Bestaan daar iets soos Afrikaanse country-musiek?

Olke bolke
Junie 27, 2019
Aanstap rooies
Julie 15, 2019

deur Daantjie Dinamiet

In 1961 het Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers vir die eerste keer kennis gemaak met country-musiek in Afrikaans toe Charles Jacobie se debuutalbum, Die singende beesboer, vrygestel is.

Charles Jacobie

Hierdie album was dadelik ’n sukses en het verskeie treffers opgelewer, nie net oorpronklike liedjies soos “Ruiter in die nag” en “My ryperd, my brakkie en ek” nie, maar ook bestaande wysies met Afrikaanse woorde. Charles het selfs op ’n perd deur Johannesburg se strate gery om die album te bemark en te oordeel aan die gewildheid van die album was dié ongewone strategie uiters geslaagd.

Lance James en Min Shaw

In 1969 het Lance James, wat toe al ’n gevestigde kunstenaar was, in Afrikaans begin sing toe sy sangstem vir die hoofkarakter in Die Danie Bosman-storie gebruik is. Dit het ook die begin van sy loopbaan saam met Min Shaw beteken en hulle het ’n aantal suksesvolle albums vrygestel totdat Min Shaw besluit het om haar op Christelike musiek toe te spits. Daar was egter min Afrikaanse country-liedjies op Springbok Radio se trefferslys. Die uitsonderings, wat wel as country beskou kon word, was Lance se twee treffers “Dankie” en “Vicki”. Billy Forrest, wat feitlik elke musiekgenre bemeester het, het ’n Afrikaanse weergawe van Tommy Overstreet se nr. 1-country-treffer “Heaven is my woman’s love”, getiteld “Liefde is my nooi se naam”, opgeneem en sowaar tot die Top 20 toegetree.

In 1980 het die debuutalbum van ’n kunstenaar wat haarself as country-sangeres sou vestig, verskyn en sy het dadelik groot aanklank by die publiek gevind. Cora-Marie het wel al ’n kortspeler vrygestel waarvan albei kante, “Vreugde op die plaas” en “Veg vir jou land”, radiolugtyd gekry het. Haar deurbraak het egter gekom toe sy ’n liedjie wat baie amper in die asblik beland het, opgeneem het. Pieter Britz was destyds verantwoordelik vir die meeste van haar liedjies en toe sy sien dat Pieter dié liedjie wou wegsmyt, het sy daarna gekyk en besluit om dit op te neem. “Gee haar ’n roos” het in Maart 1981 sy toetrede tot Springbok Radio se Top 20 gemaak, tot by die sestiende plek gevorder en vyf weke op die trefferslys gebly. Dit was die begin van ’n lang en uiters suksesvolle loopbaan wat verskeie goue- en platinumalbums ingesluit het. Sy was agttien maande later terug op die Top 20 met nog ’n komposisie van Pieter Britz, naamlik “Gee vir my ’n bietjie country”, wat die twaalfde plek gehaal het en nege weke lank op die trefferslys was. Nie lank daarna nie was daar ’n radio-onderhoud met Cora-Marie, en sy het gesê dat sy op soek was na oorspronklike Afrikaanse liedjies. Johan Wessels, ’n aanhanger van Cora-Marie het geluister. Hy was ’n liedjieskrywer en het besluit om nie net van sy komposisies vir haar platebaas, Corrie Myburgh met wie sy ook getroud was, te stuur nie, maar ook saam met haar te sing. Corrie het besluit dat Johan, wat die verhoognaam Kupido vir homself gekies het, homself eers as ’n sanger

Cora-Marie en Kupido

moes vestig. Hy het dit gedoen deur “Was ek maar ’n digter” op te neem; dit het in April 1983 tot Springbok Radio se Top 20 toegetree, die sestiende plek gehaal en vier weke op die trefferslys gebly. Cora-Marie se loopbaan het egter later jare verskeie terugslae beleef, veral toe haar album, Ek kan lewe, in 1989 deur die aanbieder van Afrikaanse treffers, Edwill van Aarde, afgekeur is. Dit was egter nie net haar album nie, maar ook ander wat deur haar platemaatskappy vrygestel is, onder meer die Afrikaanse album van Eugene Havenga. Nadat haar platemaatskappy sy deure gesluit het, het sy ’n kontrak by ’n ander maatskappy gesluit, maar haar musiek het agteruitgegaan in die sin dat sy hoofsaaklik bestaande wysies met Afrikaanse woorde van twyfelagtige gehalte gesing het. Sy is op 8 Julie 1994 in die ouderdom van 41 jaar aan kanker oorlede, maar voor die tyd het sy die album U wil sal geskied, opgeneem terwyl sy siek was. Dit was egter duidelik dat haar beste dae toe al verby was.

