Leon Gropp en sy geliefde Martelize
Februarie 28, 2019
Elke man kraai koning op sy eie (potjiekos) pot
Februarie 28, 2019

Deur Riana Mulder

Die naam Jan Smuts ontlok nou nog, baie jaar na sy dood in 1950, ’n sterk reaksie by mense. Daar is baie Afrikaners wat hom steeds as ’n verraaier beskou omdat hy bereid was om saam met die Britte in die twee Wêreldoorloë te veg, en min Suid-Afrikaners besef regtig die omvang van sy roem in die buiteland.

Die man was briljant en die Cambridge Universiteit beskou hom blykbaar steeds as een van hulle beste studente ooit. Ten spyte hiervan was sy beeld hier in Suid-Afrika dié van ’n koue, ambisieuse mens wat nie gehuiwer het om harde besluite te neem en deur te voer nie: ’n sterk leier, maar nie een wat in voeling gebly het met diegene wat aan hom gerapporteer het, en die land se mense nie.

Wanneer jy deur sy korrespondensie lees, kry jy egter insig in sy ware persoonlikheid, en leer jy die mens ken vir wie sy vrou Isie vir amper sewentig jaar opreg en getrou liefgehad het.

Die twee het mekaar ontmoet toe hy 17 en sy net 16 jaar oud was. Isie was ’n pragtige, fyn meisietjie met donker krulhare en ’n vlymskerp brein. As tweede oudste van ’n groot, gelukkige gesin was sy die moedertjie wat na haar jonger broers en suster omgesien het op die familieplaas Kleine Libertas, net buite Stellenbosch. Haar ouers was gemoedelike mense wat hulle kinders aangemoedig het om te leer, en toe sy en die bure se nuwe loseerder ontmoet en verlief raak, het hulle haar toegelaat om saam met hom verder aan die Victoria College te gaan studeer.

Die twee was van die begin af mekaar se beste vriende en sielsgenote, wat saam lang ente in die veld gaan stap het, gedigte gelees het, en sommer net vir ure mekaar se geselskap kon geniet. Na universiteit het Jan hom in Brittanje verder as ’n prokureur gaan bekwaam, terwyl Isie naby haar ouerhuis skoolgehou het.

Dit was eers 10 jaar later, toe hy reeds as prokureur in Johannesburg gepraktiseer het, dat Jan op ’n dag besluit het dat hy nie langer kan wag nie, op die trein geklim het, en vroegoggend onverwags by die Kriges se huis opgedaag het om sy bruid te kom haal. Binne ’n paar dae was die huwelik voltrek, sommer so in die voorkamer, en het die jong egpaar vertrek om hulle huwelikslewe in Johannesburg te gaan begin.

Dit kon nie maklik gewees het vir Isie om deur al die jare getrou en lojaal aan haar man te bly nie – hy was lang tye weg, en sy moes byvoorbeeld tydens die oorlog die dood van hulle 16 maande-oue seuntjie alleen hanteer, terwyl sy self in Pietermaritzburg onder huisarres was. Later jare, tydens die hoogtepunt van sy loopbaan, was daar ook soms gerugte dat hy verhoudings met ander vroue gehad het – Jan was lief vir intellektuele gesprekke en het byvoorbeeld lang briewe aan die Griekse koningin, Frederica, en Emily Hobhouse geskryf.

Maar as ’n mens deur sy korrespondensie lees, skemer sy opregte liefde vir sy vrou, sy veilige hawe in die storms wat om hom gewoed het, duidelik deur. Selfs al was hy in die vreemde besig om oorlog te voer, was hy betrokke by elke klein detail van haar en hulle kinders se lewens. Hy het haar ‘Mamma’ genoem, en sy vir hom ‘Oubaas’. Menslik, eg, opreg.

Sy verlange na haar en die kinders is duidelik uit elke brief, hy skryf by elke geleentheid, en druk sy frustrasie en hartseer uit wanneer hy soms besoeke aan sy gesin moes uitstel of onderbreek omdat sy werk dit van hom vereis het.

En daardie wonderlike, rustige vrou van hom het geduldig gewag, al die werk van die plaas en ses woelige kinders alleen hanteer en geweet dat wanneer hy dit die nodigste het, haar Oubaas sy siel by haar sal kom verkwik. Nare gerugte en aanslae teen haar man moes haar ontstel het, maar sy was so seker van hulle liefde vir mekaar, dat sy nie net staande gebly het nie, maar self op haar stil, beskeie manier ’n merkwaardige bydrae tot sy loopbaan gelewer het met haar ondersteuning en hulp tydens die oorloë. Haar ‘Ouma’s Gifts and Comfort Fund’  het haar ook wêreldbekend tydens die Tweede Wêreldoorlog gemaak.

Die storie het darem ook ’n gelukkige einde gehad – vir die laaste jare van hulle lewens het hulle rustig saam gewoon op hulle geliefde plaas, Doornkloof, waar eers die Oubaas, en vier jaar later sy Isie hulle laaste asems uitgeblaas het. Albei se as is op die koppie agter die huis gestrooi.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!