ONS GAAN 100 NUWE AFRIKANERMONUMENTE BOU

Só maak ons – Vat Vas Dansorkes
Junie 27, 2019
Bob Ffole
Junie 27, 2019

Die FAK het kennis geneem van Anton van Niekerk se artikel in Beeld (25/6/2019) waarin hy te velde trek teen die onthulling van ’n Penkopbeeld ter herinnering aan die 22 000 “wit kinders” wat in die Anglo-Boereoorlog gesterf het.

Besturende Direkteur van die FAK, Dr. Danie Langner

Die artikel herinner sterk aan Jacob Rees-Mogg wat vroeër vanjaar ook die lyding van kinders in konsentrasiekampe misken het. Anders as Rees-Mogg kan Van Niekerk nie onkunde as verskoning aanvoer nie. Hy doen gereeld en lustig mee aan die openbare spreekkoor vir wie dit ’n stokperdjie is om Afrikaners voortdurend met die lat van die verlede te wiks. Van Niekerk se anti-Afrikanersentimente is deeglik en omvattend gedokumenteer, maar met dié artikel neem hy dit een stap te ver. Die onsensitiewe en kwetsende wyse waarop hy na die dood van 22 000 kinders in konsentrasiekampe verwys, skok. Ons mag verskil, maar kom ons behandel die kinders wat gesterf het met die respek en eer wat hulle verdien.

Onderliggend aan die argument in Van Niekerk se artikel is ’n eng, ekstreme en onverdraagsame beskouing van inklusiwiteit. Aan die wortel hiervan is die verwagting dat Afrikaners hulle taal, geskiedenis, kultuur en tradisies moet onderwerp aan die meedoënlose rassetransformasie wat op die samelewing afgedwing word. Vir die uniekheid van kultuurgemeenskappe en hulle verhale is daar in die inklusiwiteitsbeskouing geen plek nie. Selfs al skep die grondwet ruimte vir diversiteit en kulturele identiteit, irriteer dit die eksponente van onverdraagsame inklusiwiteit grensloos.

Die meesterverhaal van onverdraagsame inklusiwiteit is voorspelbaar. Geskiedenis moet slegs aan die hand van apartheid beoordeel word, want anders kan rassetransformasie nie geregverdig word nie. Afrikaners durf nie trots wees op die prestasies van hulle voorouers nie, want apartheid het al die goeie bouwerk en uitnemende prestasies van die verlede tot niks gemaak nie. Afrikaners mag nie kinders van konsentrasiekampe vereer sonder ’n rits polities korrekte voorwaardes nie. Afrikaners se woorde en dade word beoordeel aan die hand van ’n wit-teen-swart-rasbeskouing, wat wit mense en swart mense skaamteloos teen mekaar afspeel. Wanneer argumente opdroog, word die holruggeryde cliché dat Afrikaners na apartheid terughunker roekeloos rondgeslinger. Fopnuus skep die klimaat hiervoor. Die slot is altyd dieselfde. Wit mense word as sondebokke ontmasker wat die lyding en opoffering van swart mense misken. Afrikaners en Afrikanerorganisasies wat nie gedienstig, gedwee en skuldig die nek onder die juk van die meesterverhaal buig nie, sal as rassiste verdoem word.

Cassie Aucamp is in die kol met sy beswaar teen Van Niekerk se onverdraagsame inklusiwiteit: “Dit is eensydig, onwetenskaplik en bloot onwaar om die totale nalatenskap van ’n hele geslag Afrikaners bloot tot hul sondes en tot Apartheid te reduseer.” Johannes Degenaar, die briljante filosoof van Stellenbosch, het reeds in die negentigerjare die grondslae en uitkoms van onverdraagsame inklusiwiteit bevraagteken. Die besware val op dowe ore, omdat dit nie die heersende orde napraat nie. Die feit is, kulturele onverdraagsaamheid skep die teelaarde vir polarisasie en vervreemding wat rassehaat legitimeer en ekstremisme aan die hand werk. Dit kan Suid-Afrika nie bekostig nie.

