Die hoop vir bewaring lê by die kinders
Maart 22, 2019

Deur Yolanda Barnard-Lemmer

Môre lyk dit anders …” krys Lydia Winchester, die sangeres Rina Hugo se gouejaretreffer, uit. Hier en daar druk mense hulle ore toe …. “Agge nee, Lydia, kerm ’n joernalis, jy ken die musiekbedryf so goed soos wat jy jou hoëhakskoene ken, maar moet eerder nie probeer sing nie …”

“Ja, spot maar,” lag sy. “Dit is my Rina se spesiale liedjie en die woorde van die liedjie is ook my lewensleuse.”

En daar trek sy weer los. Op ’n Maandagmiddag by Leriba Lodge in Centurion. Hier en daar staar ’n paar sakemanne, maar Lydia met haar gejelde bottelrooi hare, Pieter Stuyvesant-sigaret in die mond en glas witwyn in die hand is nie gepla nie. Inteendeel, sy sal sommer harder begin sing.

Hoewel Lydia nie Die kontrak sal wen nie, weet sy watter Afrikaanse liedjie ’n nuwe treffer gaan wees. Sy weet ook wie die nuwe in-stem in die musiekbedryf gaan wees, en sal sommer ook reguit vir ’n sanger sê om van “dáárdie vieslike hemp” ontslae te raak of om ’n kilogram of twee te verloor.

Of soos sy onlangs aan ’n bekende sangeres gesê het: “Ek sal jou nuwe enkelsnit bemark, maar jy sal níé oor jou man se testament of oor die hofsaak in die media praat nie. Ons fokus op jou musiek.”

Ja, Lydia. Amen. Auntie Poppie. Selfs die bekendste sterre aan die Afrikaanse musiekhemelruim luister as auntie Poppie (soos hoe sy in die musiekbedryf bekendstaan) praat. Die moederhen van die Afrikaanse musiekbedryf, want al is sy soms so kwaai en puntenerig soos Miranda Priestly uit The Devil wears Prada, is sy die Afrikaanse musiekbedryf se enigste rasegte reputasiebestuurder. Sy is perfeksionisties en uitgesproke en soms sal sy ’n harde woord laat val as die media nie ophou karring nie, maar alles wat sy gedoen het, opgeoffer het, was vir haar sangers. Háár mense wat sy met die swaai van haar skakelwese-stokkie vanuit rokerige kroeë na die Superbowl (of is dit nou Times Square?) opgehef het.

G’n wonder sy is verlede jaar vereer met ’n Ghoema-toekenning vir lewenslange bydrae tot die Afrikaanse musiekbedryf nie. En nou, dié jaar het kykNET ’n dokumentêr oor haar vervaardig wat by die Silwerskermfees bekendgestel gaan word. “Ek was nogal senuweeagtig,” vertel sy. “Ek mag nie na die kamera gekyk het nie en ek moes ook die heeltyd my lippe inkleur. En dan het ’n paar sangers ook oor my gepraat. Ek het nooit vir al die aandag gevra nie. Dit het net gebeur.”

Dis ’n mooi storie. Die Lydia Winchester-storie. ’n Blondekop (sy verkies haar rooi bottelhare) van Springs wat langer as drie dekades gelede nog by Delta-motors gewerk het. Toe vir ’n onderhoud by die destydse Decibel-musiek gegaan het. Boet Pretorius was die grootbaas en Leon Schuster die maatskappy se topverkoper. “Toe fluister Leon in die Ouman se oor dat hy my moet aanstel, want ek het stunning bene.”

En so het Lydia pens en pootjies in die musiekbedryf beland. Sangers soos Rina Hugo, Annelie van Rooyen en Carike Keuzenkamp van radiostasie na radiostasie, van media-onderhoud na media-onderhoud karwei.

Nou op 63 is sy steeds op die regte noot. Jan Blohm en Juan Boucher. Spoegwolf en Irene-Louise van Wyk wat “ek van vandag af help met haar nuwe enkelsnit. Dit is stunning,” sê sy. ’n Nuwe treffer? “Baie beslis. ’n Trefferliedjie se koor moet eenvoudig wees.”

Dan is daar nog ook die Ouman (Boet) vir wie sy besig is om ’n partytjie te reël. “Eintlik ’n Decibel-reünie. Almal wat destyds (die wat nog leef) by die platemaatskappy betrokke was, gaan daar wees. Shame, die Ouman is 82. Hy het so baie vir die musiekbedryf beteken. Ek het ook televisiedekking vir die dag gekry. Bravo en Jukebox gaan daar wees. Wow, daar gaan omtrent tweehonderd mense wees. Noem hulle, en hulle is daar.”

Haar foon piep-piep. Dit is ’n stemnota van Charles Schmidt, voorsanger van Beeskraal. “Lydia, dankie vir wat jy alles vir die musiekbedryf gedoen het. En dankie ook vir al die verskynings wat jy vir ons op Jukebox gereël het.”

“Dit is ook nou die einde van Jukebox,” sê Lydia en raak amper bewoë. Na elf seisoene gaan kykNET-kykers ook totsiens moet sê vir Pieter Koen en die Saterdagaand musiekvideo’s. “Dit was ’n wonderlike platform om opkomende kunstenaars te bemark. Jukebox het aan opkomende sangers geleenthede gebied. Ons het goed saamgewerk.”

Maar Lydia sal altyd maniere vind om haar sangers se CD’s te bemark. “Hier is juis ’n paar nuwe uitreikings,” sê sy en pak die CD’s op die tafel uit. “Spoegwolf is in die Kaap, maar jy kan ’n e-posonderhoud doen. Dankie!”

Soos blits is sy weer weg, op pad na Lekker FM om CD’s af te laai. Die belle van die partytjie, maar vanaand as sy by die huis kom, braai sy vir haar en haar wolhaarpoedel ’n vleisie en kyk na Binnelanders. “Ek is eintlik ’n alleenmens.”

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!