Someraarde – Joshua Na Die Reën
Julie 15, 2019
100 dae van dankbaarheid
September 26, 2019

Dit gebeur nie sommer dat ’n sanger ’n CD-kontrak kry terwyl hy besig is met ’n radio-onderhoud nie, maar dit is presies wat met Elandré gebeur het.

Sy debuutalbum, Kleindorp-dromer het hom in die musiekbedryf gevestig en het treffers soos “Die lyn” en “Afrikaans sal bly” opgelewer. Nou is hy terug met sy tweede album, Boomhuis, en die vraag is of hy op dié sukses kan voortbou.

Die eerste snit is ook die eerste enkelsnit, naamlik “Vuur op die water”, wat hy saam met Neil Schoombee geskryf het. Dit is reeds ’n treffer en dis maklik om te verstaan hoekom. “Tussen die lakens” is ’n komposisie van Elandré en Jonathan Scholtz en die lae register waarin hy sing, klink baie goed. “In hierdie ding” is ’n snit wat hy alleen geskryf het. Die eerste bekende snit op die album is Lonestar se “Amazed”, een van die grootste country-treffers van die afgelope paar jaar. Die gestroopte klavierbegeleiding is regtig iets besonders; dit klink selfs beter as die oorspronklike weergawe.

Elandré het die titelsnit geskryf na aanleiding van ’n boom wat hy van sy kinderjare onthou; dit is beslis ’n snit met trefferpotensiaal. “If you asked me to” is ’n bewys dat Elandré ewe goed Engels as Afrikaans kan skryf en sing. Dit lyk asof Elandré se komposisie “Eerlikwaar” die volgende treffer gaan wees; dit is een van die beste snitte op die album. “Eilande, woestyne” is nog ’n snit wat hy self geskryf het, en hierin sing hy van die struikelblokke wat in verhoudings voorkom. Hopelik sal dit ook ’n treffer word. Een van die groot verrassings op die album is sy weergawe van Pussycat se “Teenage queenie”, met skitterende kitaarwerk. Dis goed dat ’n manlike kunstenaar hierdie liedjie opgeneem het; dit verdien radiolugtyd. “Softly” is nog ’n uitstekende snit wat hy self geskryf het. “Woorde uit jou mond” is die laaste oorspronklike snit wat hy self geskryf het, en weer eens klink die lae register waarin hy hier sing, baie goed. Die laaste snit is ’n baie mooi weergawe van Jim Reeves se treffer “He’ll have to go”; dit bewys dat goeie musiek tydloos is aangesien Jim reeds meer as vyftig jaar gelede oorlede is.

Met hierdie album het Elandré bo alle twyfel bewys dat hy nie net ’n uitstekende sanger en liedjieskrywer is nie, maar ook hier is om te bly. Hierdie album is dalk een van vanjaar se bestes en kan baie sterk aanbeveel word.

Comments are closed.

error: Content is protected !!