy ’n voordeel gehad deurdat sy presies geweet het wat in die musiekbedryf gebeur.

Haar oorwinning in Die kontrak het daartoe gelei dat haar debuutalbum, Mis eet slaap herhaal, op die vooraand van die reeks Afrikaans is Groot-konserte vrygestel is. Dié album bevat die liedjies wat sy deur die loop van Die Kontrak gesing het, asook ’n aantal nuwes. Die titelsnit is ’n komposisie van Johan Oberholzer en het besliste trefferpotensiaal. Dit verwoord die hartseer van ’n mislukte verhouding baie goed. “Vulkaan” is nog ’n baie goeie oorspronklike komposisie van Johan Oberholzer, en veral haar lae register op hierdie snit klink baie goed. “Lelie” is een van die beste oorspronklike snitte op die album. Dit kon maklik sentimenteel gewees het, maar gelukkig is dit nie. Die eerste liedjie wat sy tydens Die kontrak gesing het, en op die album ingesluit is, is Elvis Blue se treffer “Spore”; haar weergawe is net so goed soos die oorspronklike een. Een van die grootste verrassings op die album is haar uitstekende weergawe van Appel se treffer “Lei my na die water”. Die een legendariese Afrikaanse liedjie wat sy ingesluit het, was Sias Reinecke se treffer “Sproetjies”. Hoewel Gert van Tonder, Sias se destydse sangmaat in Groep Twee, die woorde geskryf het, was dit eintlik nog altyd beter dat ’n sangeres dit opneem. Demi Lee se weergawe is uitstekend. Die musikale verwerking is ook ’n bewys dat eenvoud soms die beste is, en dat dit nie altyd nodig is om ’n volle orkes as begeleiding te gebruik nie.

As daar één oorspronklike snit is wat beslis ’n treffer móét wees, is dit “Ek is hier”, weer eens ’n komposisie van Johan Oberholzer. Dit moet sommer die tweede enkelsnit vanaf die album wees. Soms gebeur dit dat ’n internasionale treffer eers in Suid-Afrika gewild word nadat ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar dit opgeneem het. Dit is presies wat met die sangeres Cam se treffer “Diane” gebeur; Demi Lee het dit op Die kontrak saam met haar mentor, Monique Steyn, gesing. Die reaksie wat só positief dat die oorspronklike weergawe ook nou op die speellyste van ’n aantal radiostasies is. Dit was die perfekte liedjiekeuse vir Demi Lee en Monique; hulle het die gehoor en kykers aan ’n skitterende liedjie bekendgestel! Bobby van Jaarsveld was een van die aanbieders van Die kontrak, en hy het baie goeie dinge oor Demi Lee se weergawe van sy treffer, “My alles”, te sê gehad. Die laaste Afrikaanse liedjie op die album is ’n baie goeie weergawe van Vaughan Gardiner se treffer “Gooi jou arms om my”. Die hoogtepunt vanaf die album is die heel laaste snit. Die regisseur van Afrikaans is Groot, Barry Pretorius, het erken dat Demi Lee se weergawe van Queen se treffer “Somebody to love” sy asem weggeslaan het. Dis dalk beter om nie Barry se presiese woorde hier aan te haal nie. Die weergawe wat in Die kontrak gehoor kon word, is hier ingesluit.

Demi Lee het sonder twyfel verdien om as die wenner van Die kontrak aangewys te word. Sy het alles wat nodig is om ’n sukses te wees; sy is baie aantreklik, sy het ’n baie goeie stem en haar verhoogpersoonlikheid is uitstekend. Sy is ’n bewys dat harde werk en deursettingsvermoë vrugte afwerp, Sy gaan een van ons land se suksesvolste kunstenaars word, en ’n mens sien uit na ’n album met al hoe meer nuwe en oorspronklike liedjies in die nabye toekoms. Intussen is hierdie album absoluut die moeite werd!

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!