Boeremusiek: so eg Suid-Afrikaans soos biltong en koeksisters

Op die noot-af met Lydia Winchester
Maart 28, 2019
Dis oukei om nie oukei te wees nie
April 23, 2019

deur Daantjie Dinamiet

As daar een musiekvorm is wat as eg Suid-Afrikaans beskou kan word, is dit Boeremusiek, maar dit het eintlik lank geduur voordat dit volksbesit geword het.

Daar word gesê dat Boeremusiek, soos ons dit ken, in die 1800’s, of dalk vroeër ontstaan het. Die konsertina, soos ons dit vandag ken, is deur Sir Charles Wheatstone, uitgevind. Hy was veral bekend as ’n wetenskaplike wat vir baie van die wetenskaplike deurbrake van die Victoriaanse era verantwoordelik was. Die konsertina is in 1829 uitgevind, en is aanvanklik gebruik vir klassieke en kamermusiek. Die Heilsleër het dit ook in lande soos die VSA, Engeland, Australië en Nieu-Seeland gebruik omdat dit ’n meer draagbare alternatief vir koperblaasinstrumente was, maar die gewildheid daarvan vir hierdie doel het in die vroeë twintigste eeu begin afneem.

Boeremusiek het aanvanklik van Engeland af na Suid-Afrika toe gekom, maar dit het ’n unieke Suid-Afrikaanse klank gekry, veral aangesien verskillende tipes konsertinas gebruik word. Benewens die Engelse konsertina is daar ook die Boerekonsertina met ’n eiesoortige klank wat meer in tradisionele Boeremusiek gebruik word. Die verskil in voorkoms is duidelik sigbaar, aangesien ’n Boerekonsertina se kante gewoonlik van hout gemaak is.

Daar is twee verskillende denkrigtings wat die klank van Boeremusiek betref, asook verskillende menings van wat Boeremusiek eintlik is, of behoort te wees. Die meer tradisionele Boereorkeste bestaan uit ’n konsertina, miskien ’n trekklavier, ’n ritmekitaar, ’n banjo, ’n basviool en ’n orrel of klavier. Daar is egter ook ’n meer moderne klank wat veral in die 1980’s begin posvat het: sommige Boereorkeste bestaan ook uit elektroniese klawerborde, elektriese kitare, baskitare en tromme. Daar was ook sekere Boereorkeste wat ander hoofinstrumente gehad het, soos ’n viool, terwyl ’n konsertina in sommige orkeste heeltemal afwesig is.

Silver de Lange

Deur die jare was daar ’n aantal Boereorkesleiers wat legendariese status verwerf het. Een van die bekendstes was Silver de Lange. Johannes Petrus de Lange, wat op 14 Julie 1904 in Johannesburg gebore is, was die leier van die Vyf Dagbrekers. Silver het nie net die konsertina leer speel nie, maar ook die serfyn (’n soort traporrel) en die kitaar. Hy het glo sy bynaam gekry weens die suiwer klank wat sy konsertina voortgebring het. Die vervaardigers van die Wheatstone-konsertina in Engeland het hom op ’n stadium genader om te help met die herontwerp van dié wêreldbekende instrument, maar niks het daarvan gekom nie en Silver is op 18 Desember 1956 oorlede. Anton Goosen se komposisie, “Silver de Lange”, waarin Silver se lewensverhaal vertel word, was nie net ’n treffer vir Anton self nie, maar ook later vir Carike Keuzenkamp.

Japie Laubscher

Nog ’n legende was Japie Laubscher, wat op 3 Junie 1919 in Kaapstad gebore is. Japie het ’n kenmerkende styl gehad en hoewel baie mense hom probeer naboots het, kon niemand dit regkry nie. Hy het nie net die ou tradisionele wysies gespeel nie, maar ook gedurig met nuwe komposisies vorendag gekom. “Die ou waenhuis” is seker een van die heel bekendste Boeremusiek-komposisies tot nog toe en selfs die Serenata-sangers se weergawe, wat natuurlik woorde bevat het, het ’n groot treffer geword. Toe hy gehoor het dat oud-Staatspresident CR Swart van Boeremusiek gehou het, het Japie ’n hele stel van sy plate aan hom oorhandig. Japie is op 5 April 1981 oorlede, maar ’n versameling van sy musiek, wat hy alles self gekomponeer het, is in 1997 onder die titel Die Kaapse legende leef voort, op CD uitgereik. Benewens “Die ou waenhuis” het dié versameling ook snitte soos “Al te bly”, “Spuitdrift se polka”, “Liefling van my” en “Vergeet my nie” bevat.

