Op die noot-af met Lydia Winchester
Maart 28, 2019
Sewe stemme wat met een hart saamsing
April 23, 2019

Deur Seugnet van Zyl

Sy eie stryd met obsessief-kompulsiewe steuring (OKS), het die akteur Pietie Beyers binne drie weke ’n fliek daaroor laat skryf.

Die doel van die opkomende fliek, Skemerson, fokus egter nie net op OKS nie, maar wil vir ander sê dis oukei om nie oukei te wees nie.

“Skemerson raak uitdagings onder die oppervlak aan. Dit bied vertroosting en stel mense gerus om oor dié uitdagings te praat. Dis uiteindelik ’n storie van menswees,” verduidelik hy sy beweegrede waarom hy juis dié fliek, wat deels op sy eie lewe gebaseer is, gemaak het.

Pietie het die regie van dié fliek behartig, hy speel die hoofrol en het dit help vervaardig.

Pietie is verlede jaar met OKS gediagnoseer nadat hy vir agt maande ’n soort “angsaanval” beleef het.

Hy verduidelik dat sy “tipe OKS beteken dat hy aan patologiese twyfel ly”.

Skemerson, wat op 3 Mei in rolprentteaters begin wys, is volgens hom bloot die voertuig vir ’n baie groter gesprek.

“Ek wil daarmee aan mense sê jy mag teerpunte hê. Dis die undercurrent. Dis die groter prentjie wat ek wil aanraak.”

Pietie vertel hoe nader hy aan homself gekom het, hoe harder het hy gewerk.

“Ek het presies geweet wat ek met Skemerson wou sê. Dit gaan oor ’n diep menslikheid.”

Buiten dat dit vir hom diep persoonlik was, wou hy ook die broosheid en weerloosheid van die mens met Skemerson vasvang.

Anneke Weidemann, Pietie se meisie van die afgelope drie jaar, speel saam met hom en Elize Cawood, in Skemerson.

Anneke, nou ’n doktor, het as aktrise in flieks soos Die Wonderwerker en Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom bekend geword.

Pietie het Skemerson saam met Niel van Deventer, vervaardiger van die fliek Dis ek, Anna, vervaardig.

Dit speel af in die Tsitsikamma-bos in Knysna. 

Nes sy karakter in dié rolprent, Sella, wie se naam in Hebreeus “plek van vrede beteken”, simboliseer dié bekende woud dieselfde.

Klik hier om na die lokprent te kyk: https://www.youtube.com/watch?v=qBnhcYIV5xg

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!