Voëlvry – die rewolusie van Afrikaanse musiek

Openbarings plaas godsdiens in die kollig
Februarie 28, 2019
Die hoop vir bewaring lê by die kinders
Maart 22, 2019

deur Daantjie Dinamiet

In 1979 het die Musiek-en-Liriekbeweging die Afrikaanse musiekbedryf soos ’n bom getref en almal het gehoop dat dit die einde van bestaande wysies met Afrikaanse woorde sou beteken.

Hoewel die kunstenaars wat deel was daarvan steeds in die 1980’s musiek bly maak het en ’n paar nuwe kunstenaars in daardie tyd tot die bedryf toegetree het, het dit die Suid-Afrikaanse publiek nie lank geneem om weer na dieselfde tipe Afrikaanse musiek as voor die ontstaan van Musiek en Liriek te begin luister nie. Die bewys daarvan was dat net drie van die tien liedjies wat tussen 1980 en 1989 as die Treffer van die Jaar op die radioprogram Afrikaanse Treffers oorspronklike Afrikaanse komposisies was. Om sake te vererger, het elke Treffer van die Jaar, van 1984 tot 1990, ’n oorsese wysie met Afrikaanse woorde gehad.

Die jonger Afrikaanssprekende musiekliefhebber se geduld het gou opgeraak; nie net met hierdie tipe Afrikaanse musiek nie, maar ook met die onderdrukking van die apartheidsregering. Die Musiek-en-Liriekbeweging het weliswaar hoop gegee dat dinge dalk sou verander, maar die volgende rewolusie, wat Afrikaanse musiek in ’n heeltemal nuwe rigting sou stuur, was om die draai.

In 1983 het Lloyd Ross ’n groot treffer gehad met die temamusiek uit die gewilde televisiereeks Vyfster.  Hy was die een persoon wat vir hierdie rewolusie verantwoordelik was met die stigting van Shifty Records, wat ’n stem gegee het aan kunstenaars wie se musiek andersins heeltemal deur sensuur onderdruk sou word.  Die eerste album wat hy uitgereik het, was

Koos Kombuis

Ver van die ou Kalahari van die skrywer en sanger André le Roux du Toit, wat sy naam eers na André Letoit en later na Koos Kombuis verander het. Die titelsnit was natuurlik op die wysie van die ou bekende liedjie “Ver in die ou Kalahari”. Die album is aanvanklik eers “ondergronds” versprei maar later is dit op openbare aanvraag op CD uitgereik. Onder die snitte wat gewild geword het, was “Lalie”, “Boer in beton” en “Bar op De Aar”. Dit was duidelik dat Letoit (later Koos Kombuis) geen respek vir die apartheidsregering gehad het nie en hy het soms vuil taal gebruik om sy boodskap oor te dra. Baie onderdrukte jong Afrikaners kon hulle hiermee vereenselwig.

James Phillips

Die Voëlvry-beweging het sy naam gekry van die titelsnit van ’n versamelalbum van kunstenaars wat almal aan die alternatiewe spektrum was, en weer eens is dit deur Shifty Records uitgereik. Die titelsnit is deur die joernalis Pieter van der Lugt geskryf en gesing. Een van die ander kunstenaars wat ook na vore getree het, was James Phillips, wat onder die naam Bernoldus Niemand gesing het. Sy debuutalbum, Wie is Bernoldus Niemand?, is in sy geheel deur die SAUK verbied; liedjies soos “Hou my vas Korporaal” (waarin hy ten sterkste teen diensplig standpunt ingeneem het), “Snor city” (’n gespot met Pretoria se staatsamptenare) en “Boksburg bommer” (oor die bokser Gerrie Coetzee) het geen kans gehad om radiolugtyd te kry nie en tog het die album gewild geword. Hy is in 1996 in ’n motorongeluk oorlede.

Die naam van die Voëlvry-album en -beweging was eintlik dubbelsinnig, aangesien dit “vry soos ’n voël” of “buite beskerming van die wet” sou kon beteken. Daar word vertel dat die beweging amptelik op 4 April 1989 in ’n volgepakte klub in Johannesburg ontstaan het. Die gedagte was dat die toer wat hieruit ontstaan het, by alle universiteitskampusse sou aandoen, maar die rektore van al die Afrikaanse universiteite het die kunstenaars toegang tot die kampusse verbied. Die hoofrede, naas die boodskap van rebellie en rewolusie, was die kunstenaars se taalgebruik. Hulle het hulle nie laat onderkry nie en elders opgetree. Die media het nie baie goed op die toer gereageer nie, en gesê die lirieke was naïef.

