Marita van der Vyver se jongste pennevrug ‘n moet-lees

Daantjie Dinamiet se top CD’s vir 2018
Desember 30, 2018
Familie, feestyd en … films!
Desember 30, 2018

R

Deur Petronel Fourie

Retoer Pretoria – Provence: Marita van der Vyver

Uitgewer: Lapa

Die meeste van ons ken deesdae iemand wat in ’n ander wêreldland woon – ’n familielid in Australië, ’n vriend in Nieu-Seeland, bure wat sak en pak na Europa of Kanada verkas het. Maar min van dié hartsmense of kennisse kan die ervaring van emigrasie so elegant en eerlik verwoord soos Marita van der Vyver, wat in dié boek met haar hart op haar mou oor haar geboorteland en haar aangenome land, Frankryk, skryf.
Hierdie bundel, wat uit ’n keur van Van der Vyver se beste rubrieke, sketse en essays bestaan, neem die leser op ’n reis van baie bekende en beminde dinge in Suid-Afrika, maar stuur jou ook oor die letterlike en figuurlike grense van ons land na Frankryk. Vertellings oor haar ervarings in Suid-Afrika vervleg met verhale van haar Franse lewe en hoe dié twee wêrelde verskil, maar tog ook vele raakpunte het.
In haar voorwoord skryf sy dat hierdie bundel vingeroefeninge is vir die ‘regte memoires’ wat sy nog eendag wil skryf. Die bundel is haar getuienis dat ’n mens “’n doodgewone saai nege-tot-vyf-lewe kan lei – en nogtans die ongelooflikste avonture kan belewe. Terwyl jy buitengewone boeke lees of vreemde kossoorte kook of na opwindende musiek luister. Solank jy jou verbeelding vrye teuels gee, kan niks jou keer nie.”
Die boek het nege afdelings, elk met ’n titel van een van haar boeke as tema. Sy illustreer in die rubrieke hoe haar lewe in Frankryk, wat so begeerlik en eksoties klink – en dit weliswaar soms is, met voordele soos Franse wyn, kos en byna geen misdaad nie – nie sonder uitdagings is nie, soos die hoë lewenskoste. Waar Suid-Afrikaners bang is vir huisbrake en motorkapings, is die Franse bang vir terreuraanvalle. Haar stories maak ’n mens soms jaloers ja, maar wek ook empatie, omdat die aanpassing in enige nuwe land, ongeag hoeveel meer ideaal dit as Suid-Afrika voorkom, nooit maklik is nie. Die naelstring kan nie oornag geknip word nie, indien ooit.
Van der Vyver beskryf die stories wat in dié bundel versamel is as rotse wat bo die water uitsteek om ’n voetpaadjie oor ’n rivier te vorm, om haar terug te lei na wie sy lank gelede was en te kyk na wat sy geword het: “’n Afrikaanse skrywer en ma in Frankryk met ’n verbeeldingslewe wat my soms veel ryker laat voel as wat ek eintlik is.”
Retoer sleur die leser mee tussen die alledaagse en die eksotiese, die skreeusnaakse en die hartverskeurende, die lyflike en die geestelike.
Dié outobiografie in die kleine bied genot en insig vir veral vroue.

 

 

 

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!