Someraarde – Joshua Na Die Reën

Country is groot 3
Julie 15, 2019
Boomhuis – Elandré
Julie 15, 2019

Sedert sy toetrede tot die Afrikaanse musiekbedryf het Joshua Na Die Reën nie net een van ons land se voorste sangers en liedjieskrywers geword nie, maar ook nuwe talent soos Lizandra Winter en Liani Reynolds ontwikkel.

Sy derde album, Someraarde, is pas vrygestel, en hiermee hoop hy om voort te bou op die sukses van sy vorige twee albums. Dit gebeur nie gereeld dat ’n lang weergawe en ’n radioweergawe van dieselfde liedjie op een album verskyn nie, maar dit is presies wat hy met “Soos in nou” gedoen het. Die lang weergawe is byna ses minute lank, wat eintlik nie baie lank is nie; ’n liedjie soos “Bohemian Rhapsody” van Queen is ses minute lank en tog word dit gereeld oor die radio gespeel. Hoe ook al, dit is ’n uitstekende snit. Die radioweergawe is die eerste enkelsnit vanaf die album. “Sterrenet” is ’n lekker snit wat hy, soos met feitlik alles op die album, self geskryf het. Die titelsnit word aan sy broer Pierre opgedra. Nathan Smith se kitaarwerk op hierdie snit is uitstekend. “Onbekende reis” is een van die hoogtepunte vanaf die album, met ’n gestroopte musikale verwerking wat wyd byval sal vind. Hopelik sal dit ’n enkelsnit word. “Wandel” is vir Danél, Joshua Na Die Reën se vrou geskryf. “Vlieërs” is ’n duet tussen Joshua Na Die Reën en Liani Reynolds; hulle het dit saam geskryf. Dit is ’n hoogtepunt vanaf die album en behoort ’n groot treffer te word.

“Soos die wind” is nog ’n snit met trefferpotensiaal, terwyl “Sweef” beskou kan word as ’n tussenspel, aangesien dit net ’n minuut lank is. Daarteenoor is “Branders” een van die langer snitte op die album, en ’n besliste hoogtepunt.  “Chamonix” is, soos die res van die album, Joshua Na Die Reën se eie komposisie, maar daar is geen verdere inligting nie. “Suiderkruis” is tot eer van die Here geskryf; dit is ’n pragtige snit. Die radioweergawe van “Soos in nou” is die tweede laaste snit op die album; dit is reeds besig om ’n treffer te word. Die laaste snit, “2017”, is vir  sy pa geskryf.

Soos met sy vorige vrystellings het Joshua Na Die Reën vorendag gekom met ’n album van hoogstaande gehalte wat die toets van die tyd baie goed sal deurstaan. As jy op soek is na musiek met meer om die lyf as die treffers wat gereeld oor die radio gehoor word, kan hierdie album nie sterk genoeg aanbeveel word nie.

Comments are closed.

error: Content is protected !!