Op dié punt, geen Afrikaner waarvan ek weet, praat van “houthakkers en waterdraers” nie. Ons praat nie so aan huis nie en ook nie by die werk nie. Ek het nog nooit die term “houthakkers en waterdraers” by enige van Solidariteit of AfriForum se personeel, lede, toesprake gehoor, of in openbare verklarings gesien nie. In sy verbete poging om Afrikaners te beledig, is Van Niekerk inderwaarheid diep beledigend teenoor ons medelandsburgers. Dit is wat ’n eng en onverdraagsame inklusiwiteit doen. Dit skep ’n eensydige en valse werklikheid wat mens siende blind maak vir die goeie in ander. Kom ons verskil in waarheid op só ’n wyse dat ons mekaar en ons medelandsburgers se menswaardigheid respekteer.

Laat dit vir eens en altyd duidelik gestel word: die FAK glo aan ’n ruimteskeppende en medemenslike Suid-Afrika. Inklusiwiteit beteken vir die FAK om saam te werk aan sake van gemeenskaplike belang en saam te bou aan ’n beter toekoms vir al Suid-Afrika se kinders. Die FAK weier volstrek om swart rassisme met wit rassisme te beantwoord en glo dat die meerderheid wit, swart en bruin Suid-Afrikaners mekaar nie haat nie.

Inklusiwiteit beteken vir die FAK dat verdraagsame, ontspanne ruimtes geskep word waar die veelvoud van kultuurgemeenskappe in Suid-Afrika kan floreer. In ’n verdraagsame verstaan van inklusiwiteit is daar vryheid. Vryheid om saam te werk en vryheid om self te doen. Dit is nie nodig om alles vir almal te probeer wees nie. Die FAK is ontspanne oor die feit dat daar verskillende perspektiewe op die geskiedenis is. Teenoor die voorspelbare uitkoms van die eentonige meesterverhaal, verryk en verdiep verskillende perspektiewe die verstaan van ’n komplekse Suid-Afrikaanse verlede. ’n Verdraagsame inklusiwiteit soek balans tussen eenheid en verskeidenheid. Die balans bevorder sosiale kohesie.

Die FAK probeer nie met die bou van nuwe Afrikanermonumente iemand ’n punt bewys nie, kraak geen kultuurgroepe af nie, probeer niemand verneder, of ander se kulturele identiteit te misken nie. Niemand word gedwing, voorgesê of omgekoop om met die Afrikanermonumente te assosieer nie. Die FAK bou ons Afrikanermonumente op veilige plekke waar dit beskerm, bewaar en waardeer word. Die FAK bou nie Afrikanermonumente met staatsgeld of belastinggeld nie, maar met die hulp van gewone Afrikaners wat vrywillig tot die FAK se geskiedenisfonds bydra. Dit is Afrikaners wat sê ons mag trots wees op wie ons is en op die bouwerk van ons voorouers. Dit is Afrikaners wat nie net monumente bou nie, maar ook toekomsgerigte organisasies, besighede, skole en ’n nuwe Afrikaanse universiteit.


Die FAK bou nie Afrikanermonumente met staatsgeld of belastinggeld nie, maar met die hulp van gewone Afrikaners wat vrywillig tot die FAK se geskiedenisfonds bydra.

Die FAK se lys van Afrikanerbouers, met bewese en uitnemende prestasies, is baie lank. Dit is bouers wie se nalatenskap die toets van tyd deurstaan het en positiewe vrugte dra. Die FAK gaan 100 nuwe Afrikanermonumente bou waarmee ons aan die vergete bouers van ons verlede die erkenning wil gee wat hulle toekom.

Anton, die FAK wil graag saam met jou en enige swart gemeenskap ’n pragtige monument bou wat aan die lyding van swart kinders in die konsentrasiekampe erkenning gee. Praat is maklik. Voeg daad by die woorde in jou artikel en skenk die fondse vir so ’n monument. Onder

Ondersteun die FAK se geskiedenisfonds en help ons om 100 nuwe Afrikanermonumente te bou, klik hier.

Comments are closed.

error: Content is protected !!