“Die wildernis” – Abel Knobel

More magic – Touch of Class
September 7, 2019
Van Groen en Goud tot Hie’ kommie Bokke
September 13, 2019

Ons het Abel Knobel leer ken as die baskitaar- en klawerbordspeler van die groep NRG, wat treffers met onder meer “Mayday”, “Roulette” en “Baby ek mis jou” gehad het, maar nou is hy eindelik gereed om ’n indruk as solosanger te maak.

Sy eerste enkelsnit, “Die wildernis”, is ’n snit vanaf sy soloalbum, Refleksies, en anders as in die verlede het hy vorendag gekom met ’n meer volwasse en kontemporêre klank. “Die wildernis”, wat hy saam met die medevervaardiger van die album Sean Butler geskryf het, vertel van hoop en liefde; ’n tema wat soos ’n goue draad deur die album loop. Die snit gaan oor die avonture van die lewe; dat jy altyd meer kan leer en kan bereik as daar iemand is wat die avontuur saam met jou aanpak. Om in die wildernis te verdwaal, sê hy, is om jouself te vind. Daar is net regte instrumente op die album en geen elektroniese byklanke nie.

Abel besef dat dit moeilik in die musiekbedryf gaan, maar hy hoop dat die album ’n verskil in mense se lewens sal maak. Al sou hy net tien mense se lewens verander, sou dit vir hom die moeite werd wees.

Daarby het hy ook ’n verrassing deurdat hy binnekort ’n verskyning in die SABC 2-sepie 7de Laan gaan maak. Hy wil egter nog niks meer verklap nie. Die eerste episode waarin hy te sien sal wees, word op 25 September uitgesaai.

Comments are closed.

error: Content is protected !!