Singende kinders is gelukkige kinders

’n Duisend keuses – Samantha Leonard
Junie 11, 2019
Een dorp, twee rowers
Junie 20, 2019

deur Daantjie Dinamiet

In die dae voordat televisie na Suid-Afrika gekom het, is kinders gedwing om hulself te vermaak.

Musiek was een manier waarop hulle dit reggekry het, en veral in daardie tyd was daar sommer baie liedjieskrywers wat vorendag gekom het met liedjies wat op kinders gemik was. Die bekendste hiervan was Anna Rudolph, wat geglo het dat liedjies vir kinders ook deur kinders gesing moes word. Sy het as onderwyseres en later ook as ma ’n aanvoeling vir kinderliedjies ontwikkel en verskeie liedjies, operettes en stories geskryf. In 2011 het Irma Liebenberg ’n verhandeling vir haar MMus-graad, met die resepsie van Anna Rudolph se Afrikaanse kinderliedere deur Afrikaanssprekendes as onderwerp, ingedien. Baie van Anna Rudolph se komposisies is gereeld in Afrikaanse skole gesing in die dae toe sangonderrig, veral op laerskoolvlak, nog verpligtend was. Anna is op 9 April 1924 gebore en het in ’n musikale huis grootgeword. Sy het van kleins af klavierlesse geneem, maar benewens musiek het sy haar kreatiwiteit ook op ander maniere uitgeleef, onder meer skilderkuns en toneel. Sy is in 1945 met Coenie Rudolph getroud; hy was ’n dosent in Afrikaans aan die Pretoriase Onderwyskollege en ’n bekende digter en skrywer. Sy het ’n leemte in Afrikaanse kindermusiek raakgesien en het baanbrekerswerk hierin verrig. Sy het geglo dat musiek wat vir kinders bedoel is, ook deur kinders gesing moes word, en haar vier kinders, Ina, Lize, Annatjie en Kobus, het op haar kinderalbums opgetree. Sy was trouens heeltemal gekant teen die gebruik van volwasse stemme vir haar kinderliedjies en haar vertrekpunt dat kinderliedjies deur kinders gesing moes word, het haar van haar tydgenote en opvolgers onderskei. Sy het gesê dat kinders makliker sou kon identifiseer met stemme wat dieselfde as hul eie was, en dat volwassenes eerder die rol van ’n ouer of onderwyser sou vertolk. Daarby het sy geglo dat singende kinders gelukkige kinders is en dat elke kind op ’n manier musikaal is. Haar eerste langspeelplaat is in 1963 uitgereik en nóg twaalf het gevolg. In 1985 is haar Volksangbundel gepubliseer; dit het 167 van haar komposisies bevat. Hoewel Anna se kinders op haar albums gesing het, het sekere volwasse kunstenaars ook van haar komposisies opgeneem; Carike Keuzenkamp het “Dorstyd” en “Dienie-mini-nooi” op haar eerste Afrikaanse album, Almal se keuse ingesluit terwyl “Koeranteverkopertjie” een van Bles Bridges se vroeë treffers was.

Betty Misheiker

Nog ’n gewilde komponis van kindermusiek was Betty Misheiker. Die vertolking van haar komposisies het egter heeltemal van dié van Anna Rudolph verskil in die sin dat twee volwasse stemme daarvoor gebruik is, naamlik die sopraan Doris Brasch en die bas Dawie Couzyn. Hulle albei was eintlik bekend vir operamusiek, maar hul vertolking van Betty Misheiker se komposisies het groot byval gevind. Die inspirasie vir baie van dié liedjies het uit die diereryk gekom, veral met liedjies soos “Die vlakvarkfamilie”, “Spring bobbejaantjie”, “Die olifant”, “Twee klein voëltjies” en “Gert Kameelperdjie”. Daar was egter ook ’n aantal van dié liedjies wat belangrike lewenslesse bevat het, onder meer “Die lappop”, “Die dapper muis” en “Die eensame krokodil”. Sommige ander liedjies het ook gegaan oor onderwerpe wat deel van kinders se verwysingsraamwerk was, soos “Handjies klap”, “Die reën”, “Tingeling”, “Die windpomp” en “Opstaan”. Omtrent al dié liedjies het die toets van die tyd deurstaan, en sommige van hulle is later opgeneem deur kunstenaars soos Lindie Roux en Carike Keuzenkamp.

