Téén verstikkende inklusiwiteit

Familie, feestyd en … films!
Desember 30, 2018
Die onverkrygbare
Januarie 3, 2019

T

Deur prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK

Enkele dae gelede praat ek met ’n groepie seuns van ’n bekende Afrikaanse skool in Pretoria. Ondanks die eksamens wat hulle pas geskryf het, is hulle reeds besig om vir volgende jaar se debatskompetisies voor te berei.

Ek is deur hulle afrigter gevra om enkele gedagtes met die seuns oor die voorgeskrewe debatstema vir die nuwe jaar te deel. Dit handel oor die vraag of ons kulturele erfenisse in die pad van nasionale eenheid staan. Anders verwoord, moet ons ter wille van inklusiwiteit met ons kultuurerfenisse wegdoen?

Tydens die gesprek het die seuns my gou onder die indruk van die erns gebring waarmee hulle reeds oor die tema nagedink het.

Toegegee, hulle het een van die heel beste (indien nie die heel beste nie) debatsafrigter in die land. Nogtans het die seuns die een na die ander skerpsinnige vraag aan my gerig. Dit is kennelik nie die eerste keer dat hulle met dié tema gekonfronteer is nie.

En hoe anders? Daar gaan immers nie ’n dag verby dat daar nie aan ons jongmense op bedekte en minder bedekte wyses gesuggereer word dat ons kulturele erfenis eintlik in die pad van inklusiwiteit staan nie. En dat ons liefs die klem op die eie kultuurerfenisse moet laat vaar.

Ondanks die sofistikasie waarmee die seuns die tema hanteer, het ek tog met ’n donker gemoed van hulle afskeid geneem. Waarom?

My indruk is dat daar ’n diep twyfel by sommige bestaan of dit vandag toelaatbaar is om die mees natuurlike ding op aarde te doen, naamlik om ook die geselskap van jou eie kultuurgenote op te soek.

Trouens, my indruk is dat daar by sommige selfs vae skuldgevoelens aanwesig kan wees omdat hulle soms by plekke byeenkom wat nie inklusief genoeg is nie. Soos die ‘Afrikaans is Groot’-konserte, wat in Pretoria bykans uitsluitlik deur Afrikaners bygewoon word. Mag dit?, vra hulle.

Volgens die voorskrifte van die heersende orde moet alle geleenthede immers inklusief wees. Is dit dus toelaatbaar as ons (selfs net soms) nie inklusief genoeg is nie? Oortree ons nie so een of ander super-gebod nie?

Ek kon die twyfel in enkele seuns se gemoed met ’n stok aanvoel. Maar hoe gemaak met die twyfel? Juis daaroor slegs enkele gedagtes.

Inklusiwiteit is vandag ’n meester-opdrag waaraan almal gemeet word. As jy nie inklusief genoeg is nie, lui dié opdrag, sal jy aan allerlei regstellende optrede onderwerp word. Bewaar dus die siele van diegene wat die natuurlike begeerte het om (selfs net soms) die geselskap van hul eie kultuurmense op te soek.

Maar waar kom hierdie opdrag tot inklusiwiteit vandaan? En hoekom word die geweld wat daarin opgesluit lê nie behoorlik genoeg deur die media ontmasker nie? Om van kultuurgemeenskappe te verwag om ter wille van inklusiwiteit hul eie op te gee, is immers ’n diep gewelddadige verwagting. Dit ontken die natuurlike begeerte by gemeenskappe om ook met mekaar te assosieer.

Wat is inklusiwiteit? Waarskynlik is daar weiniges onder ons wat ’n probleem met inklusiwiteit sal hê as dit sou beteken dat elke gemeenskap toegelaat word om binne die groter (en inklusiewe) samehang tussen almal ook hul eie kultuurgemeenskap op te soek en te koester.

Ongelukkig is dit nie die definisie wat vandag aan inklusiwiteit gegee word nie. Volgens die heersende orde beteken inklusiwiteit eerder dat jy as kleiner kultuurgemeenskap jou spreekwoordelike bek moet hou – en dat jy jouself sondermeer moet onderwerp aan die sogenaamde wil van die meerderheid.

