Wanneer is instrumentale musiek nie Boeremusiek nie?
Mei 10, 2019
Country things – Alan Ladd
Junie 7, 2019

Hoewel hy eers met sy treffer “Drie pikkewyne” in omtrent 2006 gewild geword het, het Jakkie Louw verlede jaar sy twintigste jaar in die Afrikaanse musiekbedryf gevier.

Hy het dit herdenk met ’n konsert in die Rockwood-teater in Pretoria, en hierdie konsert is pas op DVD uitgereik. Hierdie konsert is seker die naaste aan ’n loopbaanoorsig wat tot dusver uitgereik is, en dit bevat nie net sy eie komposisies nie, maar ook ’n paar liedjies wat hy gereeld by vertonings sing.

Die eerste snit op die album, “Ek en jy en ’n bottel Tas”, is op sy eerste kommersiële album, Alles in een glas, uitgereik en het een van sy vroeë treffers geword. “Rambo die polisiehond”, wat hy ook self geskryf het, kom uit die dae toe hy nog as student in Stellenbosch in kroeë opgetree het voordat hy bekend geword het. Dis goed dat hy hierdie snit ingesluit het, want dit is as’t ware die liedjie wat sy loopbaan as sanger en liedjieskrywer aan die gang gesit het. Jakkie het twee “persoonlikhede”; sy vrolike kant maar, belangriker nog, ook sy ernstige kant. Eersgenoemde kom in die volgende twee snitte na vore; baie mense dink “Die hoender-song” is belaglik, maar dit behoort nie ernstig opgeneem te word nie. “Koekie Loekie” is ook al deur Quentin Prinsloo opgeneem; dit is ’n liedjie wat glo in die Kaap ontstaan het. Jakkie het dit op sy mees onlangse album ingesluit. Jakkie hou daarvan om stories te vertel; “Die spookhuis van Pretoria-Oos” vertel die verhaal van die Erasmus-kasteel naby Hoërskool Waterkloof. In die rolprent Hier’s ons weer, waarin Al Debbo en Frederik Burgers die hoofrolle vertolk het, was dié kasteel ’n spookhuis, vandaar die bynaam.

Die eerste twee oorsese liedjies wat hy ingesluit het, was treffers vir dieselfde groep, maar tog wyd uiteenlopend. Jakkie het die twee Bee Gees-treffers “To love somebody” en “Staying alive”, in ’n keurspel gekombineer. “Rooi Willie” is ook ’n oorsese komposisie, hierdie keer met Afrikaanse woorde. Jakkie skryf nie gewoonlik Afrikaanse woorde vir bestaande wysies nie, maar hierdie snit is Ram Jam se 1970-treffer “Black Betty” met Afrikaanse woorde. “Voshaarnooi” is ’n Boerneef-gedig wat deur Louis van Rensburg getoonset is; Jakkie het dit saam met Kevin Leo opgeneem, maar met hierdie optrede het hy dit alleen gesing. “Een miljoen woorde” is een van Jakkie se mooiste komposisies, maar die musiekvideo is effens ontstellend. Dit beeld die verhaal uit van twee verliefdes, maar die vrou is sterwend aan kanker. Die liedjie gaan oor wat ’n mens met ’n miljoen sou doen, in hierdie geval een miljoen woorde. “Rum en raspberry” is weer ’n lekker partytjieliedjie na aanleiding van ’n drankie wat baie gewild in Mosambiek is. “Wie sê jy is jy” wys weer sy meer ernstige kant. “Drowsy Maggie” is die enigste instrumentale snit; die violis wat deel is van sy orkes, stel haar talent hier baie goed ten toon. Jakkie het ook drie bekende televisiereekse se temaliedjies in ’n keurspel saamgevoeg, naamlik “Agter elke man”, “Trompie” en “Brakanjan”. Die laaste drie snitte sal veral byval vind by dié wat van Jakkie se minder ernstige liedjies hou, naamlik “Maroelaboom”, wat nie te ernstig opgeneem behoort te word nie, “My tipe party” en natuurlik die een liedjie waarsonder geen Jakkie Louw-vertoning volledig sal wees nie, naamlik “Drie pikkewyne”.

Met hierdie vertoning het Jakkie weer eens gewys hoekom hy die afgelope twintig jaar so gewild was. Hy weet hoe om ’n gehoor aan sy kant te kry en hoe om ’n lekker konsert te hou. Daarom sal hierdie DVD by ’n groot gehoor byval vind. Kom ons hoop dat Jakkie ons nog baie lank gaan vermaak!

Comments are closed.

error: Content is protected !!