In 1967 het die Afrikaanse musiekbedryf vir die eerste keer kennis geneem van Lindie Roux, wat die rol van Marietjie Retief in die rolprent Hoor my lied vertolk het. Lindie was destyds nog omtrent tien jaar oud, maar dit was die begin van ’n baie suksesvolle sangloopbaan. Lindie het nie net ’n aantal solo-albums opgeneem nie, maar ook ’n duetalbum saam met Pietie Meyer, wat in 1970 verskyn het. Die bekendste snit op hierdie album was “Feëtjieland”, ’n Afrikaanse weergawe van John Edmond se treffer “Fairy tales”, met Afrikaanse woorde deur André Viljoen. Nog ’n John Edmond-treffer wat hulle in Afrikaans gesing het, was “Round and around”; die Afrikaanse weergawe het bekendgestaan as “Rondomtalie”, en weer eens het André Viljoen die Afrikaanse woorde geskryf. Betty Misheiker se komposisies “Die dapper muis” en “Die lappop” (wat Lindie alleen gesing het), is ook op die album ingesluit. Lindie se soloalbum, Hoor my lied, wat in dieselfde jaar verskyn het, het treffers soos “Cu cu ru cu cu paloma”, “Westewindjie” en “Verlore in ons drome” bevat. In 1971 het sy die titelrol in die rolprent Lindie vertolk, teenoor Pietie Meyer en Lance James, wat ook die temaliedjie gesing het. Hoewel sy kort daarna besluit het om op te hou sing, is ’n versameling van haar musiek, met die gepaste titel Hoor my lied, in 2003 op CD uitgereik.

Met die koms van televisie het Carike Keuzenkamp die aanbieder van die televisieprogram Kraaines geword. Hoewel Carike se musiek tot op daardie stadium hoofsaaklik op ’n volwasse gehoor gemik was, het sy met hierdie program ’n groter, en jonger teikengehoor bereik. Sy het nie net ’n Kraaines-album vrygestel nie, maar ook ander kinderalbums soos Carike in Smurfland, asook verskeie Carike in kinderland-albums waarop sy bekende en nuwe kinderliedjies gesing het. Haar grootste sukses was egter, ironies genoeg, ’n liedjie wat nie vir haar ’n Top 20-treffer was nie. In die beginjare van televisie was Heidi, ’n reeks wat uit Duits in Afrikaans vertaal is, uiters gewild onder oud en jonk. Peter Lotis en Herbie en Spence was met onderskeidelik Engelse- en Afrikaanse weergawes terselfdertyd op Springbok Radio se Top 20, maar miskien sou Carike baie groter sukses met haar weergawe behaal het as dit net as ’n kortspeler uitgereik is. Carike se weergawe het die toets van die tyd baie beter as die ander twee deurstaan en baie mense verbind haar eerder met dié gewilde liedjie. Later het Carike ook twee nuwe karakters, naamlik Ghoempie en Ghoeghoe, by haar kinderalbums ingesluit; die CD’s en DVD’s waarop hulle verskyn het, was uiters gewild. Carike se loopbaan strek nou al meer as vyftig jaar en sy is ’n ware legende van Afrikaanse musiek, nie net onder volwassenes nie, maar ook onder kinders.

Nog ’n uiters gewilde televisiereeks in die laat 1970’s was Pinocchio, maar terwyl die oorspronklike weergawe van die temaliedjie van Heidi gebruik is vir die Afrikaanse weergawe van die televisiereeks, het Mynie Grové ’n oorspronklike Afrikaanse temaliedjie geskryf. Dit was ook die titelsnit van wat seker die bes verwerkte Afrikaanse album tot nog toe was. Claude Larson, die leier van die Claude Larson-sangers, het saam met Jan Grové, Mynie se destydse man, gewerk en met ’n aantal uitstekende oorspronklike komposisies vorendag gekom. Soos met Betty Misheiker was Mynie se liedjies hoofsaaklik oor kinders se verwysingsraamwerk, onder meer “Skapie mê”, “Tjoeke tjoeke paf”, “Ons ou motorkar”, “Al in die rondte” en “Kalie Kieterkat”, met ’n aansteeklike baslyn en skitterende klawerbordwerk. Die mooiste snit op die album was “Sleutels”, wat belangrike lewenslesse bevat het.

