Wanneer is instrumentale musiek nie Boeremusiek nie?

As die voëls begin trek …
April 30, 2019
20 jaar live – Jakkie Louw
Junie 7, 2019

deur Daantjie Dinamiet

Baie mense verkeer onder die wanopvatting dat alle instrumentale musiek wat deur Afrikaanssprekende kunstenaars gemaak word, Boeremusiek is.

Die kriteria van wat Boeremusiek is en wat nie, is eenvoudig: Boeremusiek het gewoonlik ’n konsertina of trekklavier as hoofinstrument hoewel sommige kitaarmusiek ook as sodanig geklassifiseer kan word. Die vraag is ook of musiek met ’n konsertina of trekklavier as hoofinstrument maar moderne instrumente soos tromme, elektriese kitare en klawerborde as Boeremusiek geklassifiseer kan word. Daar is meningsverskille hieroor.

Daar was egter deur die jare ook ’n aantal instrumentaliste wie se musiek bloot instrumentaal was. Een van die pioniers van die vroeë 20ste eeu was die klavierspeler Jim Muller. Hy het reeds in 1938 begin om opnames van sy keurspele te maak; dit is aanvanklik op 78-spoed plate uitgereik maar later op langspeelplaat vrygestel. Hy was goed bevriend met Chris Blignaut en het landwye konserttoere saam met hom en Hendrik Susan onderneem. Hy het Chris ook op die klavier op sy eerste album begelei. Hy is in 1962 in die ouderdom van 64 jaar oorlede.

Taffie Kikilus

Nog ’n bekende klavierspeler wat omtrent dieselfde tyd op die toneel verskyn het, was Taffie Kikilus. Hy het die eerste klavierlangspeelplaat in Suid-Afrika, getiteld Taffie plays for you vrygestel, en sy eie orkes aan die Universiteit van Stellenbosch gehad. Taffie was verantwoordelik vir ’n stukkie boereverneukery. Die album Ghitaar se moses is deur ene Sewus van Rooyen opgeneem en vrygestel, maar Sewus het nooit bestaan nie en daar was glad nie ’n kitaar op die album nie. Die klank is eerder deur Taffie op ’n klawesimbel voortgebring en hy het selfs ervare musikante op hierdie manier om die bos gelei.  Taffie was ook ’n bekende rolprentakteur; hy het homself in onder meer Hier’s ons weer, Altyd in my drome en Alles sal regkom as pianis vertolk, maar as akteur in onder meer Gevaarlike spel, Matieland, Boerboel de Wet, Hou die blink kant bo en Fratse in die vloot opgetree. Taffie se seun, Karl, is ’n bekende radio-en-televisiepersoonlikheid, en het al programme soos Video 2 aangebied terwyl hy ook omroeper by onder meer Highveld Stereo en Five FM was. Hy het ook ’n enkelsnit as sanger opgeneem. Taffie is in 2014 in die ouderdom van 87 jaar oorlede.

Hendrik Susan

Een van die leiersfigure met die ontstaan van Afrikaanse musiekrolprente was Hendrik Susan, wat bekendheid as orkesleier en violis verwerf het. Hy het al met die simboliese ossewatrek in 1938 bekend geword, veral met sy vertolking van onder meer Danie Bosman se bekende komposisie “Boereseun”. Nadat hy ’n minder suksesvolle konserttoer onderneem het, het hy die eerste Afrikaanse klub, die Werda, waar mense na musiek kon luister en kon dans, in Johannesburg geopen. Sy orkes was seker die eerste groot dansorkes en hy het gereeld van instrumente soos ’n viool, klavier, trekklavier, elektriese kitaar, basviool en  tromme gebruik gemaak. Hendrik was ook ’n goeie saksofoonspeler maar hy het dit nooit in sy orkes gebruik nie. Hy het van die beste moontlike musikante gebruik gemaak en altyd probeer om ook ’n goeie sanger te hê. Die orkes was later so gewild dat die plekke waar hulle opgetree het, stampvol was en daar nie plek vir alle belangstellendes was nie. Hendrik se komposisie “Huisie in die berge”, is gekomponeer na aanleiding van ’n huis wat regtig bestaan het. Dit was op die plaas Haarlem, waar hy grootgeword het. Hoewel hy ’n suksesvolle musikant was, het hy in 1941 besluit om te boer en die plaas te gebruik as hoofkwartier van waar hy sy musiekloopbaan sou voortsit. Hoewel Hendrik se musiek as ligte Afrikaanse musiek beskou kon word, het hy nie op Boeremusiek neergesien nie. Die bewys daarvan was dat hy wel ou FAK-liedjies en Boeremusiek op plaat vasgelê het. Teen die einde van sy lewe het hy die jong sopraan Lucille Ackermann, wat later saam met Francois van Heyningen gesing het en met hom getroud was, ontdek. Hy is op 25 April 1963, kort voor sy sestigste verjaardag, in Piet Retief oorlede.

