Ek sien vandag die son weer skyn
Januarie 11, 2019
Droomvrou
Januarie 14, 2019

In 1987 het Jannie du Toit sy tweede album, Drie-uur in die more, vrygestel, ses jaar nadat sy eerste een, ’n Liedjie vir jou, verskyn het.

Een van die trefferliedjies vanaf daardie album was ’n komposisie van ’n liedjieskrywer en klavierspeler saam met wie Jannie nog baie jare lank sou werk. Christa Steyn was toe al gevestig as liedjieskrywer, maar met “Ek wil vir jou” het sy een van haar grootste treffers behaal. Jannie en Christa sou tot net voor haar dood in 2012 gereeld saam optree en hulle het konserte in veral ’n aantal Europese lande gehou.

Laurika Rauch het self in daardie jaar ’n lang stilte verbreek. Haar album Encore Laurika was haar eerste in vier jaar en soos Jannie het sy “Ek wil vir jou” ingesluit; dit was vir haar net so ’n groot treffer soos vir Jannie en vir haar die begin van ’n nuwe era in haar loopbaan.  Die groot treffer vanaf hierdie album was egter “Op Blouberg se strand”, ’n melodie van Udo Jürgens waarvoor Laurika se man, Chris Torr, die Afrikaanse woorde geskryf het.

Jannie het reeds in die 1970’s as deel van die groep Trilogie begin om musiek te maak. Hy het as prokureur gekwalifiseer maar later die regsberoep verlaat om voltyds te sing. Hy het sy eerste drie albums, ’n Liedjie vir jou, Drie-uur in die môre en Palet, self gefinansier en uitgereik en later ’n platemaatskappy begin onder die naam JNS-musiek.  Die naam het van sy bynaam op skool, Janus, gekom en hy het die musiek van kunstenaars soos Amanda Strydom, Lucas Maree en Coenie de Villiers versprei.  Jannie is nou nog aktief in die musiekbedryf, veral met programme waarin hy hulde aan Lucas Maree, Koos du Plessis en die Belgiese sanger en liedjieskrywer Jacques Brel bring.

Twee van vandag se mees talentvolle kunstenaars, Joshua Na Die Reën en Lizandra Winter, het “Ek wil vir jou” saam tydens die FAK se Valentynsdag-konsert by die Afrikaanse Liedjietuin gesing en dit is op Lizandra se gelyknamige album beskikbaar.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!