In die 1980’s het Boeremusiek ’n oplewing beleef toe die SAUK ’n tweejaarlikse Boereorkes-kompetisie op televisie uitgesaai het. Die eerste wenner was Neels Mattheus, en latere wenners was onder meer Dirkie Smit, Nico van Rensburg en Boetie Kallis. Hoewel die meeste orkeste hoofsaaklik die moderne tipe Boeremusiek gespeel het, was dit ’n vereiste dat elke orkes minstens een wysie op die tradisionele manier, sonder elektriese of elektroniese instrumente of tromme, moes speel. Die kompetisie is tot in 1992 uitgesaai. Die gewildheid van die program Konsertinaklub op die Afrikaanse radiodiens van die SAUK, vandag RSG, het ook al hoe meer toegeneem en hierdie program word vandag nog gereeld uitgesaai.

Boeremusiek het ook ’n invloed op ander vorme van Afrikaanse musiek gehad, en ’n konsertina kon al in verskeie gewilde Afrikaanse treffers gehoor word. Die Suid-Afrikaanse popgroep The Bats het die eerste Afrikaanse rugbyliedjie, “Groen en goud”, in 1968 vrygestel en die sewende plek op Springbok Radio se Top 20 daarmee gehaal. Barry Jarman, een van die vier lede van die groep op daardie stadium, het konsertina gespeel. Later dieselfde jaar het hulle nog ’n Top 20-treffer met Weltevrede-stasie gehad, weer eens met Barry Jarman wat konsertina gespeel het. Anton Goosen was een van die leiersfigure van die Musiek-en-Liriekbeweging en ’n konsertina is in verskeie van sy komposisies gebruik, onder meer sy eie treffer “Kruidjie-roer-my-nie” en “Ta’Mossie se sakkie-sakkie Boeredans”, wat ’n groot treffer vir Sonja Herholdt geword het. Nog ’n treffer van Sonja waarin ’n konsertina gehoor kon word, was “Blouwaterberge”. In 1981 het die Springbok-rugbyspan deur Nieu-Seeland getoer en David Kramer het sy trefferliedjie, “Haak hom Blokkies”, met Eddie Wilkinson op konsertina, vrygestel net voordat die toer begin het. Terwyl die toer aan die gang was, het hierdie liedjie opgang op Springbok Radio se Top 20 gemaak en die naweek van die laaste toets, wat om die verkeerde redes onthou sal word, het dié liedjie die laaste oorspronklike Suid-Afrikaanse komposisie geword wat die eerste plek op Springbok Radio kon haal. In Desember daardie jaar het hy dit opgevolg met “Royal Hotel”, weer eens met Eddie Wilkinson op konsertina. Daar was ook ’n paar Afrikaanse sangers wat albums vrygestel het waarop hulle met Boeremusiek-legendes saamgespan het. Die suksesvolste hiervan was Blackie Swart en Manie Bodenstein se album So ry die Boere (met veral die titelsnit waarop Blackie die banjo bespeel het wat gewild was) en Vuur en vlam, waarop Valiant Swart saam met Ollie Viljoen gewerk het. Hulle het hierdie album later opgevolg met Wild en wakker.

Klipwerf-Orkes

Hoewel die meeste bekende konsertina- en trekklavierspelers reeds oorlede is, is daar ’n nuwe geslag wat na vore gekom het. Die Klipwerf-orkes vier vanjaar sy vyftigste bestaansjaar en hoewel daar ’n meningsverskil is oor of hul musiek regtig as Boeremusiek beskou kan word en hulle nie meer as die Klipwerf-Boereorkes bekendstaan nie, kan hul gewildheid nie weggepraat word nie. Ricus Nel het die laaste tyd nie net as veelvuldige instrumentalis bekendheid verwerf nie, maar ook as sanger. Hy maak seker dat daar op elke album wat hy vrystel, minstens een stukkie Boeremusiek is. Die Kaapse Affodille slaan die wanopvatting dat Boeremusiek net deur ou mans gespeel word, behóórlik die nek in; dit is ’n vroueorkes met meer as een konsertinaspeler en hulle is enige tyd net so goed soos ’n orkes wat uit mans bestaan. Kosie Beukes is een van die jongste musikante in die Afrikaanse musiekbedryf, maar hy weet wat om met ’n konsertina te doen.

Kosie Beukes

Hoewel daar mense is wat Boeremusiek as vervelig beskou, en mense wonder waar komponiste aan titels vir hul komposisies kom, is die doemprofete wat hierdie eg Suid-Afrikaanse musiekvorm se einde voorspel het, ver verkeerd. Solank daar nuwe musikante op die toneel verskyn, en hopelik met nuwe komposisies vorendag kom, sal Boeremusiek bly voortleef.

Comments are closed.

error: Content is protected !!