Die Boerevrou-tydskrif: die moeder van Afrikaanse vrouetydskrifte
Junie 20, 2019
Skryf kan jou deur trauma help
Junie 20, 2019

Deur Elaine Krige, skakelbeampte vir die Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, is ’n boelie. Hy is die kind op die speelgrond wat jou van die swaai af stoot, omdat joune die enigste swaai is wat nie gebreek is nie. Dit maak nie saak dat hy sélf die ander swaaie gebreek het nie, terwyl jy jou swaai met groot sorg oppas nie.

Tydens ’n mediakonferensie op 19 Mei, beskuldig Lesufi Afrikaanse onderwysorganisasies daarvan dat hulle die vooruitgang van die swart kind wil belemmer. Hy beskuldig organisasies soos AfriForum en die Skoleondersteuningsentrum (SOS) daarvan dat hulle Afrikaanse skole in privaat bastions van uitnemendheid wil omskep wat swart kinders uitsluit en só veroorsaak dat hierdie nasie arm en versukkeld bly. Dit bloot omdat hierdie organisasies aandring op Afrikaanse leerders se grondwetlike reg tot moedertaalonderrig.

Lesufi versuim om te noem dat sy departement in die vyf jaar wat hy aan bewind was, minder as 50 nuwe skole gebou het, terwyl ten minste 50 skole ’n jáár nodig is om aan die groeiende aanvraag van skole in Gauteng te voldoen. Hy noem nie dat sommige skole se strukture onveilig verklaar word, omdat die nodige opknapping vir jare al nie plaasvind nie en dat ander skole só vol is dat verskillende grade nie op dieselfde tyd van die dag kan skool gaan nie. Aan die ander kant, is daar skole wat leeg staan, omdat die gehalte van onderrig aan daardie skole so ellendig is dat ouers nie kans sien om hulle kinders daarheen te stuur nie.

Lesufi swyg ook oor onderwysers in townships wat soms tot 80 kinders op een slag moet onderrig, omdat sy departement nie genoeg onderwysposte aan skole beskikbaar stel nie. Trouens, die departement het die afgelope twee jaar die hoeveelheid onderwysposte wat hulle aan skole verskaf, verminder.

Dit is allermins omdat sy departement te min geld het. Vir die huidige finansiële jaar het Gauteng se departement van onderwys R45 miljard ontvang. Naas gesondheid, is dit die meeste van al die staatsdepartemente, en 38% van die totale begroting. Gauteng se departement van onderwys kry meer as dubbeld die begroting wat die Wes-Kaapse departement van onderwys vanjaar ontvang het (R22 miljard). Lesufi het self vroeër vanjaar erken dat sy departement genoeg geld het om nuwe skole te bou. Onbevoegdheid en wanbestuur van hierdie fondse is eerder die oorsaak van ’n tekort aan noodsaaklike hulpbronne. Lesufi is ook lief daarvoor om sy tyd en energie daaraan te wei om polities-gedrewe uitsprake te maak en persoonlik by skole op te daag om hulle voor te skryf oor die toepassing van hul eie beleide. Lesufi kon hierdie tyd eerder bestee aan die beplanning van nuwe skole of opleiding van onbevoegde onderwysers.

Vooruitstrewende Gautengse skole behaal sukses ten spyte van die departement se gebrek aan hulpbronne en ondersteuning. Ouers by skole soos Hoërskool Waterkloof, Laerskool Wierdapark en Hoërskool Overvaal moet hand in eie sak steek as hulle bykomende klaskamers wil bou of nog onderwysers wil aanstel. By heelwat Afrikaanse skole word meer as die helfte van onderwysers deur die beheerliggaam aangestel. Ouers se skoolfonds betaal dus hierdie onderwysers se salarisse.

Goeie Afrikaanse skole moet boonop in sommige gevalle tot 30% van hul skoolfonds jaarliks afskryf, omdat ouers wat nie die skoolfonds kan bekostig nie, nie verplig mag word om te betaal nie. Die provinsiale onderwysdepartement is veronderstel om die geld wat skole afskryf aan hulle terug te betaal, maar volgens ’n opname deur die SOS in 2018, word skole slegs vergoed vir 2% tot 5% van die geld wat hulle afskryf.

Volgens Lesufi is sy swaaie stukkend, omdat Afrikaanse kinders se swaaie heel is. As al die swaaie stukkend was, sou kinders gedink het dit is maar hoe swaaie in ons land lyk!

Omdat Lesufi sy eie swaaie gebreek het, dring hy nou daarop aan om op Afrikaanse kinders se swaaie te speel, maak nie saak of hierdie swaaie reeds vol is en nie plek het vir hom nie. Lesufi wil ook nie net ons swaaie gebruik nie. Hy wil die swaaie boonop verander soos dit hom pas. Hy wil besluit oor die naam van die swaai en watter taal kinders moet praat terwyl hulle daar speel.

Lesufi sal waarskynlik ook nie help om die swaaie te onderhou nadat hy ons gedwing het om vir hom plek te maak nie, maar sal steeds van die Afrikaanse gemeenskap verwag om hul tyd, geld en energie in hierdie swaaie te ploeg. Wanneer die Afrikaanse gemeenskap dan padgee en hul eie swaaie iewers anders gaan bou, sal hy seker ook nie verstaan waarom die swaai wat hy oorgeneem het skielik roes en van sy kettings afbreek nie.

Die goeie nuus is dat die Afrikaanse gemeenskap kán opstaan teen boelies soos Lesufi. Die grondwet, sowel as die nasionale onderwyswet maak voorsiening vir ons om in ons moedertaal onderrig te word. Dit gee Beheerliggame die reg om hul eie toelatingsbeleid toe te pas, te besluit oor ’n skool se kapasiteit en wie hulle as hoof aanstel. Hulle moet net die kennis en moed hê om teen die boelie op te staan en ’n sterk maat soos die SOS saamneem om hulle te help.

Sou die boelies op die speelgrond egter vir ons te veel word, is ons sterk en slim genoeg om uiteindelik die speelgrond te verlaat om ons eie swaaie iewers anders te bou.

Comments are closed.

error: Content is protected !!