Madelein Rust: Sy lewe deur haar boeke

Droomvrou
Januarie 14, 2019
Ouboet word dominee
Januarie 21, 2019

Deur Seugnet van Zyl

As jy eers een van haar boeke gelees het, sal jy eenvoudig net nie kan ophou lees nie.

Madelein Rust het dié kuns só bemeester dat sy jou van bladsy een tot die heel laaste bladsy met haar misdaadromans vasgenael hou. Buiten dat sy jou heeltyd laat wonder wie nou eintlik die moordenaar is, voel jy naderhand deel van die storie soos jy meegevoer word om die een na die ander leidraad saam met die speurspan op te los.

Sy moes seker na haar lesers geluister het, want binne vyf jaar het sy vyf boeke, waarvan vier oor die gedugte speurspan dr. Renata Malan en haar vennoot Stefan Coetzee handel, geskryf.

Dié skryfwerk gebeur egter net oor naweke, want in die week is Madelein ’n bedryfspesialis wat spesialiseer in projekverwante veranderingsbestuur en korporatiewe kommunikasie. Sodra ’n Vrydagmiddag aanbreek, weet sy dat sy haar oor die naweek in haar skryf- en deeglike navorsingswerk kan verloor. Sy som haar twee beroepe as “twee aparte kompartemente” op.

Nie eens borskanker, wat in Julie 2015 by haar gediagnoseer is, kon die skryfwerk keer nie. Sy het dwarsdeur chemoterapie aan haar derde misdaadroman, Bloedlyn, gewerk.

“Ek het vas besluit om elke jaar ’n boek uit te bring en dit sover darem reggekry.”

Madelein het haar tweede spanningsverhaal, Monstersaad, aan kankerstryders oorgedra, omdat soveel van haar vriende, familielede en kollegas aan’t stry was teen kanker. Min het sy geweet dat sy ’n week nadat dié boek verskyn het, self met borskanker gediagnoseer sou word.

Sy het net daar en dan besluit dat die Groot K haar nie sal onderkry nie. Nog voordat haar hare begin uitval het, het sy vir haar twee pruike aangeskaf en kon byna nie wag dat haar hare uitval sodat sy die pruike kan begin dra nie. Sy het ook vir haar wenkbroue laat tatoeër nog voordat die chemo haar van ’n enkele haartjie beroof het. Dit het niks met hoogmoed te doen gehad nie, sy wou net ten volle voorbereid wees.

“Borskanker is doodgewoon soos enige teenspoed wat jou tref. Dit gaan nie oor wat met jou gebeur nie, dit gaan oor wat jy doen met dit wat met jou gebeur.”

Madelein beskou haar kankerdiagnose as die beste ervaring wat sy nog in haar lewe gehad het.

“As ek nie daai ervaring gehad het nie, sou ek nooit die mense ontmoet het wat ek ontmoet het nie. Ek het nie besef ’n mens kry sulke dapper mense nie.  Ek is nie bang nie. As dit (kanker) moet terugkom, kom dit terug. As ek weer moet kanker kry en ek moet weer daardeur gaan om mense te help om positief te wees, dan doen ek dit weer.”

Sy is sedert April 2016 in remissie.

’n Boek oor haar kankerreis, Kanker schmanker!, verskyn in Maart vanjaar. Dit bestaan meestal uit bloginskrywings wat sy tussen 2015 en 2017 vir Rooi Rose geskryf het. Intussen het sy dié pittige inskrywings aangevul om ’n boek te vorm en dié reis ook af te sluit.

“As jy jou humorsin verloor, dan sal alles vir jou horrible wees,” vertel sy oor hoe haar sin vir humor haar gehelp het om kanker te oorkom.

Sielkunde speel ook ’n baie belangrike rol in haar boeke, waar sy nie net haar vakkennis inspan om die storie so geloofwaardig moontlik te maak nie, maar ook om profiele vir die karakters in haar boeke saam te stel.

Sy het eers regte by Kovsies ná skool gaan studeer, waar strafreg haar gunstelingvak was. Op 42 het sy haar sielkundegraad voltooi en drie jaar later het sy “regtig” boeke begin skryf.

Haar skrywersloopbaan het egter al afgeskop met die skryf van romantiese kortverhale, en haar twee pogings in dié genre, Tango in die Kuberruim en Skarlakenvrou, verskyn in Huisgenoot. Een van haar kortverhale, Joy, verskyn in Bateleur Boeke se In ’n Neutedop, gevolg deur Die dag toe oom Willem geval het in Maskew Miller Longman se Literary Awards Edition publikasie, Sussie Veer is dood en ander verhale.

Haar debuutroman, Die 13de kaart, verskyn in Julie 2014 en is kort daarna op Nielsen se topverkoperlys. Dit word ook benoem vir ’n ATKV- Woordveertjieprys vir Spanningslektuur in 2015.

