Sy wil Afrikaans as wetenskapstaal uitbou

Radio is in Dianne Broodryk se bloed
Junie 20, 2019
Vrystaatse vrou is nou president van wêreldorganisasie
Junie 20, 2019

Prof. Anne-Marie Beukes, die nuwe uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK)

Deur Seugnet van Zyl

Prof. Anne-Marie Beukes, wat van 1 Junie vanjaar die pos van uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) sal beklee, het op aftrede gestaan, maar toe vra Afrikaans iets van haar.

Wat vra Afrikaans dan van jou, veral in jou nuwe hoedanigheid?

Afrikaans is ’n belangrike taal in eietydse Suid-Afrika. Ons moet onthou dat dit die derde grootste taalgemeenskap in die land is en boonop die enigste amptelike taal – naas Engels – wat tans as ’n volwaardige wetenskapstaal kan funksioneer; en dit is géén geringe prestasie nie. Daarby is Afrikaans ’n besonder lewenskragtige kultuurtaal waarvan ons letterkunde, musiek en kunsfeeste ’n konkrete manifestasie is. Afrikaans is ryklik geseën met die pragtigste geskakeerde streeksvariëteite wat getuig van ons mense se verankerdheid hier in Suider-Afrika.

In ons eietydse konteks, wat gekenmerk word deur grondwetlike erkenning van en respek vir diversiteit, moet taalgemeenskappe met goeie beplanning sorg dra dat ons die leefruimte wat ons gegun (moet) word ten volle sal opneem. Dít is – oorhoofs gesien – die mandaat van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns waaraan ons namens ons taalgemeenskap moet help gestalte gee. Die Akademie is vanjaar 110 jaar oud en steeds vasberade op pad om, saam met ander taal- en kultuurliggame, Afrikaans as ’n instrument en ’n pêrel van groot waarde te help slyp ten behoewe van ons héle taalgemeenskap. Daarom vind ek dit so opwindend om in die diens van die SA Akademie by Afrikaans betrokke te kan wees.

Jy beskou Afrikaans as ’n bate vir ’n wetenskapstaal. Hoekom sê jy so?

Afrikaans is die enigste Afrikataal wat die afgelope sowat 100 jaar tot ’n volwaardige akademiese en wetenskapstaal ontwikkel het. Trouens, ons taal is een van slegs vyf tale wat dit kon vermag, naamlik Hebreeus, Katalaans, Maleisies en Hindi. Dit is ’n bemagtigingsinstrument van onskátbare waarde wat in diens van ons hele taalgemeenskap kan staan. Die toegepaste taalwetenskap propageer al lange jare oor die onmeetbare voordele van onderrig en leer deur middel van mens se moedertaal.. Moedertaalonderrig het histories egter polities gestigmatiseer geraak in ons land en daarom is dit van die allergrootste belang om ons taalgemeenskappe weer bewus te maak dat die kognitiewe voordele daarvan tot beter prestasie lei en minder druipelinge oplewer. In hierdie konteks moet die (grootliks geïgnoreerde) wetenskaplike bevindinge gedeel word dat moedertaalonderrig ook die weg baan vir die doeltreffende verwerwing van addisionele tale soos Engels en ander inheemse tale.

Wat is jou visie en missie vir die volgende drie jaar?

  1. Ek wil voortbou op die vaste bestuursgrondslag wat my voorganger, dr. Dioné Prinsloo, gevestig het om gestalte te gee aan die visie en missie van die Akademie ten behoewe van die bevordering van Afrikaans in die wetenskap en die kunste.
  2. Ek is van mening dat die Afrikaanse taalgemeenskap ’n sentrale rol te vervul het in Suid-Afrika se diverse taalekologie (11 amptelike tale en ’n verskeidenheid ander inheemse tale) en dat die Akademie juis goed geposisioneer is om ’n bydrae te lewer wat die dinamiek van ’n volwaardige lewe in eie taal kan illustreer.
  3. ’n Aspek wat my na aan die hart lê is die allerbelangrike strewe van die Akademie om aan álle Afrikaanse mense ’n volwaardige ‘tuiste in eie taal’ te bied waar ons in gesprek kan tree oor ons wetenskaps- en kunsbeoefening en dit energiek in Afrikaans kan uitleef.
  4. Die snel veranderende digitale wêreld waarin inligtingstegnologie ’n kardinale rol speel in die produksie en verspreiding van kennis gaan toenemend die Akademie se aktiwiteite en invloedsfeer in ’n multidimensionele wyse uitbrei. Dit gaan ons in staat stel om ons wisselwerking met ander akademies en taalverwante liggame betekenisvol uit te brei en die dinamiese plek en rol van ons taal in Suid-Afrika te bevestig op die ‘markplein van idees’.

Jy sê ’n taal bestaan ter wille van mense. Hoe gaan jy dié benadering by die SAAWK toepas?

Afrikaans, en trouens énige taal is, om weer eens prof. Jaap Steyn se lieflike frase te gebruik, ’n tuiste vir haar sprekers. Taal is ’n draer van identiteit en hou daarom diepe simboliese gevoelswaarde in. Maar taal is by uitstek ook ’n unieke instrument wat menslike lewe moontlik maak. My siening is daarom dat ’n taal eerstens in diens van haar sprekers staan waarmee hulle ’n sinvolle bestaan as mense kan voer. Afrikaans het juis ontstaan omdat ’n verskeidenheid mense aan die suidelikste punt van Afrika bymekaar gebring is en met mekaar moes kommunikeer. Onse taal is in Afrika ontvang en gebore, ’n Afrika-taal wat deur Afrika-anse mense, Afrika-anses en Afrika-ners benut word om hulle lewens hier as Suid-Afrika-ners uit te leef. Ons aktiwiteite behoort m.i. deur hierdie beginsel van ‘taal ter wille van mense’ gerig te word.

Waarna sien jy uit?’

Om in en met ons soetste taal en haar sprekers te werk.

Hierdie stukkie oor haar akademiese agtergrond, kan in ‘n kleiner font wees en/of selfs in ‘n blokkie. Dis nie deel van die vrae nie.

Prof. Beukes beskik oor ’n doktorsgraad in Toegepaste Linguistiek en sy het vir nege jaar op die Wêreldraad van Vertalers (Fédération Internationale des Traducteurs) gedien, waarvan drie as vise-president. Sy het ook ’n sleutelrol gespeel tydens die ontwikkeling van ’n taalbeleid en -plan vir Suid-Afrika gedurende die eerste demokratiese dekade. Sy was vir agt jaar voorsitter van die Universiteit van Johannesburg se departement linguistiek. Haar loopbaan sluit leierskapsrolle in strategiese projekte van die Departement Kuns en Kultuur, die Nasionale Tesourie en die Raad op Hoër Onderwys in. Sy was ook vir drie jaar voorsitter van die Afrikaanse Taalraad. Sy dien tans op die advieskomitee van die minister van kuns en kultuur se mensliketaaltegnologieprojekte. Prof. Beukes is ’n gegradeerde navorser van die Nasionale Navorsingstigting en 40 nagraadse studente het hulle studies onder haar studiebegeleiding voltooi.

Comments are closed.

error: Content is protected !!