Elke man kraai koning op sy eie (potjiekos) pot

Jan Smuts en sy Isie
Februarie 28, 2019
Hiert, jou nalekoker
Februarie 28, 2019

Deur Yolanda Barnard-Lemmer

Hy staan in die kombuis van ’n lá dí dá-huis in ’n duur voorstad in Pretoria – daardie geparfumeerde oksel van die ooste van Pretoria waar die rykes woon – Olympus.

Soos Zeus van ouds – koning van die potgode. Sy voorskoot, styf gespan oor die potjiemagie, blêr in groot, swart letters: Bos Chef. Fanie Pretorius. Sy oë mik na die horlosie teen die muur, mik na die yskas waarin ’n bottel coke en sy Olaf Berg koud gehou word. “Die Boeing is oor. Ons mag maar al ietsie nuttig.”

Dit is Sondagoggend. Aan te huis van Jan van Eeden, Fanie se bachelor pêl, en dit is hier waar Fanie vandag gaan bewys waarom hy die kroon as potkoning dra.

Potjiekos – so eg Suid-Afrikaans soos jukskei, soos die FAK, soos Fanie, wat al op berge, langs riviere en selfs op ’n boot ’n pot aanmekaargeslaan het.

Tussen 2013 en 2014 het hy sy potjiekos by verskillende kos- en vlooimarkte in Pretoria verkoop. Hy kan ’n pot van enige ding maak – beeshaas, maalvleis, groente, seekos, hoender, vark. Noem dit en Fanie gooi dit in sy pot.

Sy potte is vinnig uitverkoop …

Toe hy nog in Musina – daar bo in Limpopo – gebly het, het hy elke naweek ’n spul mense op sy potte en kokery getrakteer. “Sommer daar in die bosse.”

Fanie, wat eintlik ’n finansiële man is, het in 1988 vir die eerste keer aan ’n potjiekoskompetisie deelgeneem. Geborg deur Uitkyk Vleismark in Silverton in Pretoria wat vandag nog potkompetisies aanbied. Dáái kompetisie het hy nie gewen nie, maar toe het hy geoefen en na 31 jaar het hy al honderde potjiekoskompetisies gewen. Waar daar ’n potjiekoskompetisie was, daar was Fanie.

Hy is ook in 2011 as kykNET se Bring-en-Braai koning gekroon. “G’n groot pryse nie. Dalk ’n braaitang óf ’n pot óf ’n geurmiddel of twee. Om ’n pot- of braaikoning te wees, het meer brag-waarde,” vertel hy. “Vandag maak ek twee potte – die een is net met aartappels, wortels, uie en blesbok. Soos hoe die Voortrekkers ’n pot gemaak het. Sonder enige fieterjasies. En hulle het nie hulle beeste geskiet om te eet nie, aikona, die wild was volop en dit was die Voortrekkers se kos. Potkos.”

Die ander pot – die een met die kruie en speserye – staan op die gasbraaier en sis. “Die goue reël is om eers jou pot – voordat jy jou varkvet of olyfolie ingooi, op die vuur warm te maak.” En dan die blesbok – klaar gekrui en gespesery – lê op die kombuistoonbank, wagtend om gaar te word.

Fanie glo mens moenie ’n pot doodgooi met groente nie – vergeet maar van die sampioene, murgpampoene en elke liewe ander groentesoort. “Ek gebruik net wortels, uie en aartappels en so skoot rooiwyn.”

Dit gaan jollie langs Jan se swembad, terwyl Fanie in die kombuis besig is om die groente te kap en sy eie broodjies te bak. “Kan ek help,” skreeu vriend Coenraad Croukamp. “Nee,” skree Fanie, terug. “Jy ken die reël; niemand neuk met ’n ander mens se pot nie. Nog ’n reël; ’n mens roer nie aan ’n pot nie.”

Na so drie uur is beide potte reg om geëet te word. Die blesbok smelt soos varkvet op die tong … die tradisionele pot, ’n bietjie té wild. “Dit is omdat julle gewoond is aan fênsie eet,” knor Fanie. “Dit is eintlik natuurlike kos.”

Die lá dí dá-kombuis is silwerskoon. Fanie se voorskoot potjievuil. “Al kraai elke man koning op sy eie pot, moet ek sê; die pot was hel lekker.”

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!