Die storie van Afrikaans bring die groter waarheid oor dié taal na vore

Lurianne is Philip Moolman se sielsgenoot
Junie 24, 2019
Sy “sien”-gawe kom van God af
Junie 24, 2019

Deur prof. Wannie Carstens

Die tweedelige boek Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika. Biografie van ’n taal (Deel 1: Die Europese geskiedenis van Afrikaans (2017); deel 2: Die Afrikageskiedenis van Afrikaans (2019)) (uitgegee deur Protea Boekhuis) is die resultaat van ses jaar se harde en moeisame werk, nasionaal en internasionaal.

Die titel dui reeds aan dat meer as die gewone aan bod kom. Daar word uitgegaan van die standpunt dat Afrikaans se taalkundige basis (die ‘penwortel’ aldus prof. Edith Raidt) gekoppel is aan ’n 17de-eeuse Hollandse dialek (dus uit Europa) wat oor die loop van meer as 200 jaar onder eiesoortige historiese omstandighede op die bodem van Afrika ’n volwaardige taal kom word het (dus van Afrika). Op die Afrikabodem het die invloed van bewoners uit Afrika, in die besonder die Khoi en San, asook van die Bantoetale (let wel dit is ’n taalkundige term vir hierdie groep tale), en van onwillige immigrante uit Ooste (die slawe), asook verskeie verdere immigrante uit Europa, die Europese Hollandse taalvorm sodanig beïnvloed dat dit met verloop van tyd ’n nuwe taal kom word het (Kaaps-Hollands, Afrikaans-Hollands, Afrikaans sedert 1875) – die resultaat van taalveranderingsprosesse wat die gevolg was van taalkontak en taalversteuring oor baie jare.

En hierdie nuwe taal is uiteindelik formeel in 1925 erken waarna dit deur ’n lang standaardiseringsproses gegaan het en oor jare al die funksies van ’n standaardtaal aangeneem het. Dit is dus in die woorde van prof. Jaap Steyn ’n weergawe van ‘Afrikaans se val en opstaan’, maar ook van die sigbare ‘vratte’ wat die prentjie van Afrikaans so besoedel het.

Om vanuit ’n akademiese hoek na die geskiedenis van Afrikaans te kyk, is nie ’n eenvoudige saak nie. Dit neem tyd, heelwat tyd. Dit verg naamlik intense besinning oor alle aspekte rakende die verlede van die taal, oor hoe die weergawe oor die verlede in publikasies weerspieël is, en oor waar ons nou is rakende Afrikaans se storie. En dan die identifiseer van gapings in die verslaggewing aan die hand hiervan. Want om ’n storie te vertel van Afrikaans se ontwikkeling, groei, vestiging en uitbreiding van Afrikaans verg dat ’n mens moet besin oor drie belangrike sake: die verlede (waar kom ons vandaan), die hede (waar is ons nou) en ook die toekoms (waarheen is ons op pad). Dit is nie ’n maklike taak nie, juis in die lig van Afrikaans se veelvoudige en komplekse verlede.

Die boek is die resultaat van twee taalkundiges se gesamentlike poging om hulle sienings en kennis oor Afrikaans in een omvattende publikasie byeen te bring. Die vertrekpunt is die standaardwerk Afrikaans en sy Europese verlede van prof. Edith Raidt (laaste uitgawe 1991) en dit is grondig bygewerk en verwerk deur prof. Wannie Carstens na aanleiding van sy eie publikasies, en verdere navorsing oor die onderwerp. Deel 1 is in een van die resensies beskryf as ’n “grondverskuiwende bydrae tot die Afrikaanse taalkunde” en dit kom derhalwe voor of die plan met die boek(e) gerealiseer het.

Die aanvanklike doel met die boek (beplan as een boek, maar wat uiteindelik gerealiseer het in twee boekdele, wat elkeen ’n boek in eie reg is) was om ’n bygewerkte, omvattende en inklusiewe weergawe van Afrikaans se historiese verloop te gee. Met ‘bygewerk’, word bedoel die verreken van alle toepaslike publikasies oor Afrikaans, in die besonder die meer onlangse bronne en die invloed daarvan op besinnings oor Afrikaans. ‘Omvattend’ behels die betrek van alle tersaaklike gebeure – van die begin tot op hede – wat oordele oor Afrikaans raak ten einde groter insig in die totale prentjie oor Afrikaans te kry.

‘Inklusief’ hou in dat die bydrae van die totale sprekersgemeenskap van Afrikaans verreken word, en nie net soos in soveel ander publikasies waarin oorwegend die gebeure wat die wit gemeenskap raak, ter sprake kom nie. Want ons moet eerlik wees: ons verlede is so dikwels eensydig wit aangebied en ons durf nie hiermee volhou nie. Dit is natuurlik om hierdie rede dat die beplande één boek toe twéé geword het, in totaal ongeveer 1 800 bladsye, met ’n verdere meer as 750 bladsye aanvullende inligting op die webblad www.storievanafrikaans.co.za

Dit is die eerste sodanige bron wat oor Afrikaans geskryf is. Ons wou hiermee help om die volle verhaal (oftewel ‘storie’) van Afrikaans te vertel en dit dan toe te lig met konkrete voorbeelde van Afrikaanse publikasies. Ons het besef dat daar reeds soveel oor ’n groot verskeidenheid temas in Afrikaans geskryf is, maar dat die Afrikaanse gemeenskap nie noodwendig daarvan bewus is nie, en dit is waar die biografiese deel van die titel na vore kom. Ons wou hiermee spog met hoe produktief en suksesvol die Afrikaanse gemeenskap is en hoe wyd ons kennis strek. Dit word in ’n biografie gedoen – jy gee dit wat goed gedoen is ook weer. So het die boek dan ’n soort “tell and show” geword.

En dit is die ‘storie’ agter die storie: ons wou die geskiedenis van Afrikaans op so ’n wyse verpak dat dit verteerbaar verpak is, maar ook dat dit ook soveel bied dat dit die groter waarheid oor Afrikaans na vore sal bring. En ons hoop ons poging slaag.

Comments are closed.

error: Content is protected !!