Die beweging wat Afrikaanse musiek gered het

Naturally – Deca
Januarie 25, 2019
Daai ding – Ivan Roux
Februarie 18, 2019

deur Daantjie Dinamiet

Vanjaar is die veertigste herdenking van die Musiek-en-Liriekbeweging, wat ’n rewolusie in Afrikaanse musiek veroorsaak het en wat gemaak het dat al hoe meer mense daarna begin luister het.

Sonja Herholdt

Die verhaal het eintlik vier jaar vroeër begin toe ’n 22-jarige onderwysstudent tot die musiekbedryf toegetree het. Sonja Herholdt was een van drie kunstenaars wat in 1975 tot Springbok Radio se Top 20 kon toetree, maar sy was die enigste een wat dit met ’n inheemse Suid-Afrikaanse komposisie kon regkry. “Ek verlang na jou”, wat deur Jan de Wet gekomponeer is, het die trefferslys op 25 Julie daardie jaar in die veertiende plek binnegestorm; die tweede hoogste toetrede in die geskiedenis deur ’n Afrikaanse liedjie. Ironies genoeg het nog ’n “Afrikaanse” liedjie dieselfde week in die twintigste plek toegetree, naamlik Caroline du Preez se aaklige vertaling van Conway Twitty en Loretta Lynn se nr. 1-treffer van ’n paar maande tevore, “As soon as I hang up the phone”. Caroline se weergawe se titel was “Net soos ek die telefoon neersit”. Sonja het die sesde plek gehaal en agt weke op die trefferslys gebly.

Kort daarna wou Huisgenoot ’n onderhoud met haar voer, en Jantjie Blom is gevra om dit te doen. Dit was die skuilnaam van Anton Goosen, met wie sy ’n suksesvolle vennootskap sou aangaan. Sonja het ’n vriendin saamgenooi vir die onderhoud, en vir Anton vertel dat sy besig was om aan haar debuutalbum te werk, maar dat sy liedjies nodig gehad het. Toe vertel Anton haar dat hy ’n liedjieskrywer is. Hulle het afgespreek om mekaar weer te sien en Anton het hierdie keer ’n lêer vol liedjies saamgeneem. Sy het alles deurgegaan en besluit om “Jantjie” op te neem.

In 1977 het Sonja haar tweede, gelyknamige, album vrygestel; hoewel “Hanoverstraat” een van Anton se oorspronklike komposisies op die album was, het hy ook Afrikaanse lirieke geskryf vir ’n komposisie van die Nederlandse liedjieskrywer Pierre Kartner. “Mooi Griekeland” was Afrikaanse Treffers se Treffer van die Jaar vir daardie jaar. Anton het egter ook met Tinus Esterhuizen saamgespan en Vicki du Preez se treffer “Tot siens auf wiedersehen”, wat die twaalfde plek op Springbok Radio se Top 20 gehaal het, geskryf. Die volgende jaar het nog ’n komposisie van Anton wat deur ’n sangeres opgeneem is, die Top 20 gehaal, naamlik “Hoeka toeka”, waarmee Carike Keuzenkamp die sewentiende plek gehaal het.

Anton Goosen

Dit was egter maar net die begin van groot dinge. Anton het in 1979 die eerste Afrikaanse kunstenaar geword wat ’n album vrygestel het waarop hy die woorde en musiek van elke snit geskryf het. “Kruidjie-roer-my-nie” het tot Springbok Radio se Top 20 toegetree, maar “Boy van die suburbs”, die titelsnit van die album, en “Begrafnistyd in Zeerust” is deur die SAUK verbied. Anton was egter nie die enigste liedjieskrywer wat in daardie jaar groot sukses behaal het met oorspronklike Afrikaanse musiek nie.

Koos du Plessis

Die rolprentvervaardiger Katinka Heyns was besig met om die televisiereeks Phoenix en Kie, met onder meer Dana Niehaus, Marius Weyers en Jana Cilliers in die rolverdeling, te vervaardig, maar sy was op soek na iemand wie se stem vir Jana se karakter, ’n nagklubsangeres, oorgeklank kon word. Jana was bevriend met Laurika Rauch en het dadelik voorgestel dat Laurika se stem gebruik word. Katinka het ook besluit om die komposisies van ’n destyds onbekende liedjieskrywer te gebruik. Sy het Koos du Plessis in ’n reeks getiteld Fyn net van die woord gebruik en wou dit aan ’n groter gehoor blootstel. Op die ou einde is “Sprokie vir ’n stadskind” en “Kinders van die wind” vir die reeks gekies; laasgenoemde is as temaliedjie gebruik. Dit het Koos en Laurika onder die aandag van die breë publiek gebring. “Kinders van die wind” is as kortspeler uitgereik en op 14 September 1979 het dit in die sewentiende plek tot Springbok Radio se Top 20 toegetree, die derde plek gehaal en dertien weke op die trefferslys gebly. Dieselfde jaar is Koos se debuutalbum, Skadu’s teen die muur, vrygestel met bogenoemde treffers, asook “Najaarsdroom”, “Skielik is jy vry”, “As jy my kon volg” en “Op die pad na Nooitgedacht”, om net ’n paar te noem. Koos het die waagmoed gehad om te skryf oor onderwerpe waaroor ander mense tot op daardie stadium stilgebly het. Dit het ook gemaak dat ’n musiekprogram waarin liedjies deur hierdie komponiste, asook een of twee ander, saamgestel is. Die vier kunstenaars wat daaraan deelgeneem het, was Laurika Rauch, Mynie Grové, Des Lindberg en Sias Reinecke.

