Kom ons doen dit – Arno Jordaan

Ligsoom – Liani Reynolds
Julie 15, 2019
Onbreekbaar – Corlea
Julie 15, 2019

Dit gebeur al hoe meer gereeld dat ’n kunstenaar eers ’n paar enkelsnitte vrystel voordat sy of haar hele album verskyn, maar gewoonlik is dit nuwe, eerder as gevestigde kunstenaars wat dit doen.

Een uitsondering is egter Arno Jordaan, wat al langer as tien jaar in die musiekbedryf is, maar baie lank stil was. Nadat hy die laaste tyd net ’n paar enkelsnitte opgeneem en vrygestel het, is sy jongste album, Kom ons doen dit, eindelik beskikbaar.

Die eerste snit op die album is die huidige enkelsnit, “Derde Wêreldoorlog” wat, soos die meeste snitte op die album, deur Johan Oberholzer geskryf is. Dit gaan oor alles wat ’n man vir die vrou in sy lewe sal doen, maar die woorde is dalk effens oordrewe. Die titelsnit is veral op jonger luisteraars gemik, en die boodskap is dat ’n mens voluit moet lewe. “Wie wil saam jonk bly”, is ’n snit waarvoor Arno die Afrikaanse woorde geskryf het; dit is op die wysie van ’n liedjie van Andy Grammer. “Nou tot later” is nog ’n komposisie van Johan Oberholzer wat ’n treffer kan word. “Saam”, nog ’n komposisie van Johan Oberholzer, is een van die beste snitte op die album; die lirieke het meer om die lyf as die meeste ander snitte en ’n mens hoop dat dit ’n treffer sal word. “Die eerste keer” was al ’n enkelsnit wat goed gevaar het op ’n paar radiostasies se trefferslyste.

Liezel Pieters het haarself as solokunstenaar en as lid van 4Werke gevestig. Sy sing “Silouette” saam met hom; hul stemme werk baie goed en daarom behoort dit ’n treffer te wees. “Maak elke dag ’n Saterdag” is nog ’n snit wat by Arno se teikengehoor byval sal vind; hierin sing hy van al die dinge wat mense gewoonlik op Saterdae doen. “Jagtrip” gaan die volgende enkelsnit wees; dit kan ’n baie groot treffer word. “Een miljoen volt” is nog ’n moontlike treffer wat deur Johan Oberholzer geskryf is. “Mars Pluto Venus” en “Richterskaal” was ook al enkelsnitte; veral eersgenoemde se woorde is oppervlakkig en hoort eerder by ’n twintigjarige enkellopende sanger eerder as iemand wat al so lank soos Arno in die bedryf is. Die grootste verrassing, en die beste snit op die hele album, is egter heel aan die einde van die album. Arno het ’n skitterende opname van David Kramer se bekende treffer “Skipskop” opgeneem. Baie mense sal dink dis holruggery, maar diegene wat weet waaroor die liedjie regtig gaan, sal beslis nie daarmee saamstem nie. Hierdie snit móét gereeld oor die radio gespeel word.

Met sy nuwe album het Arno nie afgewyk van die resep wat vir hom gewerk het nie. Hy ken sy teikengehoor en hy gee hulle wat hulle wil hê. Daarom behoort dit weer eens ’n sukses te wees.

Comments are closed.

error: Content is protected !!