Familie, feestyd en … films!

Marita van der Vyver se jongste pennevrug ‘n moet-lees
Desember 30, 2018
Téén verstikkende inklusiwiteit
Desember 30, 2018

Deur Christa Steyn

Desembermaand is sinoniem met familie, feestyd en vakansie. Sommige binnelanders stroom na kusdorpies op soek na sielerus langs die see, terwyl ander gesinne weer met Jan Tuisbly se karretjie ry. Dit maak egter nie saak waar jy is nie, ’n lekker manier om te ontspan saam met die familie is om jou tuis te maak voor ’n fliek, met natuurlik ’n bakkie springmielies!

  • Liewe Kersfeesvader (2017)

In Liewe Kersfeesvader moet ’n tienermeisie, Nonnie, haar grootmens-skoene aantrek en na haar boetie omsien, omdat haar ma hulle in die steek gelaat en haar pa ’n gedaanteverwisseling ondergaan het. Dit is nie ’n tipiese ‘Kersverhaal’ met ’n oorbodige kersete, hope geskenke en sneeu nie, maar ’n verhaal oor die aanvaarding en liefde vir familie – ongeag hulle tekortkominge.

Rolverdeling: Mila Guy, Eloff Snyman, Morné Visser, Milan Murray, June van Merche, Melt Sieberhagen en Dean John Smith

Ouderdomsbeperking: 12PGT (Taal, Ouerbegeleiding word aanbeveel)

IMDb-gradering: 7.6/10

Beskikbaar: DVD

  • Trouvoete (2015)

In Trouvoete raak twee bleeksiele verlief op mekaar, nadat hulle aanlyn ontmoet het. Waarskuwing: Die oormatige produkplasing en publisiteit in die film mag dalk steurend vir ernstige filmliefhebbers wees.

Rolverdeling: Lika Berning, Bouwer Bosch, Charlie Bouguenon, Paul du Toit, Stefan Ludik, Rika Sennett, Marlee van der Merwe, Candice Weber en Erica Wessels

Ouderdomsbeperking: 10LPG (Taal, Ouerbegeleiding word aanbeveel)

IMDb-gradering: 5.8/10

Beskikbaar: DVD

  • Vir die Voëls (2016)

Vir die Voëls is op ’n ware liefdesverhaal gebaseer en speel gedurende die sewentigs af: ’n Era wat vereenselwig word met die grensoorlog, diensplig, en immer gewilde treffers soos “Hoeka Toeka” deur Carike Keuzenkamp en “Ramaja” deur Glenys Lynne.

Rolverdeling: Simoné Nortmann, Francois Jacobs, Elize Cawood, Lara Kinnear, Bennie Fourie, Neels van Jaarsveld, Nicola Hanekom, Drikus Volschenk en Edrien Erasmus

Ouderdomsbeperking: 10-12G (Geweld)

IMDb-gradering: 7.8/10

Beskikbaarheid: DVD, Vimeo

  • Ballade vir ’n Enkeling (2015)

Ballade vir ’n Enkeling sal deur sommige kykers onthou word as die gewilde televisiereeks wat in die tagtigerjare deur die SAUK uitgesaai is. In 2015 maak hierdie verhaal homself opnuut tuis in Suid-Afrikaners se huise met ’n mengelmoes van oorspronklike en verwerkte treffers, sowel as ’n sterbelaaide rolverdeling. Ongeag of jy met heimwee terugdink aan die reeks of nie – hierdie film sal oud en jonk boei.

Rolverdeling: DonnaLee Roberts, Armand Aucamp, Jacques Reynhard, Rolanda Marais, Jacques Bessenger, Cindy Swanepoel, Zak Hendrikz, Christia Visser, Edwin van der Wal, Luan Jacobs, Miles Petzer, Dorette Potgieter, Drikus Volschenk, Heléne Lombard en Boikie Pholo

Ouderdomsbeperking:  16TG (Taal, geweld)

IMDb-gradering: 7.7/10

Beskikbaarheid: DVD, Vimeo, iTunes (R99.99)

Soortgelyke films: Roepman (2011), Die Wonderwerker (2012), Verraaiers (2012), Treurgrond (2015)

  • Mooirivier (2015)

Mooirivier herinner aan die veelvuldige liefdesintriges soos wat in die 2003-film, Love Actually (wat terloops ook ’n ideale Kersfees-fliekkeuse is), vertel word. Die film gee vir kykers presies wat hulle verwag: ’n soetsappige liefdesverhaal met hope humor en ’n gelukkige einde.

Rolverdeling: Tim Theron, Anel Alexander, Nadia Beukes, Hykie Berg, Milan Murray, Heinz Winckler, Danie Putter, Leandie du Randt, Bouwer Bosch, Bennie Fourie, Francois Viviers, Elmie Brits, Sandi Schultz, Suzzi Swanepoel en Diaan Lawrenson

Ouderdomsbeperking: PG (Ouerbegeleiding word aanbeveel)

IMDb-gradering: 6.1/10

Beskikbaarheid: DVD

Soortgelyke films: Semi-soet (2012), Klein Karoo (2013), Pad na Jou Hart (2014), Strikdas (2015), Hollywood in My Huis (2015), Dis koue kos, Skat (2016) en Sy Klink Soos Lente (2016).

  • Raaiselkind (2017)

Raaiselkind, wat oorspronklik deur Annelie Botes geskryf is, vertel die verhaal van ’n ma wat vir haar outistiese kind se dood aangekla word. Waarskuwing: Moenie verwag dat die film ‘soos die boek’ gaan wees nie. Daar is heelwat verskille tussen die roman en die film. 

Rolverdeling: Diaan Lawrenson, Neels Clasen, Anrich Herbst, Deon Lotz, June van Merch

Ouderdomsbeperking: 13T (Taal)

IMDb-gradering: 8.1/10

Beskikbaarheid: DVD

Soortgelyke films: ’n Saak van Geloof (2011), Stilte (2012), Lien se Lankstaanskoene (2013), Faan se Trein (2014), Dis ek, Anna (2015), Nul is Nie Niks Nie (2017) en Vaselinetjie (2017).

  • Meerkat Maantuig (2018)

Meerkat Maantuig is op die jeugverhaal, Blinde sambok, deur Riana Scheepers, gegrond. Na haar pa se dood, besef die 13-jarige Gideonette de la Rey dat sy die enigste een is wat nog die sogenaamde ‘familievloek’ dra. Danksy haar nuutgevonde vriend, Bhubesi, kry sy die moed om haar vrese in die oë te staar en die vloek finaal te verbreek.

Rolverdeling: Anchen du Plessis, Rika Sennett, Pierre van Pletzen, Themba Ntuli, Hanlé Barnard, Drikus Volschenk

Ouderdomsbeperking: 10 (Ouerbegeleiding word aanbeveel)

IMDb-gradering: 8.1/10

Beskikbaarheid: DVD

Soortgelyke films: Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom (2010), As Jy Sing (2013), Vuil Wasgoed (2017), Stroomop (2018), Susters (2018) en Thys & Trix (2018).

*Vimeo is ’n video-op-aanvraagplatform (Opsie 1: betaal ongeveer R35 vir ’n 48-uur verhuringsperiode; OF Opsie 2: betaal ongeveer R70 vir onbeperkte stroom/aflaaibare toegang).

Deur Christa Steyn

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!