Vroue in die media: ’n nuwe generasie van voorlopers

Vroue in die nuuskantoor: die formidabele voorlopers
Junie 24, 2019
Wat is mens? – Jan Rhaap
Junie 27, 2019

Johanna van Eeden

Tanya de Vente-Bijker

Sedert die negentigerjare van die vorige eeu het die Afrikaanse nuuskantore groot omwentelings meegemaak. Een van die omwentelings was die opkoms van die vroulike joernalis. Vroue kon uiteindelik hul regmatige plek aan die tafel inneem en selfs uitstyg na bestuursposisies. Dit is te danke aan die voorlopers M.E.R. en Rykie van Reenen, asook meer onlangs vroue soos Esmaré Weideman en Johanna van Eeden.

Rykie se nalatenskap

In die 1940’s was vroulike joernaliste in die media ’n uitsondering. Te danke aan die formidabele voorlopers M.E.R. en Rykie van Reenen hoef vroue in die media nie meer vandag terug te staan vir hul manlike eweknie nie. Rykie was ’n baanbreker deur die eerste vroulike joernalis te word wat van die vroueredaksie na die algemene redaksie geskuif het. Om Rykie se aandeel in die media te erken, het die Joernalistiekdepartement van Stellenbosch Universiteit in 1999 die Rykie van Reenen-genootskap ingestel. Met dié genootskap, geborg deur Media24, word daar elke jaar een gasdosent vir ’n jaar by die departement verwelkom. Vanjaar is Carryn-Ann Nel die Rykie van Reenen-gasdosent en sy sê om die “Rykie” te wees, is nie net ’n eer nie, maar ’n groot voorreg. “Jy is op ’n manier verantwoordelik en baie instrumenteel in van die studente se toekoms as joernaliste.” Haar werk is om ’n mentor te wees vir die studente. Sy moet help met praktiese raad en ook in die algemeen luister en raad gee. So lei ’n nuwe generasie vroue hul geslagsgenote op die pad. Dit was immers ook Rykie se opdrag in 1979: “Komaan, sustertjies, nou julle beurt.”

Vandag se rolmodelle

Joernaliste vandag skryf die laaste jare se veranderinge in die nuuskantore onder meer toe aan Esmaré Weideman en Johanna van Eeden wat meer onlangs uitgestyg het as vroue in die media. Esmaré het in 1984 met indiensopleiding by Die Burger begin en uiteindelik 33 jaar later as die uitvoerende hoof by Media24 uitgetree.

Dit is juis in die laaste drie dekades wat die meeste veranderinge teweeggebring is. Martie Swanepoel skryf vir Rooi Rose oor haar wedervaringe as joernalis vir Beeld in die tagtigerjare. Vroue het nie vir huissubsidies gekwalifiseer nie en dadelik ’n tydelike personeellid geword as jy trou, en soms was ’n storie as te gevaarlik vir ’n vrou bestempel. “In kort, die glasplafon was net-net bo ons koppe,” sê sy.

Dis uit dié mediakultuur waar Esmaré uitgestyg het. Kay Karriem, redakteur van Kuier, sê oor Esmaré: “In Media24 het dit ’n groot verskil gemaak toe Esmaré in 2011 die uitvoerende hoof geword het. Daai sprong van redakteur tot bestuur … dit het vir vroue gewys hulle kán presteer en die mans het gesien sy kan die werk doen. Al hul stereotipes was verkeerd bewys.”

Mia Spies, ’n joernalis by eNuus, lig vir Johanna van Eeden uit as ’n rolmodel. Johanna was redakteur van Volksblad voor sy as hoof van Netwerk24 aangestel is. Johanna sê self vroue hoef nie meer te veg vir ’n plek aan die tafel nie. “Dit het oor die jare baie verander en daar is ’n baie groter bewustheid van die bydrae wat vroue kan lewer. In my tyd by Media24 het ek wonderlike geleenthede gekry en in die meeste gevalle was dit mans wat daardie geleenthede vir my moontlik gemaak het.”

Mia sê in haar dekade in die media waar sy ervaring in verskeie nuuskantore opgedoen het, is sy meestal dieselfde as haar manlike kollegas behandel. “Vroue is ook goed verteenwoordig, in terme van syfers, in die nuuskantore waar ek al gewerk het. In baie gevalle was daar selfs meer vroue in die nuuskantoor, veral in poste soos vervaardigers, verslaggewers en aanbieders,” sê Mia.

“Ek en my vroulike kollegas skram nie weg van ernstige ‘harde stories’ soos politiek, korrupsie, hofsake en misdaad nie.” Mia sê sy is ook nog nooit oorgesien om ’n ernstige, ontstellende of gevaarlike nuusgebeurtenis te dek omdat sy ’n vrou is nie. “Inteendeel, dit word dikwels aan my toegewys omdat ek dit met die nodige sensitiwiteit hanteer.”

En dit was juis deel van Rykie se opdragte aan haar vroulike opvolgers in 1979: om die werk net so goed soos ’n man te kan doen, en juis daardie ekstra dimensie by te voeg.

Knelpunte

Nie alles is altyd ideaal nie. Die prentjie verskil ook van nuuskantoor tot nuuskantoor en Doreen Loubser, aanlyn nuusredakteur by Algoa FM skep ’n minder rooskleurige prentjie. Sy meen in sommige nuuskantore moet vroue steeds harder werk om raakgesien en erken te word vir die werk wat hulle doen. “Dit is my persoonlike ondervinding dat ouer mans nie daarvan hou om instruksies van ’n vrou te vat nie.”

Volgens Mia voel dit soms asof vroue ’n plek aan die spreekwoordelike tafel het, maar die stryd is nou om meer vroue aan die kop van die tafel te kry. Kay meen alhoewel diversiteit verbeter het, is daar te min Afrikaanse bruin vroue in gesagsposisies in die media na wie jong joernaliste kan opkyk.

Johanna, wat wel aan die kop gesit het, vertel sy het baie lank dieselfde werk gedoen as haar manlike kollegas sonder om dieselfde vergoeding daarvoor te ontvang. “Ek het uiteindelik die moed bymekaar geskraap toe ek in ’n nuwe rol aangestel is om te sê dis reg, ek doen dit graag, maar dan soek ek dieselfde vergoeding as my manlike voorganger.”

Mia sê joernaliste is meestal in die donker oor hul kollegas se salarisse en maatskappye sal nie sommer die data bekend maak nie, maar vroue in die nuuskantore het steeds snuf in die neus dat hulle minder as hul manlike eweknieë verdien. “Die feit dat die inligting so geheim gehou word, dra ook tot daardie skeptisisme by.”

Johanna sê ten slotte dat sy sien hoe daar baie skerp gekyk word na mans se optrede teenoor vroue, maar minder skep na vroue se optrede teenoor vroue. “Soms kry jy die swaarste by die werk weens ’n ander vrou. As vroue behoort ons mekaar meer te ondersteun en op te bou. Nie vir saamstaan teen mans nie, maar om daar te wees vir mekáár,” sê sy.

Tanya de Vente-Bijker

Comments are closed.

error: Content is protected !!