’n Jaar later verskyn Monstersaad, haar tweede misdaadroman en oes weereens groot lof van resensente sowel as lesers in. Ook dié boek verskyn op Nielsen se topverkoperlys en is ’n finalis in die Woordveertjieprys vir Spanningslektuur in 2016.

Haar liefde vir die geskrewe woord begin in die klein skoolbiblioteek van Brandwag Primêr in Bloemfontein, waar sy pousetye die een boek na die ander verslind. Sy slyp haar skrywerstande reeds op skool, waar sy uitblink in stelwerk en opstelkompetisies. As jong ma sluit sy aan by die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, waar sy ’n aantal pryse wen in die vereniging se jaarlikse skrywerskompetisie vir amateurskrywers.

Hoekom het sy dan eers op 46 regtig begin skryf?

“Ek wou wag dat my kinders eers klaar met hoërskool was. Ek moet vir jou sê ek het vir baie lank getwyfel of my werk gepubliseer sal kan word. Toe my eerste kortverhaal gepubliseer is, toe kry ek bietjie moed. Miskien kan ek skryf.”

Waar sy eers stories net vir haar eie plesier geskryf het, het sy op ’n dag besluit om ’n “boek-boek” te skryf.

Omdat “mense raaisels wil ontrafel” en omdat die psige van die mens, veral die donker kant daarvan, haar só interesseer, het sy besluit om haar skrywershand op misdaadromans toe te spits.

“Ek het hom (Die 13de kaart, haar debuutmisdaadroman) ingestuur en my hart vasgehou en gedink ek sal nooit ooit weer van hom hoor nie. Ek het amper van my stoel af geval toe LAPA (Uitgewers) my bel om te sê hulle wil dié boek publiseer. Ek kón dit nie glo nie.”

Die spreekwoordelike koeël is toe deur die kerk en sy het begin skryf aan haar tweede boek en sedertdien nog nie opgehou nie.

Tot vandag is sy elke keer bang dat een van haar boeke nie gepubliseer sal word nie.

“Sê nou maar ek is een van daai one book wonders?” is die gedagte wat elke keer by haar opkom, maar telkens bewys sy dié stemmetjie in haar kop verkeerd.

Sy sê daar is ’n fyn lyn tussen die skryf van ’n storie en die navorsing om dít geloofwaardig te maak.

“Mense wat misdaadfiksie lees is slim mense. Hulle is hoogs intelligente mense. As ek dink aan my tipiese leser, dink ek aan ’n persoon wat krities lees. Ek dink aan iemand wat dadelik sal agterkom wanneer ek bollie praat. Nou, die oomblik as jy iets raaklees in ’n boek wat nie verwant hou met die werklikheid of met die waarheid nie, al is dit fiksie, en dit is veral so met misdaadfiksie, dan is dit asof jy so half geloof verloor in jou skrywer en dan gaan jy nog meer krities verder lees. Jy wil jou skrywer ten volle vertrou. Jy wil weet alles wat in daai boek staan, is 100% gebaseer op feite.”

Daarom is dit soms moeilik vir haar om haar van die navorsing vir ’n boek weg te skeur omdat sy dít juis wil doen, maar eindelik wen die storie en alle navorsing word vir ’n ander keer gebêre vir wanneer sy die storie nog meer wil verryk.

Madelein leef haarself eers in die storie in sodat sy dit dan só aan die leser kan oorvertel asof hulle self daar is. Sy roep ook die hulp van ’n ware forensiese patoloog in om verder krediet aan haar misdaadtonele te verleen.

Doodsengel verskyn in Junie vanjaar, kort op Kanker schmanker! se hakke. Dié boek handel oor ’n vroulike moordenaar en is nie deel van die Renate/Stefan-reeks nie.

Doodsengel staan op sy eie. Ek wou nog altyd ’n boek skryf waarin die hoofkarakter ’n vroulike moordenaar is en ek het gevoel dis nou tyd. Die een daarna sal waarskynlik weer vir Renata en Stefan (en Sonny (’n swetsende papegaai) in hê. Ek mis die karakters vreeslik.”

Soos al haar boekkarakters op regtige mense gegrond is, is dié dier op ’n regte, egte papegaai geskoei.

Die karakters leef ook elke dag saam met haar in haar kop terwyl hulle wag dat sy met die regte storie weer lewe aan hulle gee.

Sal sy haar stories in Engels vertaal?

“Dit sal voel of ek kroek. Ek glo Afrikaans is die versoeningstaal in hierdie land. Afrikaans is alles wat ons mense is. Afrikaans is my hart se taal. Dit is soos Bloemfontein, wat my hart se dorp is.”

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!