Kom ons doen dit – Arno Jordaan
Julie 15, 2019
Country is groot 3
Julie 15, 2019

Soms duur dit lank voordat ’n kunstenaar een album met ’n volgende een opvolg, maar dit beteken nie noodwendig dat daardie kunstenaar noodwendig stilgesit het nie.

In 2011, net nadat haar loopbaan as duetkunstenaar saam met Rudi Claase tot ’n einde gekom het, het Corlea haar soloalbum, Wie ek is, vrygestel. Dit het die treffersnit “Swart koffie”, asook ’n skitterende weergawe van Valiant Swart se “Sonvanger” bevat. Sedertdien het sy twee albums saam met Jannie Moolman opgeneem, en daar was al sedert 2013 sprake dat sy weer ’n soloalbum sou vrystel.

Hierdie album het eindelik verskyn, en hiermee volg sy ’n kommersiële, eerder as klassieke benadering, ondanks die feit dat sy ’n eerste sopraan met klassieke opleiding is. Die eerste snit op die album, “Breek my hart”, is deur Johan Oberholzer geskryf, en die a capella-inleiding is ’n bewys dat sy absoluut nootvas is. Dit gaan ’n baie groot treffer word. Corlea het die titelsnit saam met die egpaar Vaughn en Nerine Gardiner geskryf, weer eens is dit ’n uitstekende snit. Wilha Carstens het aan Die kontrak op VIA TV deelgeneem en moes baie kritiek verduur omdat hy niks anders as ’n balladesanger is nie. Hy sing “Déja vu” saam met haar, maar sy sing die grootste gedeelte van die liedjie. Hopelik sal dit sy sangloopbaan ’n hupstoot gee. “Dankie” is ’n snit wat sy help skryf het en nog ’n moontlike treffer. Die woorde is dalk effens sarkasties, maar dit is soms ook nodig om sulke dinge te sê. Op “Lewe vir nou” sing sy van dinge wat verkeerd is met ons land en sy mense, maar die woorde spreek tog van hoop vir die toekoms. Hierdie snit móét ’n enkelsnit word! Die kitaarwerk op Johan Vorster se komposisie, “Uit klip gekap”, is eenvoudig uitstekend; dit is een van die mooiste snitte op die album.

Corlea wys haar staal as liedjieskrywer met “Ek sal jou wys”, met dieselfde tipe lirieke as “Dankie”. Dit lyk asof al hoe meer kunstenaars lirieke skryf oor dinge wat skeefloop in verhoudings en dis goed dat dit gebeur, want nie alles gaan altyd net goed nie. Die volgende snit is ’n reuse verrassing; wie sou dink dat Corlea haar in alternatiewe musiek sou begewe? “Ek skyn (heilig)” was ’n treffer vir die groep met die naam wat ’n mens nie in ordentlike geselskap wil noem nie, maar die naam Polisiekar bevat. Hoe ook al, dit is ’n uitstekende weergawe van dié liedjie en miskien sal Corlea se opname daarvan maak dat dit by ’n groter gehoor byval vind. “Miracle” is die enigste Engelse snit op die album; sy het dit saam met Ewald Coleske geskryf. Miskien sal dit lugtyd kry op radiostasies wat nie gewoonlik Afrikaanse musiek speel nie.  Die laaste snit op die album, “Bittersoet”, is ’n komposisie van Corlea saam met Christoph Kotze, wat as Appel in die musiekbedryf bekendstaan. Dit is ’n pragtige snit en dis jammer dat dit heel laaste op die album voorkom.

Aangesien Corlea gewoonlik ’n klassieke aanslag volg, het ’n mens amper nie geweet wat om van hierdie album te verwag nie; veral omdat nie almal daarvan hou as sy te hoog probeer sing nie. Daarom is hierdie album ’n groot verrassing; ’n mens kry nooit die indruk dat sy skree selfs wanneer sy hoë note sing nie en die snitte is só gekies dat dit by ’n breë gehoor byval sal vind. Dit is miskien een van die beste albums deur ’n vroulike kunstenaar tot dusver vanjaar.

Comments are closed.

error: Content is protected !!