’n Duisend keuses – Samantha Leonard
Junie 11, 2019
Die Boerevrou-tydskrif: die moeder van Afrikaanse vrouetydskrifte
Junie 20, 2019

Die rower se sakeonderneming, soos die woorde op die dak daarvan verkondig. Foto: Neels Jackson

Deur Neels Jackson

Dat twee soortgelyke verhale sulke uiteenlopende eindes kan hê. Dis nou die verhale van die twee rowers van Pelgrimsrus.

Pelgrimsrus, daardie veelbewoë dorpie in die berge van die platorand. Die dorpie van een van Suid-Afrika se vele goudstormlope. En soos ’n Skot genaamd Alec “Wheelbarrow” Patterson goud gekry het toe hy met sy kruiwa vol delwersgereedskap van Mac-Mac daarheen versit het, so is daar in die geskiedenis van Pelgrimsrus nog heelwat goud te vind vir die soeker na stories.

Soos die stories van die twee rowers.

Die eerste verhaal het hom waarskynlik vroeg in 1873 afgespeel, kort nadat die eerste delwers op die nuut-ontdekte goudvonds in die vallei toegesak het. Daar was nog weinig ander infrastruktuur as die delwers se kleims en tente.

In daardie omstandighede was die grootste misdaad wat enigiemand kon pleeg, om goud uit iemand anders se tent te steel. En dis presies waarop een ou toe betrap is. Die delwers was hom genadig, want pleks van ’n doodsvonnis, het hulle hom bloot weggejaag. Maar hy moes nooit weer terugkom nie, want as hy dít sou waag, sou hulle hom gewis skiet.

Maar ’n paar dae later hét hy teruggekom, en toe iemand hom teen die hang van die heuwel sien, is hy net daar doodgeskiet en sommer op die plek begrawe. Toe daar kort daarna nog twee ander sterftes is, is dié dooies ook daar begrawe. En so het die begraafplaas ontstaan.

Besoekers kan nou nog gaan kyk na die naamlose rower se graf. Hy lê dwars teenoor die ander grafte en op die kopstuk staan eenvoudig: “Robber’s grave”.

Die ander rooftog het hom vier dekades later, in 1912 afgespeel. Teen daardie tyd was die oppervlakkige goud lankal deur delwers weggedra. Mynmaatskappye met masjiene het gekom om die dieper riwwe te ontgin. Pelgrimsrus was ’n gevestigde dorp met selfs ’n posdiens daarheen.

Een aand is die poskoets tussen Lydenburg en Pelgrimsrus deur ’n gemaskerde man met twee pistole voorgekeer. Hy was op soek na die goud wat die koets die oggend op Lichtenburg sou opgelaai het.

’n Kas is van die koets afgegooi voor dit weggery het. Toe die rower dit oopmaak, was dit vol silwer muntstukke. Die buit was minder as wat hy verwag het, maar darem nie te versmaai nie.

Dit blyk toe dat die rower ’n ou bekende op die dorp was: ’n Engelsman genaamd Tommy Dennison wat as die plaaslike haarkapper opgetree het en later ook delwers se klere teen betaling gewas het. Dit het hom ’n redelike inkomste besorg, maar sy drinkgewoontes het hom in die skuld laat beland.

Toe hy die dag na die roof in die dorp rondgaan en almal wat hom geld geleen het in silwer munte terugbetaal, was dit nie lank voordat hy aangekeer is nie.

Dennison is vir vyf jaar tronk toe gestuur maar na vier jaar vrygelaat. Hy het teruggekom Pelgrimsrus toe, ’n besigheid begin en die twee pistole waarmee hy die rooftog gepleeg het, bokant die deure vasgespyker vir almal om te sien.

Vandag is die “Highwayman’s Garage” steeds in Pelgrimsrus se onderdorp te sien. Dit staan wel onbenut, maar blykbaar is daar iemand wat weer daar ’n besigheid in wil bedryf.

Boonop ry enigeen wat vandag van Lydenburg af Pelgrimsrus toe ry, oor die Rowerspas. Langs die hoogste punt van die pas is daar selfs ’n bordjie op wat in 1983, met die inwyding van die pad, deur mnr. PTC du Plessis, volksraadslid vir Lydenburg, onthul is.

Dis maar hoe dit in delwersdorpies gaan. Die een word ryk en beroemd en die ander sterf in naamlose armoede. Dis die storie van die rowers. Dit was die storie van soveel delwers. Party sal sê dis maar die storie van die lewe.

Comments are closed.

error: Content is protected !!