Vrystaatse vrou is nou president van wêreldorganisasie
Junie 20, 2019
Met Sara se verhaal kan veral ’n vrou op verskeie vlakke vereenselwig
Junie 21, 2019

Die woorde: Bryce gaan betaal, staan op 'n verlate huis buite Philippolis in die Suid-Vrystaat. Foto: Neels Jackson

Deur Neels Jackson

Dis soos wanneer ’n braaivleisreukie op die aandlug na jou toe aandryf, maar jy weet nie wie braai nie en kry self nie eens ’n happie om aan te smul nie.

So kom ’n mens soms af op ’n flerts van ’n storie wat jou snuf in die neus laat kry dat daar heelwat meer moet wees. Daar is ’n enkele stukkie inligting wat uitskreeu dat hier ’n groter verhaal lê, maar uiteindelik moet jy maar self die moontlikhede invul. Jou verbeelding moet voortborduur op dit wat jy het – en wie weet, dalk word daar dan ’n storie gebore, al was dit nie wat regtig gebeur het nie.

Ons het deur die vervalle ou opstal gestap. Dit moes ’n mooi plek gewees het. Van die stoep af kan ’n mens nou nog oor die leegte uitkyk na waar die son in die middag sak.

Stap jy in by die gaping waar daar vroeër ’n voordeur sou wees, lei die gang jou verby ’n paar vertrekke dieper die huis in. Waar die gang ’n T maak, draai jy links om in die leefvertrek te kom. Die gat waar daar ’n kaggel eens was, roep tonele op van knus winteraande en lekker kuiers met stories wat deur rooiwyn verryk word.

Hoe sou die vloer gelyk het? Dalk lieflike geelhoutplanke … Maar dié is lankal weg. Nou groei daar net bossies.

En as jy omdraai, tref die boodskap teen die muur jou: BRYCE GAAN BETAAL. Net dit, in groot hoofletters teen die muur van dié eens deftige sitkamer. ’n Kort Afrikaanse sin wat bars van emosie.

Wie het dit geskryf? Wie was Bryce? En wat het hy gedoen om te sorg dat iemand soveel magtelose woede op die binnemuur van ’n vervalle woonplek uitskreeu?

Niemand weet meer nie. Dié skrif is dekades lank reeds aan die muur. Wat van Bryce en die skrywer geword het, kan ’n mens maar net raai.

Maar die frustrasie van die oomblik is vasgelê. Die magteloosheid van die woede is duidelik. As die skrywer in die posisie was om Bryce aan die strot te gaan gryp, om vir Bryce die leviete voor te lees en hom ’n les te leer, was daar immers geen rede om sy woede op die muur los te laat nie.

Wat het Bryce gedoen? Het hy die skrywer se hand by ’n lieftallige meisie in die as geslaan? Het hy hom in ’n transaksie verneuk, dalk ’n skaap aan hom verkoop wat Bryce voor sy siel geweet het siek was en wat drie dae later gevrek het? Of het hy die skrywer gaan beskinder in die klein gemeenskappie wat eens hier, op die rand van die Karoo, gebly het? Het Bryce ’n klomp leuens oor hom gaan vertel en so gesorg dat oop deure voor hom toeklap?

Hoe sal ons weet?

Ons weet nie eens hoe ernstig die saak was waaroor dit gegaan het nie. Vir al wat ons weet was (of is?) ons skrywer iemand met ’n humeur wat in 3 sekondes van 0 tot 100 kan opvlam. Iemand wat in die woede van die oomblik sy wraaksug in hoofletters op ’n muur kon vaslê. Maar iemand wie se toorn net so vinnig weer kon afkoel.

Wie weet, dalk het hy en Bryce dieselfde aand nog saam ’n koeldrank gedrink en gelag oor die hele petalje wat agter hierdie woorde lê. Of lê Bryce se oorskot dalk iewers onder een van die hopies tussen die vervalle huise en ander geboutjies in hierdie plekkie met die spoggerige naam Waterkloof?

Daar is soveel vrae oor wat hier, ’n klompie kilometer buite Philippolis in die Suid-Vrystaat  gebeur het.

Was dit die laaste bewoner van dié spoghuis wat so kwaad geword het? Of het hierdie vulkaan ontplof lank nadat die deftige huis aan die genade van die elemente oorgelaat is?

Het die anonieme skrywer ooit berou gehad oor die woorde wat hy geskryf het en oor wat hy daarna gaan doen het?

Of was dit dalk ’n sy?

Comments are closed.

error: Content is protected !!