Onbreekbaar – Corlea
Julie 15, 2019
Someraarde – Joshua Na Die Reën
Julie 15, 2019

Die Suid-Afrikaanse publiek kan soms uiters wispelturig oor hul musieksmaak wees; die een oomblik kan hulle nie genoeg van ’n sekere musiekgenre kry nie en net daarna kan hulle dit nie verdra nie.

Dit is beslis die geval met country-musiek; hoewel verskeie country-liedjies groot treffers geword het, wil Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers niks van die hedendaagse country-kunstenaars weet nie, tensy hul musiek met pop of rock vermeng word.

Nogtans het die Country is Groot-reeks baie gewild geword, en die derde volume daarvan is pas uitgereik. Die eerste snit op hierdie versameling is Steve Hofmeyr en Demi-Lee Moore se weergawe van Don Williams se treffer “Amanda”, wat opgeneem is net nadat Demi-Lee as die wenner van Die kontrak aangewys is. Dit is reeds besig om ’n groot treffer te word. Steve en Demi-Lee sing die volgende snit, John Denver se treffer “Take me home country roads”, saam met Ricus Nel en Riana Nel, en gelukkig bly hulle getrou aan die oorspronklike styl eerder as om dit, soos Hermes House Band, in ’n partytjieliedjie te probeer verander. Demi-Lee se weergawe van Dolly Parton se treffer “Coat of many colours” is uitstekend. Riana Nel se solo-bydrae tot hierdie album is Alannah Myles se bekende treffer “Black velvet”. Riana se opname is baie goed, maar hierdie liedjie is eerder ’n vemenging van rock en blues, eerder as country. “Sundaze” is ’n minder bekende liedjie wat oorspronklik deur Florida Georgia Line gesing is en dis goed dat Ruhan du Toit dit opgeneem het. Ruhan het al bewys dat hy enige tipe musiek kan sing. Die country-puriste hou nie van die vermenging van country en rock wat dié groep gewild gemaak het nie, maar Ruhan se opname behoort baie gewild te word. Demi-Lee het Cam se treffer “Diane” saam met Monique Steyn op Die kontrak gesing en dit het so gewild geword dat selfs die oorspronklike weergawe skielik radiolugtyd begin kry het. “Teach your children” was oorspronklik ’n treffer vir Crosby, Stills, Nash and Young en Steve se opname daarvan het baie gewild geword.

Johnny Cash se musiek pas baie goed by Theuns Jordaan se stem, met die gevolg dat sy opname van “Walk the line” een van die hoogtepunte op die album is. Lady Gaga het “I will always remember us this way” in die rolprent A star is born gesing, en Karlien van Jaarsveld het dit vir hierdie album opgeneem. “Sound of a million dreams” is oorspronklik deur David Nail opgeneem, en die sanger wat dit vir hierdie versameling opgeneem het, Riaan Benade, is nie so bekend nie, maar hy het beslis die potensiaal om dit ver te bring in die musiekbedryf. “Parallel line”, wat deur Keith Urban gesing is, is deur Stefan Benz opgeneem vir hierdie versameling. Ricus Nel het lank al gesê dat Don Williams hom geïnspireer het; hy het trouens ’n album opgeneem waarop hy hulde aan dié bekende country-sanger gebring het. Een van die snitte vanaf daardie album, wat hy ook hier ingesluit het, is “Some broken hearts never mend”, wat ook ’n treffer vir die akteur en sanger Telly Savalas was. Ray Dylan is nog ’n sanger wat al heelwat country-liedjies opgeneem het; sy bydrae is Zac Brown Band se treffer “Toes”, wat ook al deur die country-sanger Jason Bradley opgeneem is. “One last kiss” is oorspronklik deur Chris Norman, die voormalige hoofsanger van Smokie, opgeneem, maar dit het eers gewild geword toe Clive Bruce dit gesing het. Jay en Lianie het dit vir hierdie versameling opgeneem.

“H.O.L.Y” (wat staan vir High on loving you) is nog ’n Florida Georgia Line-treffer op hierdie album; Bobby van Jaarsveld het dit al ’n paar jaar gelede opgeneem en sy weergawe het lugtyd op verskeie Suid-Afrikaanse radiostasies gekry. Riana Nel se tweede bydrae tot hierdie versameling is “Glass”, wat sy ook al ’n paar jaar gelede saam met Coleske opgeneem het. Hierdie liedjie het ’n groot treffer vir hulle geword. Elandré se weergawe van Bruce Springsteen se treffer “Tougher than the rest” het sy musiekloopbaan ’n groot hupstoot gegee; toe hy dit tydens ’n onderhoud op Bok Radio gesing het, het die grootbaas van ’n groot platemaatskappy na die ateljee toe gebel en hom net daar ’n kontrak aangebied. George Strait se musiek kan as rasegte country beskryf word; sy musiek kry nie genoeg lugtyd in Suid-Afrika nie. Riaan Benade se tweede bydrae tot hierdie versameling, “Amarillo by morning”, is een van die rasegte country-snitte op hierdie versameling. Ivan Roux is as die naaswenner van Die kontrak aangewys, en sy opname van Brett Young se treffer “Mercy” is nie net een van die beste snitte op hierdie versameling nie, maar dalk beter as die meeste snitte op sy debuutalbum. Dis snaaks dat ’n liedjie soos “Annie’s song”, wat deur John Denver vir sy destydse vrou geskryf is, deur ’n sangeres opgeneem word, maar haar naam kom nêrens in die liedjie voor nie en daarom is Corlea se opname meer geloofwaardig as wat dit andersins sou wees. Die laaste snit op die album is Elvis Blue se weergawe van Bob Seger and the Silver Bullet Band se treffer “We’ve got tonight”. Dit is net so goed soos die oorspronklike een.

Op die ou einde sal jou gevolgtrekking oor hierdie versameling afhang van wat jy van country-musiek verwag. As jy ‘n country-p’ris is en net na plaaslike kunstenaars soos Lance James, Alan Ladd of Jason Bradley luister, sal jy dalk nie hiervan hou nie, maar as jy net wil luister na goeie musiek wat in ’n country-styl gesing word, sal jy dit geniet.

Comments are closed.

error: Content is protected !!