’n Monument van ’n pa se hartseer
Januarie 21, 2019
Daai ding – Ivan Roux
Februarie 18, 2019

Dit gebeur nie baie gereeld dat ’n groep meer as een album per jaar vrystel nie, maar in die verlede het popgroepe soos Creedence Clearwater Revival en Modern Talking dit gedoen.

Herman en Douw Steyn, wat dieselfde van deel maar nie verwant is aan mekaar nie, het ’n paar jaar gelede die instrumentale duo Deca gevorm en sedertdien het hulle nie stilgesit nie. Nadat hulle in 2018 sommer twee albums vrygestel het, is hulle terug met hul nuwe een, Naturally wat, soos gewoonlik, ’n kombinasie van oorspronklike komposisies en bekende snitte bevat.

Die titelsnit is een van hul eie skeppings en het daardie tipiese Ierse klank wat ’n mens van hul komposisies kan verwag. Hulle is nie bang om moderne musiek in te sluit nie, en die eerste bekende snit is Ed Sheeran se pragtige onlangse treffer “Perfect”. Nog een wat nie te lank gelede op die trefferslyste was nie en wat hulle ingesluit het, is Walk the moon se treffer “Shut up and dance”. The greatest showman was seker die beste, en gewildste, musiekrolprent van die afgelope jaar of wat en “This is me”, wat daaruit kom, is een van die hoogtepunte van die album.

“Hilltop jig” is nog een van Deca se eie komposisies wat ’n mens sommer laat lekkerkry. Mense is besig om Lady Gaga vlak te kyk, maar met haar vertolking van die vroulike hoofrol in die nuwe weergawe van die rolprent A star is born het sy gewys wat in haar steek. Dieselfde geld haar treffersnit “Shallow”, wat Deca hier ingesluit het. Aan die ander kant is “The sound of silence” van Simon and Garfunkel, een van daardie liedjies wat altyd gewild sal wees; Deca is seker een van die min groepe wat ’n instrumentale weergawe opgeneem het en ’n mens moet sê; dit is besonder goed. “Swallowtail jig” is ongelukkig die laaste oorspronklike komposisie op die album en weer eens sal dit jou voete laat jeuk. “The show must go on” is eintlik ’n ontsettend hartseer liedjie, want dit was op Queen se laaste album wat uitgereik is voor Freddie Mercury se dood. Hoewel die woorde natuurlik nie hier gehoor kan word nie, bly dit treffend. “It ain’t me” was onlangs ’n treffer vir Selena Gomez, en dis goed dat dit ook op ’n ander manier vertolk word. Soms gebeur dit dat ’n liedjie onbekend is totdat dit in ’n advertensie gebruik word. Dit is die geval met die laaste snit, “Memories”, wat deur André de Villiers geskryf en gesing is. Dit is gebruik in ’n pragtige Volkswagen-advertensie waarin ’n jong egpaar ’n Beetle nuut gekoop het en deurentyd saam met ander motors gehou het totdat hulle hom vir hul seun vir sy 18de verjaardag gegee het. Sedertdien is dié liedjie gedurig in aanvraag.

Soos gewoonlik het Deca met ’n uitstekende album vorendag gekom en hulleself weer gevestig as een van die voorste instrumentale groepe in Suid-Afrika. Hul vermenging van bekende treffers en oorspronklike komposisies bly ’n wenresep en hul musiek is toeganklik vir enigiemand, maak nie saak wat ’n mens se musieksmaak is nie.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!