Met Sara se verhaal kan veral ’n vrou op verskeie vlakke vereenselwig

Bryce gaan betaal!
Junie 20, 2019
Bloedlelie vertel die verhaal van Piet en veral Magdalena Retief se beproewinge, deur vandag se oë beskou
Junie 21, 2019

Deur Petronel Fourie

Sara

Outeur: Maretha Maartens

Uitgewer: Lux Verbi

Sara, die vrou van een van die belangrikste Ou-Testamentiese figure, stamvader Abraham, is in dié boek aan die woord. Die leser sien die ou Mesopotamië en Egipte van 2000 v.C. deur haar oë, hoor geoorloofde en ongeoorloofde gesprekke deur haar ore, voel vreugde en vrees deur háár vel en beleef sukses, spyt, krag én swakheid deur Sara.

Die verhaal speel af waar Sara beseer en besorg in die sorg van vreemde Amoriete lê – beseer omdat sy van ’n donkie afgeval het, besorg omdat sy oortuig daarvan is dat Abraham hul enigste seun Isak gaan doodmaak. In haar magteloosheid en hulpeloosheid herleef sy ’n paar groot momente in haar en Abraham se lewe en gee die leser ook ’n blik daarop.

Jy ervaar Sara as vrou, as moeder, as blote mens aan die een kant en as gelowige – en twyfelaar – aan die ander kant. Met Sara se verhaal kan veral ’n vrou op verskeie vlakke vereenselwig.

Die Bybelse narratief word deur deeglik nagevorste materiaal uit 29 ander bronne aangevul, soos werk van antieke historici, navorsingsgeskrifte van argeoloë en apokriewe boeke. Danksy dié navorsing, vorm die leser ’n beter begrip vir die verskillende stamme en gebruike van daardie tyd.

Talle woorde van Akkadiese, Amoritiese, Kanaänitiese, Hebreeuse en Sumeriese oorsprong word in die roman gebruik en aan die einde van die boek verduidelik. So voel mens die deernis en liefde instinktief aan wanneer klein Isak met sy “Eema” – Mamma – praat, of sy “abum” (vader) Abraham en “ahum” (broer) Ismael. Uit ’n moedersperspektief is daar ook waarde in terme soos “olel”, die Hebreeuse woord vir ’n kindjie in die laaste fase van borsvoeding, en “gâmal”, die gespeende kind. Die woord “nawûm” word ook deurgaans gebruik om hul kamp of niepermanente staning te beskryf.

Die boek word oorheers deur ’n spanning tussen Abraham en Sara se geloof, en veral háár onsekerheid, of kleingeloof. Sy ervaar God, El Shaddai, anders as Abraham, sy ervaar Sy skaduwee meer as Sy lig. Sy verstaan nie hoekom Hy sekere dinge van hulle verwag nie, maar probeer tog om te glo en te vertrou dat Hy sy groot verbond aan haar man sal nakom. “Wat Jahwe gee, is mooi,” het Sara haarself in moeilike tye leer sê, nes haar hoofslavin Rahel. Rahel het haar geleer dat daar altyd iets oorbly wanneer dit lyk of daar niks oorgebly het nie – daarvoor moet jy soek. “So oorleef ’n mens. Of ’n vrou, altans.”

Die band wat vorm tussen vroue wat saam leef en lag en ly, is ook ’n belangrike tema in die boek. Sara se besondere verhouding met Rahel, haar gemengde gevoelens oor Ismael se moeder Hagar, wat haar lewe lank by haar spook, die Amoritiese vroue en dogtertjie Abi-Yatum wat haar versorg. Op ’n stadium in die boek smag sy daarna om vroue selfs net te hoor praat, want “waar vroue praat, is ’n baie klein kind en ’n baie ou vrou veilig”.

Sara en Abraham se verhouding word mooi uitgebeeld – nie sonder konflik nie, maar met baie dankbaarheid vir mekaar, soos die jare aanstap. Naby aan die einde bely Abraham aan Sara: “Daar is net een plek waar ’n mens tuiskom as jy geen plek en grond van jou eie het nie, Sara. Jy is my huis, my Sara.”

Sara se verhaal bied aan die leser ’n beter begrip vir dié belangrike Bybelse verhaal, maar spreek ook tot die hart van die vrou, die eggenote, die suster, die moeder in ons elkeen.

In Sara se eie woorde het sy en Abraham ’n storie saam met die God wat heilig en ewig is – “nee, dié God het ’n storie saam met ons”. Dít is die aangrypende storie waarvan jy in Sara lees.

Comments are closed.

error: Content is protected !!