Afrikaanse rymklets nog in sy kinderskoene

“Die een” – Tasché
Augustus 5, 2019
Dans dit beter – Desmond Wells
September 7, 2019

deur Daantjie Dinamiet

In Februarie 1980 het ’n nuweling op Springbok Radio se Top 20 ’n rewolusie in die internasionale musiekbedryf veroorsaak; Rapper’s delight van Sugarhill Gang was die eerste rymklets-liedjie wat ’n internasionale treffer geword het, en dit was, byna teen die verwagting in, ook baie gewild in Suid-Afrika.

Dit was natuurlik net ’n kwessie van tyd voordat hierdie musiekvorm in Suid-Afrika sou posvat, maar dis eintlik snaaks dat dit so lank geduur het. Daar was hier en daar Afrikaanse kunstenaars wat rymklets in hul musiek gebruik het, veral Leon Schuster met sy parodieliedjie “Daai voël”, maar die eerste ware rymklets-liedjie het in 1988 verskyn. Die Kaapse groep Prophets of da city het venynige kritiek teen apartheid gelewer met “Ons stem”, waarin hulle onder meer na die destydse nasionale lied, “Die stem”, verwys het. Dit was een van net ’n handjievol Afrikaanse snitte wat hulle sou opneem, maar hulle het die saadjie geplant vir rymklets in Afrikaans.

Brasse vannie Kaap

Nog twee Kaapse groepe het gou gevolg. Funny Carp se musiek was glad nie geskik vir radiolugtyd nie, veral as gevolg van hul taalgebruik, en hulle het net twee of drie albums vrygestel. Brasse vannie Kaap, wat nie met hulle verwar behoort te word nie, het egter meer sukses behaal met hul drie albums, BVK, Yskoud en Ysterbek. Veral Yskoud het ’n paar treffers opgelewer, onder meer “Potjiekos”, “Die blikkie se boem” en “Sit jou hande op”.

Dit was egter ’n jong kunstenaar wat, ondanks die feit dat hy Afrikaanssprekend is, eers in Noord-Sotho begin rymklets het, wat meer as enigiemand gedoen het om dié musiekvorm aan ’n groter gehoor bloot te stel. Francois Henning het aanvanklik as Lekgoa (blanke man in Noord-Sotho) bekendgestaan, en hy het al vertel hoedat hy op skool uitgelag is

Snotkop

omdat hy na kunstenaars soos Brenda Fassie geluister het. Hy het onder daardie naam ook ’n draai in 7de Laan gemaak. Toe hy na Afrikaans oorgeskakel het, het hy sy verhoognaam na Snotkop, sy bynaam op skool, verander. Een van sy grootste deurbrake was toe hy saam met Shine 4 opgetree het in hul nuwe opname van Glenys Lynne se groot treffer “Ramaja”. Sy gelyknamige debuutalbum is omtrent terselfdertyd vrygestel, en benewens sy eie treffers soos “Juffrou Gouws” het hy ook begin om Afrikaanse weergawes van bekende eietydse treffers op te neem. Een daarvan is “Veg vir jou reg”, gebaseer op The Beastie Boys se treffer “You gotta fight for your right to party”. Sy tweede album, So damn sexy, het die treffers “Kry jouself by die werk”, op die wysie van “Why don’t you get a job” van Offspring, en “Gatswaai”, wat Suzanne saam met hom gesing het, opgelewer. Die groot treffer vanaf sy volgende album, Ek laaik van jol, was een van die min gevalle van ’n bestaande Afrikaanse liedjie wat nuut verwerk is, en waarvoor ’n nuwe deel bygevoeg is. Carike Keuzenkamp het ’n baie groot treffer met “Dis ’n land” gehad, maar Snotkop het net die refrein behou en ’n nuwe rymklets-deel bygevoeg. Dit het sy gewildheid laat toeneem, net soos sy huldeblyk aan sy pa, “Song vir my Dad”. Hierdie twee snitte het bewys dat Snotkop ook ’n dieper kant het. Nadat sy volgende album, Oppas, nie juis noemenswaardige treffers opgelewer het nie, het hy groot sukses met twee snitte vanaf sy album Soos ’n boss behaal, naamlik “Agter op my fiets” en die effens omstrede “Dikkelicious”. Seker die grootste treffer wat Snotkop tot dusver gehad het, was “Cool soos Koos Kombuis” , vanaf sy album HKGK. Die album het ook ander treffers, soos “Meisie Ferguson”, “Woestersous”, “Raak vir my rustig” en “Hoe lykit”, met ’n musiekvideo wat nie geskik vir Suid-Afrikaanse televisie was nie. Snotkop se jongste album, Sous, is verlede jaar vrygestel.

Jack Parow

Een rymkletser wat van die begin af uiters omstrede was, is Jack Parow. Hy was deel van Die Heuwels Fantasties se snit “Die vraagstuk”, wat in 2010 op hul gelyknamige album voorgekom het, en sy eie debuutalbum het kort daarna verskyn. Dit was egter nie geskik vir radiolugtyd nie as gevolg van sy taalgebruik, en die aanvanklike besending van hierdie album het nie ’n plakker gehad wat luisteraars daarteen gewaarsku het nie. Hy het egter wel vier snitte opgeneem wat radiolugtyd gekry het, maar almal was in samewerking met ander kunstenaars, naamlik “Tema van jou lied” saam met Valiant Swart, “Veilig saam met Janie Bay”, “Blaas jou vuvuzela” saam met die Radio Kalahari-Orkes en seker die mees onwaarskynlike kombinasie denkbaar, “Dans met my” saam met die Klipwerf-Orkes. Hy het ook al as akteur in die rolprent Babelaas opgetree en die televisieprogramme Die kliek en Dis hoe ons rol aangebied.

Hemelbesem

Simon Witbooi, wat onder die naam Hemelbesem rymklets, is meer as net ’n rymkletser; hy is ook ’n ambassadeur vir Afrikaans en die skrywer van die outobiografiese boek God praat Afrikaans. Hy was verantwoordelik vir die temaliedjie van die rolprent Noem my Skollie, en hy en Anders het saam ’n groot treffer gehad met “Die tyd is nou”.

Verlede jaar het Jean du Plessis, wie se verhoognaam Jan Bloukaas is, ’n effens omstrede snit, naamlik “Kaas elke dag”, opgeneem en vrygestel, maar met “Desember”, waarop Mariné Moffat saam met hom sing, het hy gewys dat hy die potensiaal het om dit nog ver te bring. Sy debuutalbum, Lewe, is ook onlangs vrygestel.

Early B

Die jongste rymkletser wat op die Suid-Afrikaanse musiektoneel verskyn het, is Early B, wie se debuutalbum, Aangename kennis, verlede jaar vrygestel is. Hy het reeds ’n treffer met “Ben Ten” gehad, en die moontlikheid bestaan dat die album nóg treffers sal oplewer. Hy is ook reeds met ’n Ghoema-toekenning bekroon.

Hoewel rymklets tot dusver nog net by ’n beperkte gehoor byval gevind het en nog nie lank deel van die musiekbedryf is nie, behoort kunstenaars soos Snotkop, Jan Bloukaas en Early B se gewildheid te verseker dat ’n mens nog baie daarvan gaan hoor.

Comments are closed.

error: Content is protected !!