Sy “sien”-gawe kom van God af

Die storie van Afrikaans bring die groter waarheid oor dié taal na vore
Junie 24, 2019
Hy is “geseënd om steeds te doen waarvoor hy lief is”
Junie 24, 2019

Gerald Burger

Deur Yolanda Barnard-Lemmer

Hy draai sy kop skuins vir die foto. Sy modderbruin oë staar na die glasdeur. ’n Glimlag pluk om sy dun lippe. ’n Goue oorbelletjie blink in sy oor. Hy draai terug. Kyk reguit na die kamer. Skielik raak sy oë mistig. Sy lippe ruk. Hygend. Asemnood. “Hy wou nie dood gegaan het nie. Jou pa. Hy het my gewys hoe hy dood is. Hy wou nie dood gaan nie, maar hy is nou rustig. En hy is hier. Hier by jou.”

En toe rol die trane oor Gerald Burger (71) se wange. “Soms hou ek nie van die gawe nie. Mense se pyn, maar dit is my gawe. Die gawe om met die dooies te kan kommunikeer en hulle na die lig te stuur.”

Gerald is Suid-Afrika se onglansryke weergawe van Hollywood se ghostbusters. Dié siener wat met die bonatuurlike kommunikeer en “jou van die bose verlos” soos hoe die vervaardigers van Die Siener, wat vanaf middel April op kykNET uitgesaai word, slim Gerald se gawe verwoord.

Dit is ’n sonnige laatherfsdag. Werkersdag. Maar dit is koud in Gerald se voorstedelike huisie in Birchleigh, ’n middelklasvoorstad in Kempton Park. “Dit is seker Sandy se teenwoordigheid wat jy aanvoel.” Sandy wat tot vier maande gelede by Gerald gebly het, maar een oggend net haar laaste asem uitgeblaas het. Sy het nie aanbeweeg nie, maar agtergebly om Gerald geselskap te hou.

Want al is Gerald nou die hoofkarakter van sy eie televisiereeks – ’n reeks wat net die kroon op sy gawe gespan het – is hy ’n eenkantmens. “As ek tussen mense is, sien ek hulle altyd. Die afgestorwenes. Dit maak my mal – soms weet ek nie wie is lewend en wie is dood nie.”

Dus bly hy tuis. Hy en Sandy en die sewe honde wat al keffend om sy voete is. “Net die oggend,” vertel hy, het Sandy lank met my gesels. Sy het ’n polis aan haar man, wat drie jaar gelede oorlede is, nagemaak en het dit nooit verander nie.” Nou wil Sandy alles in haar bonatuurlike vermoë doen om die polis op sy naam te kry.

Geld, dit het Gerald nie in oorvloed nie, want dit wat hy het, deel hy aan straatkinders en sy naaste uit. Hy gee kos aan die armes en samel self aardse noodsaaklikhede soos potte en panne in om aan dié wat nie het nie, uit te deel. Tweedehandse klere deel hy nie uit nie. “Ek sal nooit toelaat dat iemand tweedehandse klere dra nie, want ek moes as kind ander se klere dra. As ek die dag doodgaan, moet my klere verbrand word.”

Gerald is ’n aangenome kind. Op agtjarige ouderdom het sy gawe gemanifesteer. Hy was van die een sielkundige na die volgende terapeut. Sy verbeeldingsmaatjies wou nie weggaan nie. Toe het hy ’n psigiatriese verpleër geword en hy het sy gawe begin verstaan. Hy het dié gawe gebruik om lewendes en dooies te help.

En nee, hy was nog nooit bang vir die bonatuurlike nie. “Ek was ook nie eers bang vir die kwaai gees wat my gevloek en aangerand het nie. Ek het net my rug op hom gedraai en verduidelik dat hy self na die lig moet gaan. Hy het selfdood gepleeg.”

Op ’n manier, sê Gerald, het dié televisiereeks gehelp om sy eie spoke ook te besweer.

In die reeks reis Gerald na al die bekende spookhuise en spookdorpe in die land. Van Kimberley tot in Matjiesfontein – waar hy meer as net die twee bekendste spoke in die Lord Milnerton-hotel gekry het.

Na die eerste episode het sosialemediagebruikers kritiek gekraai. Gerald is alles van “uit die bose” tot ’n “glyjakkels” genoem, maar daar is ook dié wat aan Gerald se lippe hang en bel en bel. “Sedert die program uitgesaai word, hou my foon nie op met lui nie.”

Daar is niks boos aan Gerald nie. Nie dié man met sy yl, grys haartjies, sy mooi siel wat uit sy oë weerkaats en die ruim hart nie. Nie in dié sitkamer waar gebede nog swaar hang en engele sy koffietafels vol staan nie.

Sy gawe, sê hy, kom van God af. En voordat hy ’n bonatuurlike wese lig toe stuur, voordat hy ’n lesing vir een van sy kliënte doen, bid hy.

Selfs die siniese Rian van Heerden, vervaardiger van die program, weet en glo dat Gerald die ware Jakob is. “Ek ken vir Gerald al bykans twintig jaar en hy het nog nooit iets verkeerd gehad nie.”

“Maar ongelukkig kan ek nie dit wat moet gebeur, verhoed nie. Soos daardie dag toe ek die Laingsburg-vloede ‘gesien het’ en niks kon doen om die mense se lewens te red nie,” sê Gerald saggies. “Julle moet nou gaan.” Die maer lyf rank uit die stoel. “Hier kom mense al die pad uit Bothaville om my te sien.”

Hy sluit die traliehek. Loop in die maag van sy huis in. Die maer siener van die suburbs.

Comments are closed.

error: Content is protected !!