Weiveld tunes Vol. 3
Februarie 26, 2019
Jan Smuts en sy Isie
Februarie 28, 2019

Deur Seugnet van Zyl

NP van Wyk Louw se gedigte het só met hom “gepraat” dat hy nie anders kon as om dit te toonset nie, want toe hy dit lees, het hy “musiek” gehoor.

Leon Gropp, ’n Pretoriase sanger, wat vir lank deel was van die kitaarduo, CH2, en deesdae te sien is op Ontbytsake, vertel dat hy “definitief ’n tipe van ’n muse in Van Wyk Louw se werk gevind het”.

“Dit het ook soos baie ander goed in my lewe net met my gebeur. Dit het so half net op my pad gekom. Ek het sy gedigte gelees en toe hoor ek musiek. Dit het baie met my gepraat en toe het ek dit getoonset.”

Hy sê mense se reaksie op Rooidag, ’n verhoogproduksie wat bestaan uit sy toonsettings van NP van Wyk Louw se gedigte, is ongelooflik. 

“Dit is ’n bietjie van hoe ek dit (Van Wyk Louw se gedigte) sien en ek gebruik ook baie keer van sy essays as ’n bindingsteks. Dit sit mense net weer in ’n spasie van hoe ongelooflik hierdie ou was en sy nalatenskap in Afrikaans en die manier waarop hy 60 jaar terug gedink het, is vandag nog baie relevant. Eintlik dink ek ons het dit nog baie nodig vandag, veral in Afrikaans. Veral ouens wat oopkop kon dink om op ’n regte intellektuele vlak te dink oor waarheen gaan ons as kinders van Afrikaans.”

Leon het met Rooidag, sy konsep-album, verlede jaar tydens die US Woordfees in Stellenbosch ’n Woordtrofee ingepalm.

Hy sing al sy hele lewe lank, maar het onlangs eers op sy eie sangloopbaan begin fokus.  Hy was vir lank ’n lid van CH2, al het hy eers in sy voorlaaste jaar op hoërskool sy eerste kitaar persent gekry. Saam met Corneille Hutten-Burger, die ander lid van CH2, het hulle die afgelope tien jaar ’n hele rits toekennings,  waaronder Vonk-, SAMA- en Ghoema-toekennings vir Beste Instrumentele Album, ingepalm. Leon het ook nou weer begin klavierlesse neem.

“Ek het vir lank klassieke sangopleiding gehad, en omdat ek vir só lank eintlik die sang ‘afgeskeep’ het, was daar vir die laaste paar jaar die hunkering om dit weer te begin doen. Ek het ook klavier gespeel toe ek baie klein was en toe opgehou. Ek het nou weer begin klavierlesse neem. Kitaar het ek ook nie aanvanklik ernstig opgeneem nie.”

In sy derde of vierde jaar op universiteit het hy begin om klassieke kitaarlesse te neem en in 2007 het hy by CH2 aangesluit. Al fokus hy nou meer op sy sang, speel hy steeds kitaar.

Dit is juis sang wat hom en sy vrou, Martelize, ’n spraakterapeut en oudioloog, eindelik bymekaar uitgebring het.

Leon en haar suster, Monica, het destyds in 2002 saam in die universiteitskoor gesing. Jare later in 2010 het Monica vir Martelize oorreed om saam met haar na ’n vertoning van Vertikaal, die kontemporêre Christelike orkes, waarvan Leon ook ’n lid was, te gaan kyk.

“My sussie was ver swanger en wou nie alleen gaan nie vir as daar dalk iets sou gebeur. Toe pickle ek maar saam,” vertel Martelize laggend.

Sedertdien is sy en Leon saam en vir die afgelope ses jaar getroud.

Wie is Leon by die huis?

“Beslis nie ’n nutsman nie,” laat hoor Martelize laggend, maar Leon is beslis ’n aktief betrokke man en pa vir hulle twee dogtertjies, Kara-May (2) en Alaya (5 maande).

Tyd saam met sy familie is vir hom die belangrikste.

“Ek is ’n groot familieman.”

Leon (35) het verlede jaar ’n liedjie vir Martelize vir haar 33ste verjaarsdag geskryf.

Hy sê die liedjie, “Jy in my gedagtes”, is baie persoonlik en spesifiek vir Martelize geskryf. Tog sê hy het hy die liedjie ook abstrak genoeg geskryf dat enigiemand aanklank daarby sal vind.

“Dit verpersoonlik die eenvoudige waarheid van ware liefde. Liefde wat sê ek kan waarskynlik lewe sonder jou in my lewe, maar sonder die herinneringe van jou sal ek nie kan lewe nie.”

Die lirieke lui: “Hoe eensaam sal ek wees sonder jou in my gedagtes? Hoe leeg sal my lewe wees sonder jou in my hart? By jou is my huis. By jou is ek tuis.”

Martelize sê sy is baie dankbaar vir dié liedjie.

“Die liedjie het met tyd en stories gekom. Dit was nie net ’n serenade-tipe-ding nie. Dit was eintlik vir my verjaarsdag bedoel.”

Sy eerste solo-enkelsnit, en musiekvideo vir “Bakenlig” is vroeër in 2018 vrygestel en pryk steeds op radiostasies se trefferparades landwyd. “Jy in my gedagtes”,  sy tweede enkelsnit wat later in 2018 vrygestel is, word net so goed ontvang. 

Wie is hy by die werk?

“Ek doen verskillende goed en dit is ook hoe ek dit verkies. Noem my maar ’n verkleurmannetjie. Ek raak vinnig verveeld. Trouens ek hou van vernuwing. Ek floreer op verandering. Niks bly dieselfde nie. In my musiek is ek baie perfeksionisties, maar in my alledaagse lewe is ek eintlik deurmekaar,” lag hy.

Leon vat vanaf 21 Februarie tot en met 5 Maart 2019 die pad en toer vanaf Pretoria tot by die US Woordfees met solo-optredes sowel as die produksie, Wolkedans, waarvan hy deel is.  Hierdie produksie, wat bestaan uit drama en musiek, is geskep deur hom,  Pierre Breytenbach en Zander van der Westhuizen. Dit open amptelik by die US Woordfees, maar daar sal twee vertonings in Pretoria wees voordat die produksie Stellenbosch toe gaan.

Wolkedans vertel die storie van ’n man wat op pad is om sy verlede te konfronteer.  Onverwagse interaksies met kleurryke karakters bring hom egter voor ’n keuse:  sal sy verlede hom vashou of sal die eerlike waarheid hom bevry?  Wolkedans is ’n musiekgedrewe teaterstuk wat lirieke met diepgang en elemente van folk, jazz en kabaret kombineer om gestalte te gee aan die worsteling van ’n hedendaagse karakter.

Dan gaan Leon ook vanjaar ’n vollengte CD bekendstel.

“Daar is paar lekker colabs (samewerkings met ander kunstenaars) op pad,” is al wat hy vir nou uit sy mou wou laat oor wat ’n mens van die CD kan verwag.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!