Kerrie Bornman

Oom Kerrie Bornman was een van die groot geeste in Boeremusiek en sy seun, Ricardo, het sy pa se talent by hom geërf. Hy was een van die min kitaarspelers in Suid-Afrika wat met oorspronklike komposisies vorendag gekom het, en baie daarvan is gereeld oor die radio gehoor. Onder sy bekendstes is “Ressano Garcia” (vernoem na die grenspos tussen Suid-Afrika en Mosambiek), “Lentevrolikheid”, “Skemeraand”, “Sondebok”, “Umfaan” en  “Kareebosch”. Hy het ook ten tyde van die grensoorlog die treffer, “Die grenswag”, geskryf. Die jong sanger Gerry Lottering het dit opgeneem maar hy is kort daarna oorlede. Ricardo se instrumentale weergawe was egter ook uiters gewild. Ricardo is in 2000 oorlede, maar ’n paar jaar daarna het Deon van der Merwe hulde aan hom gebring deur twintig van sy treffers op sy album Kitaarjolyt, wat ’n huldeblyk aan hom was, op te neem.

Die veelsydigste instrumentalis in ons land se geskiedenis was Flippie van Vuuren, wat blykbaar meer as dertig musiekinstrumente kon bespeel en ook as komponis bekendheid verwerf het. Onder die instrumente wat hy kon bespeel, was die klavier,  trekklavier,  traporrel,  elektriese orrel,  konsertina, klarinet, saksofoon en melodika.  Onder sy bekendste komposisies was “Orrelkaskenades”, “Gesondheid”, “Los voor” en “Oom Hendrik se setees”, asook “Groen koringlande” en “Wiederschau”, wat onderskeidelik treffers vir Ben E. Madison en Jurie Ferreira was.

Die bekendste en gewildste orkes in Suid-Afrika is die Klipwerf-orkes, wat voorheen as die Klipwerf-Boereorkes bekendgestaan het. Weer eens is die vraag of hul musiek as Boeremusiek beskou kan word of nie. Vir die meeste van hul aanhangers maak dit in elk geval nie saak nie. Hulle vier vanjaar hul vyftigste bestaansjaar, hoewel hulle eers die laaste dertig jaar landwyd gewild geword het. Hulle het nog altyd ’n balans tussen bekende oorsese en plaaslike komposisies en nuwe plaaslike skeppings gehandhaaf en is oral in groot aanvraag.

Rocco de Villiers

Rocco de Villiers is tans ons land se voorste klavierspeler, en sy gewildheid het die afgelope paar jaar toegeneem, veral nadat hy sy album Beautiful beautiful piano vrygestel het. Hy het intussen nog ’n paar suksesvolle albums vrygestel, onder meer Beautiful beautiful hymns, Country keys en Stunning, terwyl sy jongste vrystelling, Kort broek lang kouse, teen die einde van 2018 vrygestel is. Die musiekvideo van sy vertolking van Jim Muller-keurspel nr. 1 was uiters gewild, en snitte soos “Roccobilly”, “Kla 1 kla 2 kla 3 kla 4”, asook “Wat om te dra agter op ’n bakkie”, vanaf sy nuwe album, het treffers geword.

Die Ventertjies

Die toekoms van instrumentale musiek is in goeie hande as gevolg van twee sussies wat ’n kitaarduo gestig het en reeds drie albums vrygestel het. Die Ventertjies bestaan uit Nicola en Lindie-Lee Venter, wat van kleins af al musiek maak. Hulle speel nie net ou bekende snitte nie, maar hulle het, veral op hul nuwe album, Vanaand dans ons weer, gewys dat hulle ook hul eie wysies kan komponeer. Hulle is nog jonk en daar wag nog ’n blink toekoms op hulle.

Gedurende die bestaan van Springbok Radio se Top 20 was daar net twee plaaslike instrumentale snitte wat kon toetree. In Mei 1967 het die Boet van Wyk-orkes ’n Top 2-treffer gehad met “Oliekolonie”, wat toevallig later ook deur Groep 2 opgeneem is. Groep 2 was terselfdertyd op die trefferslys met “Die oukraalliedjie”. “Oliekolonie” het die tiende plek op die Top 20 gehaal. Teen die einde van 1982 was Vyfster, met George Ballot in die legendariese rol van Skollie, op Suid-Afrikaanse televisie. Die tema, gespeel deur Lloyd Ross, is op ’n kortspeler uitgereik; dit het in Januarie 1983 tot die Top 20 toegetree, die derde plek gehaal en negentien weke daarop gebly. Dit het uitgesak net voordat die trefferslys van twintig na dertig liedjies vergroot is. Teen die einde van daardie jaar is dit as die Treffer van die Jaar op Edwill van Aarde se program Afrikaanse Treffers aangewys. Dit was die grootste “Afrikaanse” instrumentale treffer ooit. Lloyd Ross het later die platemaatskappy Shifty gestig; dit was die begin van die Voëlvry-beweging.

Die toekoms van instrumentale musiek lyk belowend; daar is ’n aantal begaafde instrumentaliste wat gereeld nuwe musiek komponeer en opneem; solank dit gebeur, sal die vraag daarna net aanhou toeneem.

Comments are closed.

error: Content is protected !!