So ’n opvatting van inklusiwiteit steun ten diepste op ’n ‘totalitêre’ mentaliteit. Dit wil sê ’n mentaliteit wat slegs een stem duld – naamlik die stem van die meerderheid. Dit is ’n mentaliteit wat geen geduld met ’n kleiner gemeenskap soos die Afrikaners het nie.

Waar kom hierdie opvatting van inklusiwiteit vandaan? Maklike antwoorde is daar nie. Nogtans wil ek ’n enkele voorstel in hierdie verband maak: Ten diepste hou die totalitêre opvatting van inklusiwiteit met die – hou vas! – die teologie (of die gebrek aan ’n teologie) verband. Hoekom?

As ons ’n ingewikkelde kwessie in enkele sinne kan saamvat, kan gesê word dat die totalitêre mentaliteit in die moderne era veral daar na vore getree het waar God van die tafel gevee en die sogenaamde ‘wil van die meerderheid’ vir alle praktiese doeleindes die nuwe (plaasvervangende) god geword het. In die plek van God het die oppergesag van die meerderheid getree. Voortaan moet almal hulself by sy goddelike gesag neerlê.

Anders as in ’n tyd toe die politieke gesag met ander woorde deur God begrens is, gebeur die teendeel in die moderne totalitêre bewegings. Omdat God by hulle afwesig is, word die politieke gesag van die meerderheid self verabsoluteer. Voortaan word die meerderheid letterlik deur niks meer begrens nie. Dit is die aller-maatstaf waarvoor almal moet buig.

In vele opsigte is die geskiedenis van die moderne totalitêre bewegings soos die kommunisme, die Marxisme, die Maoïsme en die fascisme ’n skrikwekkende getuie daarvan. Dié totalitêre bewegings rus sonder uitsondering op ateïstiese uitgangspunte. En telkens gee hul ateïsme daartoe aanleiding dat die meerderheid (soos verteenwoordig deur die partyleiding, die rewolusionêre voorhoede, ensovoorts) ’n strakke eenvormigheid op alles afdwing.

In Suid-Afrika is die heersende orde en sy elites nog steeds skatpligtig aan genoemde totalitêre erfenis. Dit ondanks die ekonomiese, sosiale en politieke mislukkings wat dit steeds kenmerk.

Wat staan ons te doen? Ons noem slegs twee te midde van talle ander dinge:

Eerstens moet die spanninge van die inklusiewe agenda telkens weer aan ’n behoorlike kritiek onderwerp word. So kan byvoorbeeld daarop gewys word dat inklusiwiteit, anders as wat die heersende orde graag na buite voorgee, dikwels tot erge vorme van geweld lei. (Ook tot ‘simboliese geweld’ en nie net tot ‘fisiese geweld’ nie).

In hierdie verband kan onder meer op die teologiese argument staatgemaak word: Wanneer God uit die gesigsveld verdwyn en nie meer die hoogste gesag is nie, word plaasvervangende afgode geskep. En soos wat die geskiedenis vir ons geleer het, roep afgode mense op om teen die grein van die skepping te handel. Telkens moet die rykheid, skoonheid en verwikkelde veelheid van die skepping met abstrakte, grys en lewelose skemas vervang word. Die slagting waartoe dit die laaste eeu aanleiding gegee het, is die tragiese getuie daarvan.

Tweedens, ons eie instellings (families, skole, universiteite, veiligheid, besighede, vakbonde, letterkundes, musiek, media, ensovoorts) moet steeds uitgebou en versterk word. Pogings om ’n verstikkende inklusiwiteit op alles af te dwing, word einde ten laaste die beste ‘van onder af’ deur die praktiese suksesse van lewenskragtige instellings teruggedruk.

Geen wonder dat die laaste eeu ook in die teken staan van burgerlike instellings wat verantwoordelik was vir die val van die totalitêre mentaliteit nie. Soos die Poolse vakbond, Solidariteit, die naamgenoot van ons eie Solidariteit Beweging.

Hierdie is geen maklike trooswoorde vir bogenoemde seuns nie. Maar dié seuns is kennelik volwasse genoeg om hulle nie deur goedkoop trooswoorde te laat flous nie.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!