Johannes Kerkorrel

Een van die belangrikste figure in die Voëlvry-beweging was Ralph Rabie. Hy was ’n verslaggewer by Rapport en sy verhoognaam, Johannes Kerkorrel, is doelbewus gekies om die spot met die NG Kerk te dryf. Nadat hy begin het om oudpresident PW Botha se toesprake in sy musiek te gebruik, het sy werkgewer ’n ultimatum aan hom gestel; hy moes bedank of hy sou afgedank word. Hy het bedank. In 1988 het sy debuutalbum saam met die Gereformeerde Blues Band, nog ’n dwarsklap na die kerk, getiteld Eet kreef, verskyn. Elke snit op die album, met die uitsondering van “Hillbrow”, is deur die SAUK verbied. Kerkorrel het in vuil taal sy mond oor ’n hele spul kwessies uitgespoel. In “Energie” het hy beswaar gemaak teen die reëls waaraan hy gedwing is om hom te onderwerp. Hy het die Nasionale Party-regering gevloek met “Sit dit af”, en terselfdertyd ook gesê wat hy van die SAUK se nuusdekking gedink het. Die snobs het ook onder sy skerp tong deurgeloop; “BMW” was ’n ondubbelsinnige dwarsklap na hul doen en late. “Hillbrow” het egter ’n baie groot treffer geword. In 1992 het Kerkorrel hierdie album opgevolg met sy eerste solo-album Bloudruk, wat as een van die beste Afrikaanse albums tot nog toe beskou word. Hierdie album het ’n spul treffers opgelewer, onder meer “Halala Afrika”, wat hy in 1994 met die inhuldiging van oudpresident Nelson Mandela gesing het, “Hoe ek voel”, “Somer” en “Toekomsrap”. Later het hy ’n treffer gehad met sy weergawe van die bekende volksliedjie “Al lê die berge nog sou blou”. Sy eerste versamelalbum, Tien jaar later, wat in 1998 uitgereik is, het al sy treffers bevat, asook twee vroeë opnames, naamlik “Almal moet gerook raak” en “Wat ’n vriend het ons in PW”, laasgenoemde ’n dwarsklap na oudpresident PW Botha op die wysie van die ou Hallelujalied “Wat ’n vriend het ons in Jesus”. Kerkorrel het op 12 November 2002 sy eie lewe geneem toe hy 42 jaar oud was.

Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band

Hoewel Anton Goosen deel van die Musiek-en-Liriekbeweging was en een van die min destydse kunstenaars was wat ’n volhoubare loopbaan gehad het, het ook hy ’n nuwe rigting ingeslaan. Tot op daardie stadium het hy nie eintlik oor politiek geskryf of gesing nie, maar met Winde van verandering, die debuutalbum van Anton Goosen se Kommissie van Ondersoek, het dit verander. Die ander lede van dié groep was Lucas Maree, Karlien van Niekerk en Helena Hettema. Die album het ’n paar treffers opgelewer, onder meer “Kalbassies”, “Gatvol (Die 1990-gat-vol-aarde-boereblues)”, “Huis toe met ’n waitress”, “Jerigo se mure” (Lucas se bydrae tot die album), “Rabbedoe” en “Moya”. Dit was die Kommissie van Ondersoek se enigste album, aangesien Lucas nie van die politieke strekking van sommige van die lirieke gehou het nie.

Benewens Koos Kombuis, wat tot vandag toe ’n suksesvolle loopbaan as skrywer en sanger het, en Johannes Kerkorrel, wat tot met sy dood aktief in die musiekbedryf was, het die belangrikste rolspelers in die Voëlvry-beweging van die toneel verdwyn. Dit het egter die weg gebaan vir die toetrede van kunstenaars soos Francois van Coke en Karen Zoid en groepe soos Die Heuwels Fantasties en Van Coke Kartel, wat die rewolusie nog verder sou voer en minder kommersiële musiek nog meer toeganklik vir ’n breë gehoor sou maak.

Comments are closed.

error: Content is protected !!