Die storie van Afrikaanse musiek 1 – Pieter Smith

Dis nie sonde nie – Brendan Peyper
Februarie 26, 2019
4 by 4 – 4Werke
Februarie 26, 2019

Deur die jare was daar al ’n aantal pogings om die geskiedenis van Afrikaanse musiek op te teken, soos met Danie C Pretorius se boek Musieksterre van gister en vandag, en kykNET se televisiereeks Kom laat ons sing.

Dit het egter nog nooit tevore gebeur dat ’n kunstenaar ’n album saamgestel het waarop die hoogtepunte van dié geskiedenis voorgekom het nie. Dit het egter nou verander met Pieter Smith se produksie Die storie van Afrikaanse musiek, waarvan ’n CD vrygestel is. Pieter het besluit om te konsentreer op die era tot en met die laat 1980’s toe die Voëlvry-beweging Afrikaanse musiek in ’n nuwe rigting gestuur het.

Die CD begin met Olaf Andresen se bekende komposisie “My hart verlang na die Boland”. Fatman, wat ’n jare lange vriend van Pieter is en bekendheid weens sy deelname aan The Voice verwerf het, sing saam met hom. Hierop bewys Fatman dat hy ’n besondere stem het. Die eerste verrassing op die album is “Lekker dop”, ’n komposisie van Dawid de Lange, wat reeds in die 1940’s oorlede is. Dis wonderlik dat Pieter hierdie liedjie uitgegrawe het en aan ’n nuwe gehoor bekendstel. Sias Reinecke het ’n suksesvolle solo-loopbaan gehad, en “Die seewind bring heimwee”, sy eerste solotreffer, is ingesluit. Een van die min oorspronklike Afrikaanse komposisies wat in die 1960’s ’n treffer geword het, was “Groen koringlande”, wat deur Ben E Madison gewild gemaak is. Johan van Rensburg, die voormalige leier van Noot vir noot se Musiekfabriek, speel klavier op Pieter se opname.

Danie Bosman was ’n pionier van Afrikaanse musiek en hy het so ’n indruk gemaak dat ’n rolprent oor sy lewe, met Franz Marx en Min Shaw in die hoofrolle, in 1969 vrygestel is. Daar is twee snitte waarop sy musiek voorkom. Die eerste daarvan is ’n keurspel waarin “Oom Bossie van die Bosveld” en “Kaapse draai” (nee, nie Steve Hofmeyr se komposisie wat Nadine gesing het nie), voorkom. Die volgende snit is “Die wilgerboom”, een van drie komposisies van Danie Pretorius wat op die album voorkom. Pieter is toevallig oorspronklik van Potchefstroom afkomstig. “In die skadu van ou Tafelberg” is een van Danie Bosman se heel bekendste komposisies en Maria Rademan, een helfte van die sangpaar Twee, sing saam met Pieter. Die bekende RSG-omroeper Johan Rademan is Maria se pa. “Daar’s niks soos ware liefde” was Groep Twee se grootste treffer, en op hierdie opname sing Cobus Snyman saam met hom. Pieter het ’n paar liedjies wat hy al voorheen opgeneem het, weer ingesluit omdat hulle ’n blywende indruk op Afrikaanse musiek gelaat het. Een daarvan is seker die eerste rock-liedjie in Afrikaans, naamlik Anton Goosen se treffer “Blommetjie gedenk aan my”. Nog ’n liedjie waarop Maria saam met Pieter sing, is een van twee komposisies van Cissy en Willie Cooper, naamlik “Jy is my liefling”, wat oorspronklik in die 1930’s gewild geword het, maar weer ’n treffer geword het nadat Min Shaw dit in die gelyknamige rolprent, waarin sy die hoofrol vertolk het. Baie mense weet nie dat Danie Pretorius die komponis van “Ver in die ou Kalahari” was nie. Dit het een van die liedjies geword wat al deur die meeste kunstenaars opgeneem is. Broers, wat bestaan uit Christo en Cobus Snyman, asook Nic Stevens (wie se regte naam Stephan Snyman is en wat Christo en Cobus se jonger broer is), sing saam met hom. Pieter het tydens die konsert waartydens hierdie projek bekendgestel is, erken dat hy byna van Jan Pohl vergeet het. “Die mannetjie” was seker een van sy bekendste komposisies en dit sal almal laat saamsing. “Die spook van Dawid Rosekrans” is oorspronklik deur Leslie Greeff gesing, en Pieter het dit ook voorheen op sy album Spooknote ingesluit.

Ernst van Rooyen het “Daar doer in die Bosveld” saam met Anton de Waal geskryf en dit is gebruik in Jamie Uys se gelyknamige rolprent. “Ou tante Koos” is een van daardie liedjies wat maar deur middel van oorlewering oorgedra is; dis goed dat iemand dit eindelik opgeneem het. Die volgende snit is ’n keurspel van drie liedjies wat met Al Debbo verbind word, naamlik “Die brakke van Turffontein” (wat deur Danie Pretorius geskryf is), “Hasie” en “Daar kom die Alibama”. “Die oukraalliedjie” het al in die 1940’s ontstaan maar dit het regtig eers gewild geword nadat Groep Twee dit in 1966 opgeneem het. Dit het Springbok Radio se Top 20 in Maart 1967 gehaal. Christo Snyman sing hier saam met Pieter. Die meeste mense dink eerste aan “Kinders van die wind” of “Sprokie vir ’n stadskind” wanneer hulle ’n komposisie van Koos du Plessis insluit, maar Pieter het besluit om eerder “Op die pad na Nooitgedacht” op te neem. “Suikerbossie” is een van die Afrikaanse volksliedjies wat nie net in Suid-Afrika bekend geword het nie; Pieter het ’n volledige weergawe daarvan ingesluit. Die laaste snit op die album is nog ’n komposisie van Cissie en Willie Cooper, naamlik “Die donkie”, wat ’n treffer vir Chris Blignaut was.

Die musikale verwerkings op die album is regtig uitstekend, en ’n mens kan agterkom dat Pieter baie moeite daarmee gedoen het. Die Snyman-broers was baie nou by die album betrokke, en hulle hoef niks meer te doen om te bewys dat hulle uiters talentvolle musikante is nie. Natuurlik is Ricus Nel se bydrae as konsertinaspeler op die album ook ’n hoogtepunt.

Dit was regtig hoog tyd dat iemand ’n poging moes aanwend om die geskiedenis van Afrikaanse musiek op te teken, en watter beter manier as om ’n vertoning en ’n CD met die musiek daaruit, saam te stel? Pieter het onderneem om hierdie projek verder te voer, en ’n mens kan nie wag om te sien wat volgende gaan gebeur nie.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!