Vroue in die nuuskantoor: die formidabele voorlopers

Suid-Afrikaanse rolprente in die 1960’s
Junie 24, 2019
Vroue in die media: ’n nuwe generasie van voorlopers
Junie 24, 2019

Deur Tanya de Vente-Bijker

In die veertigjare van die vorige eeu was vroulike Afrikaanse joernaliste in Suid-Afrika in die minderheid en meestal beperk tot die vroueblad van die koerant. Vandag kyk niemand meer vreemd op wanneer vroue die media betree nie. Trouens, baie nuuskantore het oorwegend vroulike joernaliste in diens. Dít is onder meer te danke aan die voorlopers, M.E.R en Rykie van Reenen.

Maria Elizabeth Rothmann, beter bekend as M.E.R, en Rykie van Reenen was albei formidabele vroue wat die pad gebaan het vir vroulike Afrikaanse joernaliste. Beide was baanbrekers en hul tyd vooruit. Rykie het in 1945 by Die Burger se redaksie aangesluit in ʼn tyd toe daar slegs ‘n handjievol vroulike joernaliste in die nuusmedia was. En die wat daar was, het meestal vir die vroueblad gewerk. As die eerste vroulike joernalis wat van die vroue-redaksie na die algemene redaksie by ʼn koerant geskuif het, het Rykie die weg gebaan vir haar vroulike kollegas. Maar ʼn terugblik op die lewe en werk van Rykie van Reenen is nie moontlik sonder om te verwys na die werk van M.E.R en die invloed wat sý op Rykie se lewe gehad het nie.

Interessant genoeg het Rykie eers vir M.E.R ontmoet op M.E.R se 75ste verjaardag toe sy haar saam met Alba Bouwer, ’n Afrikaanse kinderboekskryfster, bekende joernalis en maatskaplike werkster in die tweede helfte van die 20ste eeu, gaan besoek het. Maar vir M.E.R het Rykie haar Kaapse kind geword en ʼn hegte verhouding het ontstaan.

M.E.R was nie net die eerste vroulike  Afrikaanse joernalis nie, maar ook een van die eerste vroue in Suid-Afrika om ‘n BA-graad te behaal. Sy het ook opgestaan vir vroue se reg om ’n stem te kan uitoefen en selfs in die politiek gedraai as ondervoorsitter van die Kaaplandse Nasionale Party. Sy het op 22 as onderwyseres begin werk en eers later na vir die eerste keer ernstig begin skryf.

Dit was in Ermelo wat sy begin het om bydraes te stuur vir Die Boerevrou in Pretoria (ʼn Afrikaanse vrouetydskrif, die voorloper van Sarie). Haar bydraes het so beïndruk dat sy genooi is om ’n proeftydperk vir Die Boerevrou te werk, met die moontlikheid om permanent aangestel te word. Sy is toe aangestel en só begin haar loopbaan as joernalis. M.E.R het by die Die Boerevrou gewerk totdat sy in 1922 afgedank is weens finansiële druk by die tydskrif. Vanaf 1922 tot 1928 werk sy vir Die Burger en word sy die eerste redaktrise van die vroue-afdeling. Sy het gereelde bydraes vir Huisgenoot gelewer en was later die redakteur van Die Kleinspan bylaag in die Huisgenoot.

Rykie het in M.E.R se voetspore gevolg, maar M.E.R het nooit uit die vroue-redaksie na die algemene redaksie oorbeweeg nie. Rykie was in dié opsig dus ’n voorloper en die eerste vrou wat in die “manlike-liga” gaan skryf het.

Rykie het ’n BA-graad in tale en ’n meestersgraad in Engels verwerk. In 1943 het sy as Die Burger se korrespondent van Stellenbosch Universiteit begin werk. In 1945 begin sy voltyds by Die Burger werk, eers by die vroueblad en toe in die algemene nuuskantoor as algemene verslaggewer. Sy het in die tyd ook haar bydraes vir die rubriek Van Alle Kante geskryf.

