Olke bolke
Junie 27, 2019
Aanstap rooies
Julie 15, 2019

Laat alles wat asem het, die Here loof

deur Daantjie Dinamiet

In die vroeë 1980’s het ’n jong predikant ’n opskudding veroorsaak toe hy vir die eerste keer met ’n kitaar op die kansel van ’n NG-kerk gestap het.

Jan de Wet

Jan de Wet was toe al bekend as ’n sanger en liedjieskrywer, en hy het sy teologiese studie pas voltooi, waarna hy as predikant bevestig is. Hy is aanvanklik as ’n ketter beskou, maar dit het die weg gebaan vir die stigting van die Maranatha-platemaatskappy in 1984 en die samestelling van die eerste Jeugsangbundel, wat dieselfde jaar in gebruik geneem is.

Mettertyd het al hoe meer gemeentes begin om kitaarbegeleiding te gebruik en meer kunstenaars het begin om kontemporêre Christelike musiek in Afrikaans te sing. Vroeër jare was daar wel gewyde opnames deur kunstenaars, maar daar was net ’n beperkte gehoor wat daarna geluister het.

Teen die 1990’s het die mark vir kontemporêre Afrikaanse Christelike musiek uit sy nate gebars en ’n groot verskeidenheid kunstenaars het tot die musiekbedryf toegetree. Jan de Wet se album, Via Dolorosa, wat die treffer “Hierdie Kind” bevat het, het geskiedenis gemaak deur die eerste Afrikaanse Christelike album te word wat nie net goue status behaal het nie, maar ook op CD uitgereik is. Piet Smit se musiek was, en is nou nog, op baie dieselfde gehoor gemik, en hy het gou ’n gunsteling onder Christen-musiekliefhebbers geword. Sy album, Heer, U maak my nuut, met treffersnitte soos “Meer en meer soos Jesus” en “Soos die arend”, het hom in die mark gevestig, maar sy volgende album, Oesland, het die uiters gewilde “Oorwinningslied”, waarvoor hy die woorde geskryf het, bevat. Danie Botha het in 1989 tweede in die televisiereeks Debuut, wat hy moes gewen het, gekom. Nadat hy vier kommersiële albums vrygestel het, het hy besluit om hom op Christelike musiek toe te spits. Na ’n halfhartige eerste Christelike album het sy vrystellings in hierdie genre al hoe beter geword, en veral snitte soos “Nuwe wyn”, “Kyk Hy kom”, “Vroeg in die more” en sy vertolking van bekende aanbiddingsliedere soos “Ancient of days”, “We will ride” en “God is good all the time” het die verbeelding van musiekliefhebbers aangegryp.

Willie en Natasha Joubert

Willie Joubert het meer as een keer bewys dat hy een van ons land se voorste sangers van Afrikaanse Christelike musiek is. Hy het vroeg in die 1990’s sy debuut gemaak met sy album Ek kan sien, en veral liedjies soos “Nagmaalslied”, wat hy self geskryf het, “Habakuk 3”, “Neem my lewe” en “Maak tyd” het gewild geword. Hy en sy vrou Natasha, ’n sangeres in eie reg, het ook al ’n Christelike duetalbum opgeneem.

Nog twee sangeresse wat besluit het om niks anders as Christelike musiek te sing nadat hulle aanvanklik deel van die kommersiële toneel was nie, is Freda Francis en Ronell Erasmus. Albei het al hoe meer sukses behaal nadat hulle hierdie besluit geneem het. Freda se grootste treffer tot dusver was “Nader al nader”, terwyl Ronell se album Halleluja, waarvan Anneli van Rooyen die titelsnit geskryf het, die eerste vyf op die amptelike Suid-Afrikaanse trefferslys gegrond op werklike albumverkope, gehaal het.

Juanita du Plessis

Daar is ook sekere kunstenaars wat sukses in kommersiële en Christelike musiek behaal en ewe geloofwaardig in albei genres is. Seker die beste voorbeeld hiervan is Juanita du Plessis. Juanita het groot sukses as popsangeres behaal, maar toe sy haar eerste Christelike album, Altyd daar, vrygestel het, het sy bewys dat sy ook in hierdie rigting suksesvol en geloofwaardig kan wees. Sedertdien het sy nog drie Christelike albums tussen haar kommersiële albums vrygestel. Rina Hugo het omtrent al enige musiekgenre, van opera tot ligte Afrikaanse musiek, baasgeraak, maar deesdae konsentreer sy op Christelike musiek.

Daar was ook al verskeie sangpare en groepe wat tot die Afrikaanse Christelike musiektoneel toegetree het. In 1994 het Koos van der Merwe en Theo Geyser die sangpaar Prophet gestig en dadelik groot sukses met

Prophet

“Houtkruis” behaal. Dit is egter met hul tweede album, Ban hom uit die sinagoge, wat hulle mense nie net aan die praat gehad het nie, maar ook hier en daar mense kwaad gemaak het. Veral snitte soos “Popliedjie”, waarop hulle gesê het dat Christene se intelligensie nie onderskat moet word nie, “Asemliedjie”, waarop hulle op ’n droë manier gesê het dat alles wat asem het, die Here moet loof, “Psalmalternatieweliedjie”, met die woorde van ou bekende Psalms en gesange op ’n nuwe wysie en “Kerkraadrapliedjie”, waarin hulle die tipiese kerkraad van ’n gemeente beskryf het soos dit is, het groot omstredenheid veroorsaak. Hul droë humorsin het mense laat lag, maar hul boodskap was elke keer ondubbelsinnig.

Dis moeilik om elke enkele kunstenaar of groep op die Afrikaanse Christelike musiektoneel te noem of te bespreek, maar daar is genoeg verskeidenheid om die meeste musiekliefhebbers tevrede te stel. Soos dit in Psalm 150 vers 6 geskrywe staan: “laat alles wat asem het, die Here loof”.

Comments are closed.

error: Content is protected !!