Kupido het homself nie net as solokunstenaar en liedjieskrywer gevestig nie, maar ook as Cora-Marie se gereelde sangmaat. Hulle het verskeie treffers, almal deur Kupido geskryf, opgeneem. In 1988 het hulle die album Tot siens gister hallo more, waarin hulle van hul country-styl afgewyk het, vrygestel, maar net gemengde welslae daarmee behaal. Kupido het ’n paar jaar voor die tyd ook gesorg vir die meeste snitte vanaf Laurika Rauch se album, Jy is te dierbaar en veral die titelsnit, asook “Lied van die natuur”, wat op die B-kant van dieselfde kortspeler as die titelsnit was, het treffers geword. Kupido het homself ook later jare gevestig as ’n sanger van Christelike musiek terwyl sy broer Louw, wat onder die naam Alan Ladd sing, hom op tradisionele country-musiek gevestig het. Alan het tot dusver egter min Afrikaanse liedjies opgeneem. Kupido is in Februarie 2016 in die ouderdom van 62 jaar oorlede.

Intussen het ’n paar van die meer gevestigde country-kunstenaars al hoe meer Afrikaans begin sing, onder meer Bobby Angel, wat ’n jaar of twee gelede sy uittrede uit die musiekbedryf aangekondig het. Sy grootste Afrikaanse treffer was “Wals van die lewe”, die Afrikaanse weergawe van Don Williams se treffer “She’s in love with a rodeo man”. Lance James het egter ’n aantal albums opgeneem waarin hy hoofsaaklik Afrikaans gesing het en hy het treffers gehad met “50 goue jare”, “Oupa se wals” en “Lied van hoop”. Hy tree deesdae nog baie gereeld op ten spyte van die feit dat hy in Julie verlede jaar tagtig jaar oud geword het.

Die Campbells

Deesdae is daar minstens drie sangpare op die country-toneel en al drie het al groot sukses behaal. Die Campbells, wat uit die twee broers Tony en Harry Campbell bestaan, is al omtrent twintig jaar op die musiektoneel en hulle handhaaf ’n balans tussen bekende treffers en nuwe Afrikaanse liedjies. Onder hul grootste treffers tot dusver was “Rooi rok bokkie”, “Bietjie bietjie lam”, “Komaan kom dans” en “Bloed is dikker as water”. Henk Dercksen en Jeanette Pretorius is die twee lede van die sangpaar Heuning, en ook hulle het al verskeie treffers gehad, onder meer “Skree”, “Drome”, “Bietjie langer bly”, en hul nuwe een, “Die lied wat skree”, wat deesdae gereeld oor die radio gehoor word. Wynand Strydom is al jare lank in die musiekbedryf, en hy is getroud met die country-sangeres Cheree. Hulle is gevestigde solokunstenaars, maar het ook al ’n paar duetalbums vrygestel.

Die Suid-Afrikaanse publiek kan soms uiters wispelturig wees, en country is een van daardie genres wat mense met dieselfde passie aanhang of haat. Die gewildheid van ’n reeks konserte soos Country is groot, is ’n bewys dat mense ontvanklik is vir musiek in hierdie styl. Dit is egter gewoonlik kunstenaars wat ook ander musiekgenres soos pop, rock of volwasse kontemporêre musiek sing, en nie noodwendig country-kunstenaars in die ware sin van die woord is nie, wat aan hierdie konserte deelneem en gewoonlik sing hulle oorsese country-treffers. Daar is egter min rasegte country-kunstenaars wat met oorspronklike Afrikaanse komposisies vorendag kom, en dit lyk nie asof daar juis ’n aanvraag is nie. Dalk is dit omdat mense dink dat country in Nashville in die Amerikaanse staat Tennessee hoort en nie van toepassing is op Suid-Afrika nie, of dalk beskou die musiekopstellers van Suid-Afrikaanse radiostasies country nie as goed genoeg nie, of hulle dink dis nie hul radiostasies se “klank” nie. Laasgenoemde is ’n belaglike verskoning. Daar is ook diegene wat dink jy kan nie country in Afrikaans sing nie. Hoe ook al, country sal altyd sy aanhangers en kritici hê; die vraag is net na wie die opstellers van radiostasies gaan luister wanneer hulle ’n liedjie of album vir lugtyd evalueer. Dit sal bepaal of country sal voortleef of uitsterf.

Comments are closed.

error: Content is protected !!