In die vroeë 1980’s het nog ’n paar kunstenaars wat deel van dié beweging was, na vore getree. Jannie du Toit was saam met onder meer Andy Lubbe, wat vandag die feesdirekteur van InniBos is, deel van die sanggroep Trilogie. Hulle het vorendag gekom met musiek wat ver vooruit was, maar dit was nie juis gewild nie. Jannie het besluit om in meer as een opsig sy eie ding te doen. Hy het sy debuutalbum, ’n Liedjie vir jou, self vrygestel,

Jannie du Toit

gefinansier en bemark en tog het dit by die radiostasies uitgekom en was dit die begin van ’n lang en suksesvolle loopbaan. Jannie het destyds naby die dieretuin in Pretoria gewoon en gereeld musiekaande gehou waartydens opkomende kunstenaars mekaar kon ontmoet en hul jongste komposisies kon deel. Dit was waar mense soos Koos du Plessis, Coenie de Villiers en Lucas Maree mekaar ontmoet het. Hulle het mekaar geïnspireer en met ’n spul nuwe komposisies vorendag gekom. Die televisieprogram Kraaines het ook baie gedoen om nuwe Afrikaanse musiek te bevorder; onder die kunstenaars wat hul musiek daarop aan die publiek blootgestel het, was Laurika Rauch, Coenie de Villiers (destyds in sy Weermag-uniform), Jannie du Toit en die sangpaar Coleske, wat destyds nog op laerskool in Port Elizabeth was. Coenie se debuutalbum, Skoppensboer, het in 1983 verskyn, maar verskeie snitte het onder sensuur deurgeloop.

Hoewel daar nog deurentyd oorspronklike Afrikaanse komposisies was, het Afrikaanse musiek gou weer verval in ’n krisis, want oorsese melodieë met Afrikaanse lirieke het weer gewild geword en die publiek, met die uitsondering van diegene wat in musiek van hoogstaande gehalte belanggestel het, het eerder weer daarna begin luister. Koos se dood in ’n motorongeluk vroeg in 1984 het natuurlik nie gehelp nie; dit het nie lank geduur voordat sy opvolger, Lucas Maree, op die toneel verskyn het nie. Koos en Lucas het saam gewerk en dit was duidelik dat Koos hom geïnspireer het. Lucas het aanvanklik in Engels geskryf en gesing, maar later oorgeskakel na Afrikaans. Lucas het hom as ’n legende in eie reg gevestig, maar is self in die ouderdom van 58 jaar oorlede.

Jannie, Coenie en Anton het dwarsdeur die 1980’s gedurig nuwe musiek vrygestel, terwyl David Kramer, wat weliswaar nie deel van dié beweging was nie, al hoe gewilder geword het met sy mengsel van komiese en ernstige liedjies. David was nog een van daardie kunstenaars wat gedurig in die moeilikheid was oor sy lirieke, maar dit het hom nie van stryk gebring nie. Hy was trouens die laaste Afrikaanse sanger wat ’n treffer op die amptelike Suid-Afrikaanse trefferslys gehad het. Daar was ook ander oorspronklike komponiste wat sukses met Afrikaanse komposisies behaal het, veral Ruben Lennox en Herman Holtzhausen.

Lucas Maree

Teen die einde van die 1980’s was Afrikaanse musiek gereed vir nog ’n rewolusie. Anton Goosen en Lucas Maree het in 1989 die groep bekend as Anton Goosen se Kommissie van Ondersoek gestig, met Karlien van Niekerk en Helena Hettema as die ander twee lede. Hul album, Winde van verandering, was profeties, veral as ’n mens in aanmerking neem wat minder as ’n jaar later sou gebeur. Lucas het egter nie van die politieke strekking van Anton se lirieke gehou nie en die projek het nie langdurige sukses behaal nie.

Die Voëlvry-beweging, met onder meer Johannes Kerkorrel, Koos Kombuis en Bernoldus Niemand, het ’n nuwe era vir Afrikaanse musiek ingelui en het die vooruitgang wat die Musiek-en-Liriekbeweging begin het, voortgesit.

Comments are closed.

error: Content is protected !!