Droomvrou
Januarie 7, 2019
Ek sien vandag die son weer skyn
Januarie 11, 2019

Dit is eintlik eienaardig dat een van die bekendste moderne Christelike liedere nooit opgeneem is deur die persoon wat dit geskryf het nie, maar die noodlot vra nie sulke vrae voordat dit toeslaan nie.

Koos du Plessis was die pionier van die Afrikaanse luisterliedjie, en hy het woorde geskryf wat hoegenaamd nie vergelyk kon word met die soetsappige snert wat destyds gereeld in Afrikaanse musiekliefhebbers se keelgate afgedruk is nie. Een van die komposisies waarvoor hy veral bekendheid verwerf het, was “Gebed”, wat al deur verskeie kunstenaars opgeneem is, maar nooit deur Koos self voordat hy in die ouderdom van 38 jaar oorlede is nie.

“Gebed” was een van twee komposisies met ’n Christelike strekking uit  Koos se pen, maar is nie dadelik as amptelike kerklied aanvaar toe die Liedboek van die Kerk in 2001 in gebruik geneem is nie. Koos se ander Christelike komposisie, “Somerkersfees”, is egter wel ingesluit en het baie gewild onder kerkgangers geword. “Gebed” is die eerste keer opgeneem toe Jannie du Toit en Lucas Maree die album Koos se plaat, waarop hulle hulde aan Koos gebring het, vrygestel het. Sedertdien het verskeie ander kunstenaars, onder meer Piet Smit en Juanita du Plessis dit ook opgeneem, terwyl ’n aantal koorverwerkings ook al verskyn het.

Jacobus Johannes du Plessis is op 10 Mei in die distrik van Rustenburg gebore en het aan die Hoër Seunskool Hugenote in Springs gematrikuleer. Toe hy in standerd 8 (graad 10) was, wou hy sanglesse neem maar sy musiekonderwyseres het hom afgeraai, glo omdat hy nie die nodige vaardighede gehad het nie. Sy is later verkeerd bewys.

Koos het in 1967 tot die joernalistiek toegetree en as joernalis, nuusredakteur en subredakteur gewerk. Hy is in 1969 met Mornay du Plessis getroud en drie dogters is uit die huwelik gebore.  Hy het in 1972 by die destydse koerant Oggendblad gewerk, en in 1983 as subredakteur by Die Transvaler aangesluit waar hy tot sy dood gewerk het.

Koos het sy grootste kommersiële treffer, “Kinders van die wind”, reeds in 1968 geskryf.  In 1975 het Carl Theunissen, ’n vriend van Koos, ’n kassetopname van Koos se musiek na Nick Taylor toe geneem. Taylor, die bestuurder van die onafhanklike platemaatskappy Incline House, het ’n tuisateljee gehad. Koos het drie van sy liedjies twee jaar later in die televisieprogram Perspektief, waarvan Theunissen die regisseur was, gesing.

In 1979 het Katinka Heyns gesoek na ’n temaliedjie vir haar televisiereeks Phoenix en Kie, met onder meer Dana Niehaus en Marius Weyers in die rolverdeling. Jana Cilliers het die rol van ’n nagklubsangeres vertolk, en naas “Kinders van die wind” is nog drie liedjies, “Sprokie vir ’n stadskind”, “Skielik is jy vry” en “Die somer is verby”, gebruik. Jana het egter nie self gesing nie en die sangstem van ’n goeie vriendin van haar, Laurika Rauch, is vir haar karakter gebruik. Dit was die deurbraak waarop Koos en Laurika gehoop het. “Kinders van die wind” is as kortspeler uitgereik en het die derde plek op Springbok Radio se Top 20 gehaal. Daarna is Koos se debuutalbum, Skadu’s teen die muur, uitgereik. Benewens die genoemde vier snitte en die titelsnit was daar ook ander treffers, soos “As jy my kon volg”, “Op die pad na Nooitgedacht” en “Najaarsdroom”. Twee verdere albums het gevolg, naamlik As almal ver is en Herbergier.

Op 15 Januarie 1983 sterf Koos in ’n motorongeluk op die ou Krugersdorp-pad naby Knoppieslaagte toe hy op pad was na Nick Taylor, wat sy musiekregisseur was. In 1995 is die album, Die vierde horison, postuum uitgereik.  Verskeie kunstenaars het ook huldeblykalbums vrygestel, onder meer Johannes Kerkorrel, Piet Smit, Jannie du Toit en Wynand Strydom.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!