Voel jy die genade? – Jo Black

Afrikaners is plesierig
Junie 11, 2019
’n Duisend keuses – Samantha Leonard
Junie 11, 2019

Twee jaar gelede het Jo Black die Afrikaanse musiekbedryf soos ’n bom getref toe sy debuutalbum, Skepe, vrygestel is.

Hy het met verlede jaar se Ghoema-toekennings skoonskip gemaak en dié album was tot onlangs toe baie gewild. Die vraag was natuurlik, waarmee sou hy dit kon opvolg? Die belangstelling in sy tweede album, Voel jy die genade?, was só groot dat die bekendstelling daarvan met ’n week vervroeg is.

Die titelsnit, wat Jo saam met Christoph “Appel” Kotze, Johan Vorster en Roan Ash geskryf het, gee ’n mens reeds ’n idee van wat om te verwag. Jo het weer eens vorendag gekom met ’n liedjie wat ’n baie sterk positiewe boodskap verkondig. “Spring” motiveer ’n mens om voluit en sonder vrees te lewe. “Huis op die heuwel” is nog ’n goeie snit; hierin sing hy van iemand wat ’n lig in die donker is. Die gelykenis van die verlore seun was seker die inspirasie van die snit “Verlore seun”, wat dalk outobiografies van aard is, omdat Jo self ’n moeilike lewe gehad het. In “Ek sal sing”, sing Jo van die uitwerking wat musiek op ’n mens kan hê; hy moedig ’n mens aan om jou stem te laat hoor. Jo se lae en hoë register op hierdie snit klink baie goed. “Bitter” is die naaste aan ’n liefdesliedjie wat op die album voorkom, maar terselfdertyd sê hy dat hy bang is om die persoon wat hy liefhet, te verloor. In “Jy’t my gewys”, sing hy van die invloed wat ’n pa op sy seun se lewe het.

“Die lig” is ’n lekker rock-snit, waarop hy sê dat ons die lig vir die wêreld moet wees. “Vreesloos” is nog ’n snit waarop Jo ’n mens aanmoedig om die lewe voluit aan te pak sonder om bang te wees. “Hand op jou bors” motiveer jou om voort te gaan, al gaan dit moeilik. In “Kinders sê”, sing hy van die invloed wat ’n ouer se optrede op kinders het. Die laaste Afrikaanse snit is “Wat as”, waarin hy sê dat ’n mens net moet lewe en moet vergeet van wat dalk kan gebeur. Die laaste snit op die album is ’n uitstekende weergawe van Leonard Cohen se “Hallelujah”.

Soms gebeur dit dat ’n kunstenaar wat ’n uitstekende debuutalbum vrystel, dit nie met ’n tweede een wat van dieselfde gehalte is, kan opvolg nie. Gelukkig kan dit nie van Jo se tweede album gesê word nie; hierdie album is net so goed soos sy eerste een, indien nie beter nie. Niemand sal ’n mens oortuig dat dit nie een van die beste CD’s van 2019 gaan wees nie.

Comments are closed.

error: Content is protected !!