My land my lied – Manuel Escórcio
Desember 28, 2018
Daantjie Dinamiet se top CD’s vir 2018
Desember 30, 2018

Dit is nou al seker tien jaar sedert die Suid-Afrikaanse publiek die eerste keer van Du Preez Stoltz kennis geneem het.

Hy was een van drie tenore wat die album Trio as Ons eie drie tenore  saam met Philip Kotze en Chris Coetzer opgeneem het. Hoewel hierdie album ’n kommersiële inslag gehad het, het hy altyd geweet hy sou tot eer van die Here sing, en hy het twee Christelike CD’s, naamlik Hy leef in my en Dans in sy lig, vrygestel.

Nadat hy ’n paar jaar lank stil was, het hy pas sy derde Christelike album, Nuutgemaak, uitgereik.  Die eerste snit op die album is ’n hoogtepunt en ’n lied wat absoluut daarvoor vra om vir ’n koor verwerk te word. “Soli Deo Gloria” (wat Aan God al die eer beteken) gaan oor die kernwaardes wat Martin Luther op 31 Oktober 1517 aan die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker het, naamlik dat ’n mens deur geloof alleen, Christus alleen, genade alleen en die Woord van God alleen gered kan word. Die laaste snit op die album is nog ’n weergawe van hierdie lied, waarop die koor van die Oranje Meisieskool saam met hom sing. “Vergewe” is nog ’n baie goeie oorspronklike komposisie wat nie net radiolugtyd behoort te kry nie, maar ook deur gemeentes gesing kan word. “Dit is die dag” is geskryf na aanleiding van Psalm 118 vers 24. Du Preez het ’n paar van die mooiste moderne lof-en-aanbiddingsliedere ingesluit; die eerste een is “Wees stil want die Heilige is hier”, met Afrikaanse woorde deur Jacques Louw, wat ook verantwoordelik was vir die woorde van ’n paar nuwe toevoegings tot die Liedboek van die Kerk.  Nog ’n lied wat in dieselfde kategorie val, is “Al die lof, aanbidding en ere”, wat al hoe meer in gemeentes gesing word. “Aan U alleen” is nog ’n pragtige snit wat ’n mens skoon meevoer. Op die volgende snit, “Weet jy dat Jesus jou liefhet?”, sing sy vrou, Jana, en sy dogters, Inge en Hayely, saam met hom.

As daar een snit is wat regtig ’n treffer behoort te word, is dit “In die begin”. Die NG kerk het ’n aantal jare gelede, net nadat die Liedboek van die Kerk in gebruik geneem is, die FLAM-kommissie in die lewe geroep om nuwe kontemporêre lof-en-aanbiddingsmusiek aan gemeentelede bekend te stel. Een van die eerste liedere wat goedgekeur is, is “Daarom”, wat deur Elizabeth Fourie geskryf is en deesdae gereeld in gemeentes gesing word. Dit is een van die mooiste liedere wat die laaste tyd tot eer van die Here geskryf is en dit sal jou dadelik laat saamsing. “Man op die heuwel” is ’n skitterende snit waarin daar gesing word oor die gelykenisse wat Jesus vertel het. “Smeekgebed” is op die wysie van Sibelius se “Song of peace” geskryf; weer eens is dit ’n snit wat gemeentes gerus kan sing. “Ek sal bid vir jou”, met Afrikaanse woorde deur Neil Schoombee, is oorspronklik deur Pierre van der Westhuizen opgeneem; dis goed om ’n nuwe opname daarvan te hoor. “Dankie dankie dankie” was seker Du Preez se bekendste lied tot dusver, en vir hierdie album het hy dit weer opgeneem. “In die hemel is die Heer” is ’n oorspronklike komposisie van Tom Hiemstra wat ook al hoe meer in gemeentes gesing word. Daar is net een Engelse snit op die album, naamlik “Halleluja” van Leonard Cohen, waarop die Bloemfontein-kinderkoor saam met hom sing.

Du Preez het seker met een van die heel beste Christelike albums van die jaar vorendag gekom; nie net is daar geen twyfel dat hy regtig kan sing nie, maar hy het die snitte wat op hierdie album voorkom, baie goed gekies. As jy hou van musiek wat daarop gemik is om die Here se Naam groot te maak, en ’n goeie tenoorstem kan waardeer, sal jy hierdie album geniet.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!