Die afgelope tien jaar of wat het twee ander sangeresse van kinderliedjies na vore getree. Elizabeth Fourie is nie net die een helfte van ’n gewilde Afrikaanse sangpaar wat saam met haar man, Francois, verantwoordelik was vir die groot treffer, “Wil, jy dans, Carina?”, nie, sy is ook bekend as die komponis en sangeres van hedendaagse kinderliedjies. Sy het al sewe kinderalbums, waaronder twee Christelike albums, vrygestel en verskeie van haar komposisies is in 2012 in die nuwe FAK-Sangbundel ingesluit. Onder haar bekendste komposisies is “Morsjors”, “Olke bolke”, “Drie hoera’s vir die Mossiespan”, “Pannekoek”, “Dierbare Ouma”, “Hondemaatjie” en “As Oupa so sê”, asook “Ek is bly ek ken vir Jesus”, wat in die Liedboek van die Kerk ingesluit is.

Nedine Blom het haarself as ’n uiters veelsydige sangeres bewys, nie net met haar volwasse kontemporêre musiek nie, maar ook haar Supercool-albums wat op kinders gemik is. Die eerste Supercool-album het bekende liedjies soos Mark Annandale se treffer “Rondomtalie” en ’n keurspel met bekende Afrikaanse liedjies bevat, tesame met nuwe treffers soos “Akkedisse likkewane”, “My sussie jol die jukebox”, “Olke bolke partytjiesong” en “Die volstruisdans”. Die tweede Supercool-CD het hoofsaaklik internasionale partytjieliedjies bevat, maar Nedine het dit opgevolg met twee Supercool vir Jesus-albums, met bekende liedjies soos “Ons Koning kom”, “Weet jy dat Jesus jou liefhet?”, asook nuwe liedjies soos die titelsnit en “Popcorn”.

Deur die jare was daar ook heelwat kinderliedjies wat in die Halleluja, die Jeugsangbundel en die Liedboek van die Kerk ingesluit is, asook ’n paar wat deur die FLAM-kommissie van die NG Kerk goedgekeur is. Die bekendste kinderliedjies in die Halleluja-sangbundel was sekerlik “Jesus roep my vir ’n sonstraal”, “As Hy weer kom”, “Jesus min my, salig lot” en “Laat ons skyn vir Jesus”. Die koms van die Jeugsangbundel het ’n groot verskil gemaak in die sin dat kinders toegang tot al hoe meer liedjies wat amptelik deur die kerk goedgekeur is, gehad het. Onder die nuutskeppings wat gewild geword het, was “Loof Hom met die tromme”, “Kyk hoedat die voëltjies vlieg”, “Bly volhard soos atlete”, “Ek is bly” en “Loof die Heer Hy is goed”. Dit is nog verder gevoer met die Liedboek van die Kerk, wat alle vorige sangbundels vervang het en in 2001 in gebruik geneem is. Benewens nuwe woorde vir “As Hy weer kom”, was daar ook ’n aantal nuutskeppings, soos Braam Hanekom se uiters gewilde “Alle volke klap jul hande” en Elizabeth Fourie se komposisie “Ek is bly ek ken vir Jesus”. Intussen is daar deurentyd nuwe liedere deur die kerk goedgekeur, onder meer “Keer jou tong”, “Laat almal weet”, “My God is so groot” en “Weet jy nie jy’s ’n tempel?”

Hoewel daar vandag meestal op klankversterkers, CD’s en ander hulpmiddels staatgemaak word, is daar steeds plek vir onderwysers en ouers wat liedjies wat vir kinders bedoel is, op ’n eenvoudige manier soos met klavierbegeleiding vir hulle aanleer. Solank daar bladmusiek vir kinderliedjies bestaan en solank daar volwassenes is wat dit vir kinders aanleer, sal dit vir altyd bly voortleef.

Comments are closed.

error: Content is protected !!