3 Ghitaar Jolyt – Hennie de Bruyn en die Kitaarkêrels
Julie 15, 2019
Kom ons doen dit – Arno Jordaan
Julie 15, 2019

Soms gebeur dit dat ’n gevestigde kunstenaar ’n jonger een onder sy of haar vlerk neem en daardie kunstenaar die geleentheid gee om self ’n indruk op die musiekbedryf te maak.

Joshua Na Die Reën het, sedert sy eerste album omtrent drie jaar gelede vrygestel is, een van ons land se voorste sangers en liedjieskrywers geword, en nou het hy, net soos met Lizandra Winter, nog ’n nuwe kunstenaar die kans gegee om tot die musiekbedryf toe te tree. Hy sing nie net saam met haar op die album nie; hy speel ook klavier en hy het die vervaardiging en produksie behartig.

Liani Reynolds se debuutalbum, Ligsoom, is pas uitgereik, en jy kom van die begin af agter dat dit nie sommer net nog ’n kommersiële album is nie. Liani het byna elke snit op die album self geskryf, en die eerste snit, “Sterredigter”, is regtig iets besonders. “Mossie”, die eerste enkelsnit vanaf die album, het ’n besondere verhaal. Liani het grootgeword saam met ’n gestremde kind, die jongste van haar ouma se vier kinders. Haar ouma het haar self versorg, en Liani het die liedjie geskryf nadat Mossie oorlede is. Liani se ouma is twee dae nadat sy die liedjie geskryf het, self ook oorlede. Die liedjie vertel ’n verhaal van selfopofferende naasteliefde. “Swaeltjie” vertel die verhaal van iemand wat net wil hê dat ’n geliefde moet terugkom. “Skuiling” is ’n liedjie wat sy vir haar pa geskryf het. “Pelgrimsgebed” is ’n komposisie van Amanda Strydom, wat dit ook gewild gemaak het. Dit is goed dat Amanda haar beïnvloed het. “Ruimte” is nog ’n besondere oorspronklike komposisie wat sy, volgens die albumomslag, aan Pa Percy opdra. Liani het “Gewoond” saam met Jaco van der Merwe van die groep Bittereinder geskryf; hy sing dit saam met haar. Hierdie liedjie gaan een van die treffersnitte vanaf die album word. Op “So baie dinge” sing sy van die klein dingetjies in die lewe wat besonders is. Liani het “Vlieërs” saam met Joshua Na Die Reën geskryf en hulle sing dit saam. Dit is ook op sy jongste album ingesluit. “Herontmoeting” is geskryf ter nagedagtenis aan die skrywer en digter Tom Gouws wat verlede jaar doodgeskiet is. Die laaste snit op die album, “Groen”, is ook haar eie komposisie, en sy dra dit aan Kalla, die man in haar lewe, op.

Daar is geen twyfel dat Liani met een van die beste albums tot dusver vanjaar vorendag gekom het nie. Elke snit vertel ’n storie en sy steur haar nie aan kommersiële foefies en modegiere nie. Vir dié wat op soek is na musiek met iets om die lyf, en wat die toets van die tyd sal deurstaan, kan hierdie album nie sterk genoeg aanbeveel word nie.

Comments are closed.

error: Content is protected !!