Die Boerevrou-tydskrif: die moeder van Afrikaanse vrouetydskrifte

Een dorp, twee rowers
Junie 20, 2019
Lesufi die boelie
Junie 20, 2019

Deur Tanya de Vente-Bijker

Presies ’n eeu gelede het die eerste vrouetydskrif in Afrikaans verskyn. Die Boerevrou was die visionêre projek van Mabel Malherbe. Dr. Jeanette van Rensburg het die ryk kulturele geskiedenis van die bestaan van dié besondere tydskrif nagevors en in ’n gedenkboek uitgegee.

Dit is 2019. Jy sit op jou bank, voete op die ottoman, jou cappuccino duskant van jou. Op jou tabletrekenaar het jy sopas die splinternuwe uitgawe van jóú gunsteling Afrikaanse vrouetydskrif afgelaai. Jy is reg om vir ’n halfuur weg te raak in die bladsye met nuus oor akteurs, modetendens en ander interessanthede.

Dit is 1919. Jou oumagrootjie is sopas terug van die dorp waar sy Die Boerevrou vir die eerste keer gekoop het. Haar koppie tee staan reg, sy vee haar hande deeglik af aan haar voorskoot voor sy by die eetkamertafel gaan sit. In haar hande is die moeder van die Afrikaanse vrouetydskrif: Die Boerevrou. Dis ’n nuutjie. Sy het gehoor hoe haar vriendinne gons oor dié tydskrif in hul eie taal en sy het uiteindelik haar eie kopie.

Van tesis tot tydskrif

’n Eeu het verloop, maar die Afrikaanssprekende vrou het steeds die behoefte aan ’n tydskrif in haar eie taal. Die Boerevrou word gesien as die voorloper van Suid-Afrika se grootste Afrikaanse vrouetydskrif Sarie.

Jeanette vertel sy het in 2012 haar doktorsgraad oor die geskiedenis van Die Boerevrou gedoen. Haar niggie het die saadjie by haar geplant om ’n boek daaroor te skryf en toe sy twee jaar gelede besef dit is vanjaar presies ’n eeu sedert die eerste uitgawe die lig gesien het, was die koeël deur die kerk. Jeanette het met haar navorsing besef dis belangrik dat die geskiedenis opgeskryf word sodat die breër publiek ook die ryk geskiedenis kan lees, nie net die akademici wat ’n doktorale proefskrif sal lees nie. “Ek het besef ek sal die inligting bietjie meer verteerbaar moet maak vir mense wat nie van geskiedenis hou nie.” Vandaar die idee om ’n gedenkboek uit gee. Sy verduidelik dit is in ’n boektydskrifformaat uitgegee om die oorspronklike tydskrif se formaat te huldig.

Wat sy nie besef het voor sy die gedenkboek aangepak het nie, was hoe groot die projek gaan wees. Sy vertel dit was ’n intensiewe proses. “Die besluit oor die formaat en die uitleg, die neem van die foto’s en die samestelling van die hele gedenkboek was baie arbeidsintensief.”

Jeanette het besluit om nie hoofstukke te skryf nie, maar om die onderwerpe eerder as artikels te verpak, net soos ’n tydskrif. Jenny Boon, ’n kunstenaar wat die visuele kant van die boek versorg het, sê die boek is in twee dele opgedeel. Die eerste gedeelte handel oor die geskiedkundige agtergrond van die tyd, en die tweede gedeelte is die artikels wat handel oor die onderwerpe wat destyds in Die Boerevrou gelees kon word, soos byvoorbeeld ’n modeartikel of ’n artikel oor gesondheid of kinders.

Die ontstaan van die tydskrif

Dis Mabel Malherbe wat raakgesien het die Afrikanervrou kort ’n tydskrif in haar eie taal wat haar behoeftes aanspreek. Sy was ’n formidabele vrou: ’n stigterslid van die vrouefederasie, Pretoria se eerste vroulike Burgemeester en lid van die Volksraad.

Die tydskrif het ontstaan in ’n tyd voor tegnologie. Dit was kort na die Anglo-Boereoorlog en die vroue was platgeslaan na die verskroeideaardebeleid. Vir dié vroue (baie lesers het op plase in die ou Transvaal gewoon) was Die Boerevrou ’n bron van inligting. Die artikels was opvoedkundig, het die vroue kultureel opgehef en hulle kon deur die brieweblad saamgesels oor die onderwerpe van die dag.

Sedert haar eerste uitgawe in 1919 het Die Boerevrou elke maand vir twaalf jaar verskyn totdat dit noodgedwonge weens finansiële druk in die Groot Depressie gestaak moes word in Desember 1931. “Vandag kan Die Boerevrou bestempel word as ’n ryk skat van inligting oor die Afrikanervrou en haar leefwyse in die vroeë 20ste eeu,” sê Jeanette.

Die Afrikanervrou van 1919

Wat het Jeanette oor die Afrikaanse vrou van 1919 uit haar navorsing vir die boek geleer? “Sy was alles behalwe agterlik, soos wat gereeld beweer word,” vertel Jeanette. Haar proefskrif het bevind dat die Afrikaanse vrou gereed was vir die koms van Afrikanernasionalisme, anders as wat voorheen geglo was dat dit ’n plan was wat aan die volk voorgehou is. Sy sê dit was moeilike jare, daar was politieke spanning, dit was tye van verstedeliking en dit was die era van die armblanke. Daar was byvoorbeeld baie artikels in oor pluimveeboerdery omdat die vroue ’n ekstra inkomste probeer maak het uit hoenders. Sy reken die vroue het gedikteer wat hulle wil lees, eerder as wat hulle voorgeskryf is om te lees. Volgens haar het Die Boerevrou die Afrikanervrou voorberei op die nuwe tydvak wat gewag het.

’n Rekonstruksie van jou ouma(grootjie)

 “Ek het soveel wonderlike interessanthede raakgeloop waarby ek dink baie mense aanklank sal vind. Dit is ’n boek vir Afrikaanssprekende mense, oor die wel en wee van hul oumas en oumagrootjies,” vertel Jeanette. Sy sê sy het deur die gedenkboek probeer om ’n beeld van die historiese leser en hul lewe te rekonstrueer. Jy drink vandag jou koffie uit ’n beker en lees jou tydskrif digitaal, terwyl jou ouma ’n eeu gelede haar tee uit ’n koppie met ’n piering gedrink het terwyl sy versigtig deur die nuwe vriendin geblaai het. Maar julle het dít in gemeen: ’n liefde vir Afrikaans, ’n liefde vir Afrikaanse vrou en ’n liefde vir ’n vrouetydskrif in Afrikaans.

Vir meer inligting oor die tydskrif of om jou eie gedenkboek te bestel, besoek:http://www.dieboerevrou.co.za

Comments are closed.

error: Content is protected !!