Dis nie sonde nie – Brendan Peyper

Daai ding – Ivan Roux
Februarie 18, 2019
Die storie van Afrikaanse musiek 1 – Pieter Smith
Februarie 26, 2019

Sedert sy debuutalbum in 2016 verskyn het, het Brendan Peyper een van die gewildste jong kunstenaars op die Afrikaanse musiektoneel geword.

Sy tweede album, wat in 2017 verskyn het, het sy gewildheid net nog verder laat toeneem, en nou is hy terug met sy derde album, Dis nie sonde nie. Net voordat dié album verskyn het, het hy ’n groot deurbraak gemaak en sy gehoor nog verder verbreed, maar meer hieroor later.

Die eerste snit vanaf dié album is “Maak die perde los”, ’n komposisie van Pierre Rossouw. Neil Schoombee het die titelsnit geskryf, en die boodskap is dat ’n mens niemand om verskoning hoef te vra oor hoe jy lewe nie. Dit moet eenvoudig ’n enkelsnit wees as gevolg van die sterk boodskap. Die volgende snit, “Jy  laat dit maklik lyk”, is wel die eerste enkelsnit; dit is maklik om te verstaan omdat dit loodreg op sy teikenmark gemik is. “Vir nou” is nog ’n snit wat op die jonger gehoor gemik is omdat hy sing van wat hy eendag  vir die spesiale persoon in sy lewe wil doen, maar ook van die feit dat sy liefde vir eers genoeg moet wees.  Enige vrou sal hou van die woorde van “Mooi”, wat deur Don Kelly, Sean Butler, Marc Brendon en Adolf Vorster geskryf is. “Klim jou Everest” is nie ’n nuwe snit nie; dit was oorspronklik op die nuwe weergawe van die album Hy loop oop, maar dis goed dat dit ook hier ingesluit is. Die boodskap is dat jy jou verse tromp-op moet loop. “Af die plaas af” is ’n hoogtepunt; die kitaarwerk is baie goed, en veral die plattelandse dames sal van die woorde hou.  “Vat aan my” is nog ’n snit waarvan veral jonger luisteraars sal hou.

Brendan het net ’n paar bekende snitte ingesluit. “St. Elmo’s fire (Man in motion)” was aan die einde van 1985 ’n treffer vir John Parr; die liedjie is natuurlik ouer as Brendan self. Brendan het die liedjie egter sy eie gemaak en werklik ’n skitterende weergawe daarvan opgeneem. Enigiemand wat nog oor Brendan se talent twyfel, hoef net hierna te luister. Met “Die lewe’s te kort” gaan hy egter terug na die ligte Afrikaanse musiek wat hom so gewild gemaak het. Weer eens is sy boodskap dat ’n mens voluit moet lewe. “Ek mis jou vir niks weer nie” is een van die snitte wat hy self help skryf het.  Die laaste Afrikaanse snit op die album is “Reg soos ’n roer”, nog ’n snit wat hy self help skryf het.

Buddy Holly was een van die pioniers van “rock and roll” in die 1950’s, maar hy, Big Bopper en die destyds sewentienjarige Ritchie Valens is op 3 Februarie 1959 in ’n vliegongeluk dood en daar word deesdae na daardie dag verwys as “the day the music died”. Brendan se grootste deurbraak tot dusver was die musiekblyspel oor Buddy Holly se lewe waarin hy die titelrol vertolk het. Brendan kan gelukkig kitaar speel en tydens die vertoning het hy die heel tyd ’n swartraambril soos dié van Holly gedra. Brendan is nou ook nou 22 jaar oud, so oud soos Holly was toe die ongeluk plaasgevind het. Die laaste snit op die album is ’n keurspel uit liedjies van hierdie blyspel, naamlik “Oh boy”, “That’ll be the day”, “It’s so eary”, “Maybe baby” en “Johnny B. Goode”. Laasgenoemde was eintlik Chuck Berry se liedjie. Dis jammer dat ’n hele album van liedjies uit hierdie blyspel nie uitgereik is nie.

Natuurlik is Brendan se musiek hoofsaaklik op ’n jonger gehoor gemik, maar sy vertolking van liedjies wat baie ouer as hy self is, is ’n bewys dat sy musiek ook by ’n groter gehoor byval kan vind. Hierdie album kan daarom vir oud en jonk aanbeveel word. Om Brendan se eie woorde te gebruik; dis nie sonde om na hierdie album te luister nie!

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!