Daantjie Dinamiet se top CD’s vir 2018

Nuutgemaak – Du Preez Stoltz
Desember 28, 2018
Marita van der Vyver se jongste pennevrug ‘n moet-lees
Desember 30, 2018

2

Dit is tyd om 2018 te groet, maar voordat dit gebeur, moet daar eers gekyk word na die Afrikaanse albums wat die afgelope jaar bo die res uitgestaan het. Soos gewoonlik het verskeie goeie CD’s die lig gesien, nie net van gevestigde kunstenaars nie, maar ook van ’n paar nuwelinge wat die potensiaal het om groot hoogtes in die Afrikaanse musiekbedryf te bereik. Hier is seker die beste tien albums wat in 2018 verskyn het; die enigste tipe albums wat nie in aanmerking geneem is nie, is trefferversamelings, huldeblykalbums (nie dat daar so iets vanjaar verskyn het nie) en albums waarop kunstenaars nie hul eie werk sing nie.

  1. Sit kêrels – Adam Tas

Met sy jongste album doen Adam Tas sy reputasie as Boere-digter gestand.  Adam se lirieke het meer om die lyf as dié van die meeste kommersiële kunstenaars, hy weet hoe om ’n storie te vertel en hier en daar lag ’n mens ook lekker vir sy lirieke. Byna al die snitte op die album is oorspronklik, maar hy het ook Anton Goosen se komposisie “Scotty Smith” ingesluit.

  • Eindelose liefde – Caroline-Grace

Caroline-Grace was ’n deelnemer aan The Voice, en sy het van die begin af gewys dat sy oor uitsonderlike talent beskik. Haar debuutalbum het al ’n aantal treffers opgelewer, maar daar is nog een of twee wat die potensiaal het om die trefferslyste van die meeste radiostasies te haal. Sy werk saam met uitstekende liedjieskrywers en haar vertolking van twee bekende snitte wat op hierdie album voorkom, is uitsonderlik. Caroline-Grace is ’n aanwins vir die musiekbedryf.

  • Wees lief – Cordelia

Cordelia het in 2015 haar deurbraak met haar vorige album, Breek die stilte, gemaak en ’n mens het gewonder of sy dit sou kon nadoen. Die goeie nuus vir haar aanhangers, en die musiekbedryf as ’n geheel, is dat sy dit nie net reggekry het nie, maar dat haar gewildheid besig is om toe te neem. Hoewel sy ’n kontrak by ’n groot platemaatskappy losgeslaan het, het sy steeds haar integriteit as kunstenaar  behou.

  • Mis eet slaap herhaal – Demi-Lee Moore

Daar was al verskeie kompetisies wat ten doel gehad het om nuwe talent op die Afrikaanse musiektoneel te ontdek. Die jongste daarvan was Die Kontrak, wat op VIA TV uitgesaai is. Demi-Lee Moore was nie ’n vreemdeling toe sy ingeskryf het nie; sy het voorheen aan Idols deelgeneem. Haar oorwinning in Die Kontrak was egter haar deurbraak in die plaaslike musiekbedryf en haar debuutalbum het dadelik baie gewild geword. Sy het ook aan Afrikaans is Groot deelgeneem en is baie goed deur die publiek ontvang.

  • Kleindorp-dromer – Elandré

Sommige kunstenaars is maar net op die regte tyd op die regte plek. Elandré het sy kontrak losgeslaan met ’n weergawe van Bruce Springsteen se treffer “Tougher than the rest” en die res is geskiedenis. Elandré het reeds ’n Ghoema-toekenning gewen en hierdie album het al ’n paar treffers opgelewer. Hy gaan nog een van ons land se suksesvolste kunstenaars word.

  • Hittegolf – Franja du Plessis

Hoewel Franja daarvan beskuldig sou kon word dat  sy op die rug van haar bekende ma, Juanita du Plessis, ry, is niks verder van die waarheid af nie. Franja het haarself met haar tweede album opnuut as ’n kunstenaar in haar eie reg gevestig en dis duidelik dat sy haar ma se talent geërf het. Sy het elke snit op haar nuwe album geskryf en gekomponeer.

Leon was ’n lid van die kontemporêre Christelike groep Vertikaal en later van die kitaarduo CH2. Hierdie album is egter sy eerste een as solokunstenaar; hy het ’n aantal van NP van Wyk Louw se gedigte getoonset, met die gevolg dat die lirieke bogemiddeld goed is.

Refentse het sedert hy in 2016 op die plaaslike musiektoneel verskyn het, ’n gunsteling onder musiekliefhebbers geword met sy foutlose Afrikaans. Sy jongste album bevat al hoe meer oorspronklike komposisies en kan baie sterk aanbeveel word.

Serenade val ongetwyfeld in daardie kategorie van ‘n groep mans wat regtig kan sing en klaarblyklik sangopleiding ondergaan het. Hulle debuutalbum is sonder twyfel die beste album deur ’n groep wat vanjaar verskyn het.

Tarryn, voorheen die hoofsangeres van die groep Blackbyrd, het besluit om ’n solo-loopbaan in Afrikaans te volg. Daarby het sy ’n paar treffers van die legendariese Laurika Rauch opgeneem en haar weergawes vergelyk baie goed met die oorspronklikes.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!