3 Ghitaar Jolyt – Hennie de Bruyn en die Kitaarkêrels

Dis heerlike lente
Julie 15, 2019
Ligsoom – Liani Reynolds
Julie 15, 2019

Die afgelope vyftien jaar, of dalk langer, is Hennie de Bruyn en die Kitaarkêrels een van die voorste instrumentale groepe in Suid-Afrika.

Hennie was nog altyd die leier van die groep, maar elke nou en dan is daar nuwe lede wat nogtans geen verskil aan hul klank gemaak het nie. Daar is steeds drie kitare sonder enige tromme of ander bykomende instrumente. Hul nuwe album, 3 Ghitaar Jolyt, is pas uitgereik, en hierdie keer speel Dawie Beukes die ritmekitaar en baskitaar en Oubaas Joubert die ritmiese baskitaar. Dis eintlik interessant om te sien dat die outydse spelling, naamlik ghitaar, in die titel van die album gebruik word. Dit is ’n wisselvorm, maar die meeste mense praat vandag van ’n kitaar.

“Sharky town skoffel” is Hennie se eie komposisie na aanleiding van ’n gewilde kuierplek in Vereeniging. “Tippi tin” is eintlik ’n bekende wals, met ’n effens klassieke inslag. Jan Brits was ’n baie bekende kitaarspeler, en hy het die volgende snit, “Lankloop-kwêla” geskryf.  “Kom laat ons dans” is ’n lekker snit wat Hennie self geskryf het. Hennie het “Wals vir Dottie” vir sy vrou geskryf. “Gallop-setees” is een van twee snitte met ’n soortgelyke titel wat Hennie geskryf het. “Chris se vastrap” is nog ’n komposisie van Jan Brits. Hennie het “Fanie en Penny se setees” geskryf; ’n mens kan net aanneem dat dit vir vriende geskryf is.  Daar is ’n spelfout op die omslag met die titel van die volgende snit, “Nooientjie van my hart”. Dit word verkeerdelik as Nooitjie gespel. Hoe ook al, dit is ’n mooi snit.

“Velskoen-kwêla” is een van die lekkerste snitte op die album; dit herinner ’n mens aan die township-musiek wat in gebiede soos Sophiatown ontstaan het, maar Hennie het dit gekomponeer. “Tammaletjie” (sic) is geskryf deur J Laubscher; ’n mens wonder of dit dalk die Boeremusieklegende Japie Laubscher was. Dieselfde met die wals “Lentebloeisels”, was M Bodenstein dalk die bekende konsertinaspeler en orkesleier Manie Bodenstein? “Slimpraatj”ies is nog ’n snit wat nie deur Hennie gekomponeer is nie, maar dit maak nie saak nie.  “Misvloer-vastrap” is ’n lekker oorspronklike komposisie wat net so maklik deur ’n Boereorkes met ’n konsertina gespeel kan word. Hennie wéét hoe om ’n lekker kwêla te komponeer, soos wat hy ook met “Kampvuurkwêla” bewys het. “Galloppe is ’n heeltemal ander komposisie as die “Gallop-setees”; die twee moet nie met mekaar verwar word nie.  “Lekkerstap” is die laaste snit op die album wat Hennie gekomponeer het. Die laaste snit is “Spoornet-setees”, ’n komposisie van M Visser (dalk Worsie Visser se broer, Michiel?).

Met hierdie album het Hennie-hulle opnuut bewys dat ’n mens nie allerhande foefies en fieterjasies nodig het om ordentlike musiek te maak nie. Daar is niks wat nog in ’n ateljee gedoen moet word om die album te “verbeter” nie. As jy van kitaarmusiek hou, sal jy hierdie album geniet.

Comments are closed.

error: Content is protected !!