Liefdegenerasie – Refentse
Desember 28, 2018
Nuutgemaak – Du Preez Stoltz
Desember 28, 2018

In die 1980’s en 1990’s was Manuel Escórcio een van die gewildste kunstenaars op die Suid-Afrikaanse musiektoneel, veral omdat hy die vermoë het om ligte en ernstige musiek te sing.

Hy het nie net verskeie treffers as solokunstenaar gehad nie, maar ook duetalbums saam met Janita Claassen en Rina Hugo opgeneem. Manuel het lank laas nuwe musiek vrygestel, maar een van sy vorige albums, wat oorspronklik op langspeelplaat verskyn het, is pas heruitgereik. Daarmee saam het hy ’n toekenning vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek by die FAK ontvang.

Manuel het die album Hartsnare, wat uit Afrikaanse kunsliedere bestaan het, jare gelede saam met ’n simfonieorkes opgeneem en hierdie album is pas vir die eerste keer op CD uitgereik, maar onder die titel My land my lied. Die eerste snit, “Salut d’amour”, is ’n gedig van AG Visser wat deur S le Roux Marais getoonset is. “Lied van die wonderboom” is nog ’n samewerking tussen Visser en Marais, maar dalk minder bekend. “Op my ou ramkietjie” is een van die meer bekende Afrikaanse toonsettings; dit is oorspronklik gewild gemaak deur Dawie Couzyn. Dit is een van die gewildste toonsettings van ’n Afrikaanse gedig tot dusver, en Jan Bouws se toonsetting is al opgeneem deur kunstenaars soos Mimi Coertse, Dozi en selfs Ivan Rebroff. “Ou Magjaar” se liedjie is geskryf deur Eitemal, wat ook bekendheid verwerf het vir “Bootjie na Kammaland” en “Die lied van jong Suid-Afrika”. Mimi Coertse het dit ook op haar album Mimi Coertse en die Afrikaanse lied, wat in 1979 ter viering van die 50ste bestaansjaar van die FAK uitgereik is, ingesluit. “Huisies”, geskryf deur Tienjie du Toit en G. Beasley is een van die minder bekende snitte op die album. “Kom dans Klaradyn” is seker een van die bekendste Afrikaanse kunsliedere; die woorde is geskryf deur dr. CF Visser, beter bekend as Vader Visser, die stigter van Die Voortrekkers. S le Roux Marais, wat ’n groot bydrae tot die Afrikaanse kunslied, maar ook Christelike musiek gelewer het, het dit getoonset. Dirk Mostert het die woorde vir “Sluimer beminde” geskryf; weer eens het S le Roux Marais dit getoonset. Hoewel baie Afrikaanse liedjies as volksliedjies beskou word, is dit nie altyd volkseie nie. Een daarvan is “Taraboemdery”, met woorde geskryf deur Eitemal, maar eintlik is dit ’n Sweedse volkswysie. “O Boereplaas”, met woorde deur Vader Visser, word op een van twee wysies gesing. Die Duitse wysie, wat oorspronklik as “O Tannebaum” bekendgestaan het, is dalk die bekender een, maar Manuel het gelukkig besluit om Johannes Joubert se toonsetting te sing. “Die roos” is nog ’n samewerking tussen AG Visser en S. le Roux Marais, en dit is ’n bewys dat Afrikaanse komponiste en digters of liriekskrywers wel met liedere van hoogstaande gehalte vorendag kan kom. “Bobbejaan klim die berg” is seker een van die heel bekendste Afrikaanse liedjies, en is ook al deur onder meer Tony en Jan en Who’s news opgeneem, terwyl Josef Marais dit in Engels onder die titel “The baboon climbs the hill” vertaal het. “Mali die slaaf se lied” is ’n hoogtepunt; dit is deur C Louis Leipoldt geskryf en deur S le Roux Marais gekomponeer. “Kokkewiet” is ’n minder bekende maar mooi komposisie van PJ Lemmer en SJM Osborn. “Ek sing van die wind” is ’n baie bekende gedig van C Louis Leipoldt, wat deur Walter Spiethoff getoonset is. Dit is ook al deur die Günther Kallmann-koor opgeneem.  Die laaste snit op die album is Johannes Joubert se toonsetting van Jan FE Celliers se gedig, “Dis al”.

Daar is baie meningsverskille oor die gehalte van hedendaagse Afrikaanse musiek; daar is diegene wat dink dat daar geen goeie Afrikaanse musiek is nie, terwyl sommige mense dink dat daar wel kunstenaars is wat met musiek van hoogstaande gehalte vorendag kom. Hierdie album is gemik op dié wat nie van kommersiële Afrikaanse musiek hou nie, of wat op soek is na ’n alternatief vir die musiek wat gereeld oor die radio gespeel word. Dit is ook ’n bewys dat nie alle Afrikaanse musiek noodwendig radiovriendelik hoef te wees of daarop gemik te wees om trefferslyste te oorheers nie. Daarby laat dit ’n mens wonder waar opvolgers van komponiste soos S le Roux Marais en digters of liriekskrywers soos Eitemal, Vader Visser en C Louis Leipoldt is. Dit het tyd geword om die Afrikaanse kunslied te laat herleef, maar daarvoor is daar oorspronklike komponiste, liriekskrywers wat vorendag kan kom met woorde wat regtig iets om die lyf het, en sangers van albei geslagte wat regtig kan sing en dalk opleiding in ernstige musiek ondergaan het, nodig. Het dit nie dalk tyd geword om ’n veldtog van stapel te stuur om hierdie doelwit te bereik nie?

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!