Rykie het na haar pa se dood uit die joernalistiek getree om op haar pa se plaas, Waterkloof, te gaan boer. In 1952 skryf M.E.R egter ’n brief aan Rykie dat dit ’n verlies vir die joernalistiek is en moedig Rykie aan om vryskutwerk te doen. M.E.R het haar van toe af gedurig aangemoedig om nie die joernalistiek af te skeep nie. In 1964 het Rykie die plaas verkoop en in 1965 word sy met die hand uitgesoek om saam met ʼn span joernaliste saam Die Beeld (toe ’n Sondagkoerant) te begin. Sy was aan die spits saam met Piet Cillie, Schalk Pienaar, Phil Weber en JJJ Scholtz. Ton Vosloo, wat beskou word as die “vader” van Naspers, skryf hieroor: “Rykie was so formidabel soos kan kom en hou vir hou kon sy terugkap in daardie manlik oorheersende wêreld.”

In 1970 vorm Rykie deel van die stigtingsredaksie van Rapport en in 1973 word sy bevorder tot assistentredakteur. Weer betree sy ’n eerste. Rykie het gereeld waargeneem as redakteur. In 1986 het die Universiteit Stellenbosch ’n eredoktorsgraad aan Rykie toegeken. In 1990 het die Universiteit van Pretoria die Rykie van Reenen-huldigingslesing ingestel. Na twee jaar het Rykie egter gevra dat die lesing voortgaan, maar nie onder haar naam nie. In 1999 het die Universiteit Stellenbosch se nagraadse joernalistiekdepartement die Rykie van Reenen sekonderingspos begin. Rykie was slegs 56 toe sy in 1979 uit die redaksie getree het, omdat sy aan veelvuldige sklerose gelei het. Sy het van tyd tot tyd nog vryskutwerk gedoen. Sy het tot haar dood Desember 2003 in Yzerfontein gewoon. 

Prof. Lizette Rabe, koördineerder van die PhD-program by die departement joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch, het 2011 die boek Rykie, ‘n Lewe met woorde, ʼn omvattende werk wat Rykie se lewe en haar bydrae tot die Afrikaanse joernalistiek beskryf, geskryf.

Hoe het dit gekom dat sy díe groot werk aangepak het?

“In 2002 het twee boeke oor twee groot Naspersers verskyn: biografieë oor Piet Cillié (deur Jaap Steyn) en Schalk Pienaar (deur Alex Mouton). Ek het vir almal wat wou hoor, gesê, tipies. Kyk net, boeke oor twee manlike joernaliste in een jaar, maar oor hul tydgenoot, wat enige tyd net so ’n groot, ook politieke, invloed as hulle gehad het, g’n word,” sê Lizette. Iemand het toe aan haar gesê as sy so sterk daarvoor voel hoekom skryf sy nie die Rykie-boek nie. “Wel, ek het gebewe, want wie gaan dit waag om oor die Groot Rykie te skryf?” Maar sy het besef niemand gaan ’n boek skryf oor ’n vroulike joernalis wat dit net soveel verdien soos haar twee manlike tydgenote nie en aangesien gender en die media haar navorsingsbelangstelling is, het sy dit aangepak.

Vir Lizette is die “eva-lusie” van die vroulike joernalis ʼn onderwerp wat haar na aan die hart lê. Lizette was self ʼn joernalis vir twintig jaar en voor haar toetrede tot die akademie, die redakteur van Sarie.

Lizette sê vir haar, en ook vir baie ander joernaliste voor haar, was Rykie persoonlik ’n poolster – die lig op die horison. Sy beskryf Rykie as “’n baanbreker vir Afrikaanse vroulike joernaliste” asook ’n “uitmuntende joernalis”. Sy word selfs deur die historikus Hermann Giliomee as waarskynlik die uitmuntendste Afrikaanse joernalis van die twintigste eeu beskryf. Rykie skryf self in Volksblad in 1999 oor die joernalistiek: “Dit verstom my elke dag dat ’n mens vir soveel lekkerkry betaal word.”

Beide M.E.R en Rykie het ʼn ryk nalatenskap vir vroue in die joernalistiek gelaat. Lizette sê: “Rykie het geskryf dat vroue se uitdaging nie is om die werk net so goed soos mans te doen nie, maar om juis ‘n ekstra dimensie aan joernalistiek te gee sodat die professie verbreed kan word”.

“Vrouejoernaliste vandag kan uit Rykie se lewe leer dat ons elke geleentheid moet gebruik (en self geleenthede moet skep) en om nie nee vir ʼn antwoord te aanvaar nie. Jy moet jou laat lei deur jou morele kompas oor wat reg en geregtigheid is, en wees getrou aan joernalistiek en al sy beginsels.”

Tanya de Vente-Bijker

Comments are closed.

error: Content is protected !!