Suid-Afrikaanse rolprente in die 1960’s

Die verhaal van Racheltjie de Beer nou ’n fliek
Junie 24, 2019
Vroue in die nuuskantoor: die formidabele voorlopers
Junie 24, 2019

Die rolprentmaker Jamie Uys

Deur Christa Steyn

Wanneer daar teruggedink word aan die Sestigerjare in Suid-Afrika word beelde van onder meer politiese opstande, rasse- en taalskeidings en ’n algemeen ontstuimige atmosfeer herroep. Dit het ook oorgespoel na die plaaslike rolprentbedryf toe, veral wat betref die sensuurraad se onderdrukking van tematiese vryheid, die opheffing van Afrikaans, en ’n gebrekkige subsidieskema wat die bedryf tot in die Tagtigerjare beheer het.

Alhoewel enkele rolprentmakers, soos Jamie Uys, Jans Rautenbach en Manie van Rensburg, ’n poging aangewend het om rolprente te vervaardig wat sosiale kritiek lewer, het die meeste van die rolprente gedurende 1960 tot 1980 as gesinsvermaak gedien om ’n ideale, en daarom soms verdraaide, werklikheid te weerspieël. Gebeure in die rolprente het selde die werklike sosio-politiese realiteit van die land uitgebeeld.

Dit is grootliks weens die gereguleerde subsidieskema wat in 1956 ingestel is. Aanvanklik was die bedrag veel hoër vir Afrikaanse rolprente as vir Engelse rolprente. Die rede was hoofsaaklik omdat die regering besef het watter potensiële invloed hierdie dominant-Afrikaanse bedryf op die bevordering van die Afrikaanse taal, asook op die uitbreiding van die Afrikanerkultuur, sou hê. Die subsidiestelsel is derhalwe aangepas sodat Afrikaanse rolprente wat die Afrikanerideologie, soos dit voorgestel is deur die Nasionale Party, weerspieël het, met ’n hoër subsidiebedrag beloon sou word. Die resultaat hiervan was dat rolprentvervaardigers resepmatige rolprente vervaardig het wat sou verseker dat hulle die hoër subsidiebedrag ontvang. Dit is een van die struikelblokke wat veroorsaak het dat weinig vervaardigers met genres en temas geëksperimenteer het.

Hierdie era was egter nie nét ’n donker tyd nie, daar was talle kole wat die rolprentvuur laat brand het. In 1961 word Doodkry is Min in opdrag van die FAK vervaardig. Alhoewel die draaiboek deur Jamie Uys geskryf is, is die titel, volgens Leon van Nierop se boek Daar doer in die fliek, deur ’n Totius-gedig geïnspireer (“Ek leef en ek sal lewe, maar doodkry is min”). Die rolprent is deur Judex Viljoen en Elmo de Witt vervaardig en akteurs soos Jan Bruijns, Douglas Fuchs, Sann de Lange, Anna Neethling-Pohl, Emsie Botha en Pieter Hauptfleish is by die rolverdeling ingesluit.

In 1962 het Truida Pohl haar debuut as vroueregisseur gemaak toe sy die riller, Man in die Donker, vervaardig het. Dit word as ’n mylpaal in die Afrikaanse rolprentgeskiedenis beskou, juis omdat vroue in daardie dae ondergeskikte rolle tydens die vervaardigingsproses gespeel het.

Katinka Heyns het ook in hierdie tyd dié bedryf betree. Sy maak haar debuut op die silwerdoek in 1969 toe sy die rol van Alida Brink in die kontroversiële rolprent, Katrina, vertolk het. Die fliek het menige Suid-Afrikaners warm onder die kraag gehad omdat dit liefde oor kleurgrense op ’n vreeslose wyse uitgebeeld het.

Vanaf 1960 tot 1969 het ongeveer 62 Afrikaanse vollengte rolprente die lig gesien. Dít sluit in: Die Hele Dorp Weet (1961) en Moord in Kompartement 1001E (1961) deur CARFO; Debbie (1965); Hoor My Lied (1967), met Gé Korsten en Min Shaw; Hans en die Rooinek (1961), Die Professor en die Prikkelpop (1967) en Dirkie (1969) van Jamie Uys; en Tom, Dirk en Herrie (1962) en Geheim van Onderplaas (1962), wat deur Al Debbo geregisseer is.

Comments are closed.

error: Content is protected !!